Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontmoet Lwando Nkamisa, die Universiteit Stellenbosch se nuwe SR-voorsitter
Outeur: Sonika Lamprecht
Gepubliseer: 14/09/2017

​​Die nuutverkose Studenteraadsvoorsitter, Lwando Nkamisa, sal graag wil sien dat die Universiteit Stellenbosch (US) se student as 'n gemeenskap saam kom – en saam vooruitgaan.

Lwando, 'n meesterstudent in Landbou-ekonomie, is Woensdagaand (13 September) vanuit SR-geledere as voorsitter verkies.

Die 25-jarige het in 'n klein Oos-Kaapse dorpie genaamd Nontshinga grootgeword. Hy het aan die Senior Sekondêre Skool Uviwe gematrikuleer voordat hy sy voorgraadse studies in Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Fort Hare voltooi het. Hy het in 2016 na die US gekom.

Hy was aktief betrokke by studente organisasies en het gedien as voorsitter van DASO (Demokratiese Alliansie Studente Organisasie) Stellenbosch vir die 2016/2017 termyn.

Lwando het groot planne vir die jaar wat voorlê. “Ons grootste uitdaging hierdie jaar sal wees om die student-gemeenskap te integreer en te verenig. Ons moet ons kampusse verenig sodat studente by Saldanha en Tygerberg voel dat hulle ook deel is van een student-liggaam. As studente moet ons met mekaar praat en na mekaar luister, sodat ons mekaar kan leer ken – ons verskille en wat ons in gemeen het."

Sy grootword jare in 'n arm, maar hegte gemeenskap, het Lwando deursettingsvermoë geleer, en ook om elke geleentheid wat oor jou pad kom aan te gryp. “In die hoërskool was daar nie genoeg handboeke vir al die leerders nie en ons moes boeke deel, soms tot tien per boek. So ons het studiegroepies gevorm en mekaar gehelp, en almal het geslaag. Saam was ons beter."

Lwando skryf sy sukses toe aan die vele mense wat hom regdeur sy lewe ondersteun het. “Dit verg 'n gemeenskap om 'n kind groot te maak, en daarom is hierdie sukses nie net my eie nie. Wanneer ek in Desember huis toe gaan, gaan my hele dorpie dit saam met my vier – ons deel in mekaar se swaarkry en sukses. Daarom wil ek hulle trots maak."

Dit is hierdie gevoel van gemeenskap wat Lwando graag onder US studente sou wou sien. “'n Gemeenskap is simpatiek, vergewensgesind, ondersteunend, menslik en het begrip vir mekaar se omstandighede. Ons moet ophou om ons blind te staar in stereotipes en begin om die mens raak te sien."

Sommige van die gebiede waarop die SR, in samewerking met ander universiteitstrukture, sal wil verbeter is vervoer en die finansiële en sielkundige ondersteuning vir studente.  “Ons moet innoverende maniere vind om hierdie uitdagings aan te spreek, en ons moets saam werk om oplossings te vind."

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanslier van die US, het die nuwe studenteleiers namens die universiteitsbestuur geluk gewens: “My hartlike gelukwense aan Lwando Nkamisa, die nuwe SR-voorsitter en die ander SR-lede met hul verkiesing. Hoëronderwys het ʼn belangrike bydrae om te lewer in ons land, maar ons word deur aansienlike uitdagings in die gesig gestaar. Studente het ʼn sleutelrol om te speel, en studenteleiers is daar om hul belange te verteenwoordig. Ek sien uit daarna om met die nuwe SR saam te werk. Hulle is medereisigers op die Universiteit Stellenbosch se reis die toekoms in."

“Lwando is goed geplaas vir sy rol. Hy is ʼn nagraadse student in ʼn studieveld wat onontbeerlik vir ontwikkeling en groei in ons land is, en beskik oor die nodige volwassenheid om ons studenteliggaam op hierdie tydstip te lei sodat ons saam vorentoe kan gaan."

 Foto: Anton Jordaan