Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie nuwe uitstallings by die Stellenbosch Universiteitsmuseum
Outeur: Ulrich Wolff
Gepubliseer: 25/05/2017

Die Stellenbosch Universiteitsmuseum het drie nuwe uitstallings – al drie fokus op kunstenaars of versamelings uit die US Museum se argief wat 'n lang tyd nie te sien was nie.

Die eerste is 'n uitstalling van werke deur Oskar Kokoschka (1886–1980). Kokoschka was 'n Oostenrykse kunstenaar wat bekendheid verwerf het vir sy ekspressionistiese skilderye, veral portrette en landskappe. Die uitstalling bevat die Marrakesh‑reeks uit die Universiteitversameling – dit is 'n reeks litografieë wat Kokoschka gemaak het ná 'n besoek aan Marokko in 1965. Oskar Kokoschka se werk is kenmerkend van die vroeë 20ste-eeuse Duitse Ekspressionisme en hy word onder die grootste moderne kunstenaars van die Oostenrykse skool gereken. Oskar Kokoschka se kunswerke word in verskeie van die wêreld se grootste kunsmuseums verteenwoordig.

Die tweede is 'n uitstalling van kunswerke deur Nel Erasmus (1928- ). Nel Erasmus is bekend as een van Suid‑Afrika se vroegste abstrakkunstenaars. Sy het beeldende kunste aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) studeer en het in die vroeë 1950s tyd in Frankryk deurgebring, waar haar werk deur die naoorlogse abstraksie in Parys beïnvloed is. Sy het aan die Académie Ranson, die École des Beaux‑Arts en die Sorbonne studeer en haar werk die eerste keer in 1955, in Parys, uitgestal. Haar eerste solo-uitstalling in Suid‑Afrika was in 1957 en sedertdien het sy uit alle oorde lof vir haar werk in meer as 30 solo-uitstallings ontvang. Hierdie uitstalling spog met 'n versameling kunswerke uit verskillende tydperke van haar loopbaan, wat ons die gulde geleentheid bied om haar artistieke ontwikkeling van die eerste kubisme-geïnspireerde werke uit die 1950's tot by haar energieke figuratiewe skilderkuns en tekene uit die 1980s en 1990s na te speur. Nel Erasmus is in haar laat tagtigerjare en skilder steeds.

Die laaste van dié drie uitstallings by die US Museum is die Johannes Meintjes-versameling. Johannes Meintjes (1923-1980) studeer skilderkuns onder Florence Zerffi en was ook 'n produktiewe skrywer – sy oeuvre sluit in romans, essays en toneelstukke, sowel as geskiedkundige materiaal oor Suid-Afrika. Sy vrou Ronell, wat in 1996 oorlede is, het altesaam 80 skilderye aan die US Museum bemaak. Daar is 'n sterk verbintenis tussen Meintjes en Maggie Laubser – as jongmens het Meintjes 'n bewonderaarsbrief aan haar geskryf, waarna daar 'n lewenslange vriendskap tussen die twee ontwikkel het. Op die jong ouderdom van 21 publiseer Meintjes 'n boek oor Maggie Laubser, nadat hy 'n BA-graad aan die Universiteit van Kaapstad behaal het. Sy skilderye word nou op gepaste wyse in dieselfde saal uitgestal waar Maggie Laubser se werk vantevore uitgestal is. Hierdie drie uitstallings kan tot einde Augustus 2017 besigtig word.

Die US Museum is te Ryneveld Straat 52, Stellenbosch, geleë. Die Museum is oop van Maandag tot Saterdag, vanaf 09:00 tot 16:30, maar is op Sondae en openbare vakansiedae gesluit. Toegang tot die Museum is gratis.