Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Venda-familie vier doktorsgraad in biochemie
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 23/03/2017

Dr Ndivhuwo Mureni, ’n oud-leerder van LTT Murunwa Privaatskool in Louis Trichardt, moes meer as een hindernis oorkom voordat sy haar PhD in biochemie by die Universiteit Stellenbosch op Donderdag 16 Maart 2017 verwerf het.

“Ndo livhuwa mma na baba (‘Dankie ma en pa’). Ek is so dankbaar vir jul liefde en ondersteuning deur al die jare,” was haar boodskap aan haar familie wat meer as 1800 kilometers ver gereis het vanaf die plattelandse gehuggie, Ha-Maelula, sowat 30 kilometer duskant Louis Trichardt, om haar gradeplegtigheid by te woon.

Dit het Ndivhuwo ’n baie moeilike twaalf jaar geneem om hierdie mylpaal te bereik. Behalwe vir die aanvanklike aanpassing vanaf die platteland en om in ‘n derde taal te studeer, was sy boonop gedurende die laaste jaar van haar MSc studies die slagoffer van ‘n tref-en-trap ongeluk.

“Dit was regtig moeilik om te aanvaar dat iemand my vir dood langs die pad gelos het,” sê sy. Daarmee saam moes sy ook die dood van beide haar oumas én 'n broer binne twee jaar verwerk.

Maar haar deursettingsvermoë om haar studies te voltooi word duidelik as sy vertel hoekom sy uiteindelik op biochemie as vakrigting besluit het: “As voorgraadse student het ek die meeste met biochemie gesukkel. Gevolglik het ek baie meer daarop begin fokus en dit het daartoe gelei dat ek dit beter begin verstaan het en uiteindelik vir ‘n BSc Honneursgraad in biochemie toegelaat is.”

Haar studieleier, prof. Erick Strauss, en medestudente soos dr. Lizbé Koekemoer en dr. Ilse Rootman-le Grange, het haar toe aangemoedig om met ‘n MSc en PhD voort te gaan.

Prof. Straus het vandag net lof vir hierdie student wat vyf jaar geneem het om haar BSc-graad klaar te maak, maar haar PhD tesis in net vier jaar voltooi het!

Hy sê die eksterne eksaminators het haar PhD tesis as “’n belangrike en oorspronklike bydrae tot wetenskaplike kennis” beskryf, en dat sy “diepgaande wetenskaplike kennis” van die onderwerp getoon het.

Ndivhuwo se droom is om meer vroue aan te moedig om ‘n loopbaan in die natuurwetenskappe te volg: “Ek hou baie van navorsing, veral om middels te ondersoek wat teen malaria en ander infeksies gebruik kan word. Ek geniet dit om te probeer verstaan hoe verskillende patogene die liggaam affekteer en hoe die immuunstelsel daarteen veg. My navorsing in biochemie laat my toe om te doen waarvan ek regtig hou."

Sy sit tans haar navorsing voort as ’n nadoktorale genoot in die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap.

Ndivhuwo is veral dankbaar teenoor haar man, Nnditsheni Tshililo, en haar jonger susters Mulalo en Mulavhelesi, asook haar twee broers, Maanda en Magidi. Sy meld ook haar hoërskool wiskunde onderwyser, mnr. Mudau, en die US se Prof. Marina Rautenbach wie haar gemotiveer het toe sy nog as ‘n voorgraadse student gesukkel het om die mas op te kom.

Haar raad vir leerders en ander voorgraadse studente wat soortgelyke uitdagings in die gesig staar?

“Droom, maar wees geduldig, maak nie saak hoe moeilik of onmoontlik die lewe blyk te wees nie. Konsentreer op jou studies. Daar is baie dinge wat jou aandag kan aflei maar dit is van kortstondige waarde. Dit neem langer om ’n droom te verwesenlik, maar dit is beslis die moeite werd.”

Ndivhuwo is nie die eerste lid van dié familie om ‘n graad aan die US te verwerf nie. Haar oom, prof. Philip Kutame, het in 2004 sy B.Phil graad verwerf.

Op die foto: Hierdie Venda familie het 1800 kilometer ver gereis om by te wees wanneer hul geliefde, Dr Ndivuwho Muneri (nou Tshililo), haar doktorsgraad in biochemie van die Universiteit Stellenbosch verwerf. Weerskante van haar staan haar ouers, Sylvia en Thomas Muneri, en langs hom is haar skoonsuster, mev. Khumbudzo Muneri. Agter is haar oom en US alumnus prof. Philip Kutame, haar man, mnr. Nnditsheni Tshililo, en haar broer, mnr. Maanda Muneri. Foto: Stefan Els