Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsintegriteit-studie kry internasionale erkenning
Outeur: Liezel Engelbrecht
Gepubliseer: 18/09/2017

​Navorsingsrapportering in lae- en middelinkomstelande (LMIL'e) het onlangs in die wêreldkollig beland toe me Anke Rohwer, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGS), nie net haar PhD-projek oor die onderwerp op ʼn internasionale verhoog aangebied het nie, maar ook ʼn toekenning daarvoor ontvang het.

Rohwer het haar loopbaan as ʼn verloskundige begin, maar van koers verander toe sy kliniese epidemiologie aan die US begin studeer het. Sy werk sedert 2011 by die SBGS. Haar werk oor navorsingsintegriteit as deel van die Effective Health Care Research Consortium is erken toe sy vroeër vanjaar in Nederland met een van die toekennings vir uitnemendheid in doktorale navorsing by die Wêreldkongres oor Navorsingsintegriteit vereer is.

Haar PhD-projek fokus op integriteit wanneer oor gesondheidsnavorsing gerapporteer word. “Ek verken persepsies en ervarings rondom plagiaat, belangekonflik en outeurskap onder gesondheidsnavorsers van LMIL'e," verduidelik sy.

Die projek behels vyf fases en is steeds aan die gang. “Sodra dit voltooi is, sal ek die bevindings saamvoeg om prioriteite voor te stel vir verdere aktiwiteite met betrekking tot navorsings- en kapasiteitsontwikkeling om navorsingsintegriteit in LMIL te bevorder. Die meeste navorsing oor navorsingsintegriteit is van hoëinkomstelande afkomstig. Maar die onderwerp raak al hoe belangriker in LMIL, omdat navorsers aan wêreldstandaarde moet voldoen."

Sy hoop om met haar navorsing bewustheid van navorsingsintegriteit te verhoog, asook om gesprekvoering oor die onderwerp onder navorsers op ʼn departementele en institusionele vlak aan te moedig. “Ek wil navorsers ook aanmoedig om intervensies te ondersoek waarmee van die probleme in LMIL'e aangepak kan word."

Die Wêreldkongres oor Navorsingsintegriteit is vanjaar vir die vyfde keer gehou. Dit is ʼn internasionale inisiatief wat in 2007 begin is om goeie navorsingspraktyke te bevorder. “Hierdie toekenning laat my nederig en geëerd voel. Dit beteken regtig vir my baie dat navorsing uit LMIL erken word. Die aandag is dikwels op navorsing uit ontwikkelde lande," sê Rohwer. 

“Dit het my gemotiveer om met die finale fase van my PhD vol te hou."

Rohwer het ook haar waardering uitgespreek vir die voortgesette mentorskap en ondersteuning van haar toesighouers, prof Taryn Young, prof Paul Garner en dr Liz Wager.

Onderskrif: Anke Rohwe