Kantoor van die
Universiteit Stellenbosch Ombud
Adv Rina Meyer
ombudsman@sun.ac.za
082 807 2994
Ryneveldstraat 34, Stellenbosch
Vir afsprake: Grace Bruintjies:
graceb@sun.ac.za/ tel no. 021 883 9128 (weens
COVID-19-beperkings is hierdie nommer tans nie beskikbaar
vir die reël van afsprake nie)
Die Universiteit Stellenbosch het besluit om gebruik te maak van 'n ombudsman wat volkome onafhanklik optree. Hierdeur het die Universiteit 'n kanaal geskep waarlangs gepaste aandag gegee kan word aan alle probleme en klagtes wat van die kant van sy studente, studente-ouers of personeel geopper word, wat die bestaande universiteitstrukture nie bevredigend langs die normale kanale kan hanteer nie, óf waarvoor hierdie strukture om watter rede ook al ontoereikend is blykens genoegsame motivering soos voorgelê deur die klaer of klaers.
'OMBUD' – WAT BETEKEN DIT?
Die term 'ombudsman', 'ombudspersoon' of 'ombud' (afgelei van 'om budz man' – Sweeds vir 'beskermer van die burgers') verwys na 'n persoon wat individue of groepe help om konflik en kwellings te hanteer. Die Kantoor van die Ombud aan die Universiteit Stellenbosch (US) is 'n onafhanklike, neutrale en vertroulike ruimte waar mense hulle kwessies en kwellings wat met die Universiteit verband hou, kan kom opper. Die US Ombud is 'n onafhanklike persoon wat aangestel is om die informele bylegging van kwellings rakende die Universiteit te fasiliteer. Die Ombud ondersoek ook dikwels klagtes en pogings om dit op te los, gewoonlik by wyse van gesprekvoering, bemiddeling en aanbevelings.
Kyk na meer >
WAT IS DIE OMBUD SE ROL BINNE DIE
UNIVERSITEIT STELLENBOSCH?
Die Ombud vervang nie bestaande Universiteitstrukture nie; inteendeel, die Ombud se rol komplementeer en vul daardie strukture aan. Daarom moet klaers eers die normale US-prosedures uitput voordat hulle die Ombud betrek. Slegs as daar 'n redelike tydperk verstryk het sonder dat die probleem opgelos is, mag klaers hulle tot die Ombud wend. Indien die beskikbare kanale nie behoorlik benut is nie, sal die Ombud die betrokke klaers na daardie kanale terugverwys.
Waar die Kantoor van die US-ombud geleë is: Ryneveldstraat
WAT IS DIE KERNBEGINSELS VAN DIE OMBUD SE ROL?
Onafhanklikheid en neutraliteit
Funksioneer onafhanklik van Universiteitstrukture
Objektiwiteit en onpartydigheid
Hoor alle partye se verhale en oogpunte aan
Informaliteit
Verg geen formele strukture nie
Vaardigheid en doeltreffendheid
Fasiliteer vinniger probleemoplossing
Vertroulikheid
Sal niemand se identiteit sonder hulle toestemming bekendmaak nie
Gelykheid en regverdigheid
Fokus op die hoofvraag: Het geregtigheid geskied?
Menswaardigheid
Hanteer alle partye met waardigheid
HOE KAN DIE KANTOOR VAN DIE OMBUD HELP?
Hoor kwelvrae aan en help om dit op te klaar.
Bied 'n veilige en vertroulike forum waar probleme gelug kan word.
Ontleed die probleem en wys uit watter moontlikhede tot die klaer se beskikking is.
Sit uiteen watter kanale gevolg sou kon word.
Verskaf neutrale advies en hou sake vertroulik.
Bespoedig aangeleenthede waarmee onbillik gesloer is.
Verwys klaers na ander afdelings wat beter geskik is om die tersaaklike kwessie te bemiddel.
Help om onderliggende kwessies uit te wys.
Ondersoek verskillende moontlikhede, deur formele sowel as informele kanale.
Help partye om geskille by te lê.
Maak voorstelle oor hoe dinge kan verander.
Ingang na die Kantoor van die US-ombud, met me Bruintjies, die administratiewe beampte
WATTER RISIKO'S IS BETROKKE AS DIE OMBUD GERAADPLEEG WORD?
Geen. Die Universiteit waarborg dat niemand aan vergelding, diskriminasie of viktimisering onderwerp sal word as gevolg daarvan dat hulle die Ombud se hulp ingeroep het nie. Ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika is elke persoon geregtig op privaatheid, toegang tot inligting, administratiewe optrede wat regverdig is, ensovoorts. Die Universiteit en die Kantoor van die Ombud handhaaf hierdie regte.
WAT IS DIE VOORDELE VAN ’N OMBUDKANTOOR?
’n Universiteit baat op verskeie maniere daarby om ’n ombudkantoor te hê. Sommige hiervan is vervat in die volgende dokument wat op die webwerf van die Internasionale Ombudsmanvereniging (IOA) verskyn.
Read more >
HOE MELD 'N MENS 'N KLAGTE OF KWELLING BY DIE US OMBUD AAN?
Persone wat ʼn klagte of kwelling aan die Ombud wil voorlê, moet asseblief die Ombud Innamevorm invul.Innamevorms is ook by me Grace Bruintjies verkrygbaar – óf as ʼn elektroniese dokument (by graceb@sun.ac.za) óf in gedrukte vorm.
Stuur asseblief ʼn e-pos aan me Bruintjies om ʼn afspraak met die Ombud te maak.
Dringende aanmeldings kan by ombudsman@sun.ac.za of 082 807 2994 gedoen word.