Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Groter diversiteit deur sport

Die Universiteit Stellenbosch is bekend vir uitnemendheid in sport, en ʼn groot trekpleister vir sportmanne en -vroue uit diverse agtergronde. Sport bied veral aan talentvolle jongmense in arm gemeenskappe die geleentheid om bo hul omstandighede uit te styg. Dit verbeter nie net baie Suid-Afrikaners se lewensomstandighede nie, maar help ook om verskillende rassegroepe in ʼn eenheid saam te snoer. Sport word daarom as instrument gebruik om  die Universiteit se studenteprofiel te help diversifiseer, maar is ook 'n instrument waardeur die Universiteit sy betrokkenheid by Stellenbosse gemeenskappe uitleef.

 Sportbeurse word aan belowende jong sportlui toegeken en hulle woon ook sportklinieke en -kampe by. Hierdie sportmanne en -vroue word akademies ondersteun en as spelers ontwikkel om te verseker dat hulle gereed is om aan die US te studeer, en hul studies suksesvol te voltooi.

 Vier sportverwante eenhede –  die Department Sportwetenskap; die Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskap; Maties Sport en die Stellenbosse Sportprestasie Instituut (SUSPI) – werk saam om sportverwante doelwitte te bereik.

 Voorts investeer die US in sport vir sportlui met gestremdhede en is dit die opleidingsentrum vir die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span. Die ondersteuning wat aan atlete van die Maties Helderberg Disability Sport Club gebied word het daartoe bygedra dat hulle by die 2012 Paralimpiese Spele gesorg het vir 59% van die 29 medaljes wat die nasionale span verwerf het.