Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nelson Rolihlahla Mandela (1918 - 2013)

​​​​​​​​​​​

​​​US huldig ikoon van bevryding & versoening

"Die beste manier om Oud-President Nelson Mandela se lewe te vier, is om sy nalatenskap te laat voortleef in toekomstige geslagte Suid-Afrikaners wat nie soos ons die voorreg sal hê om sy lewende voorbeeld te ervaar nie. Ons eer 'n groot leier, 'n merkwaardige staatsman en ikon van bevryding en versoening. Suid-Afrika, ons kontinent en die wêreld het vandag 'n rolmodel en simbool van etiese leierskap verloor. Ons is dit aan hom verskuldig dat Suid-Afrikaners nooit mag vergeet wat hy in belang van geregtigheid en vryheid opgeoffer het nie,"  sê prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch  in reaksie op die nuus van Oud-President Nelson Mandela se afsterwe.

(Klik hier​ vir 'n meningsartikel deur prof Botman oor Oud-President Nelson Mandela as rolmodel.)

Prof Botman het sy medelye uitgespreek teenoor die Mandela-familie en mev Graca Machel. "Ons land se mense is mev Machel baie dank verskuldig vir haar ondersteunende rol in die tydperk nadat hy uit die gevangenes vrygelaat is. Toe Madiba nog in die openbare lewe betrokke was, was dit opvallend hoe sy altyd sorgsaam in die agtergrond daar was om hom by te staan."

"Vir ons land se jongmense en ons kampus se studente is daar kwalik 'n beter voorbeeld as Oud-President Mandela. Moeilike omstandighede het hom nie gekeer om sy studies te voltooi nie en hy het beginselvas sy lewe gewy aan demokrasie en geregtigheid, selfs toe dit tot sy eie nadeel was. Sy lewe is gekenmerk deur respek vir en verdraagsaamheid teenoor mense se standpunte, taal, kultuur en godsdiens – 'n lewensingesteldheid wat ons ook op Stellenbosch navolg," het prof Botman gesê. "Hy het 'n sleutelrol gespeel in die samestelling van ons land se Grondwet, en net soos hierdie Grondwet, het hy 'n brug gebou tussen ons verdeelde verlede en ons gedeelde toekoms."

Met die toekenning van die graad D Phil (Doktorsgraad in die Wysbegeerte) honoris causa aan President Nelson Rolihlahla Mandela op 25 Oktober 1996, het die Universiteit Stellenbosch erkenning verleen aan die man wat 'n 'lewende simbool geword het van bemagtiging deur studie, van vrede en versoening deur onderhandeling, en van respek vir daardie waardes wat 'n regverdige en menslike samelewing moontlik maak'.

Lees voormalige president Mandela se toespraak wat hy in Afrikaans gelewer het nadat hy sy eregraad in 1996 ontvang het. 

​Uittreksels uit die Commendatio

Hieronder volg verkorte uittreksels uit die commendatio wat in 1996 by die verlening van sy eregraad voorgelees is:

"Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika van 1993 eindig met slotwoorde oor 'Nasionale Eenheid en Versoening'. Die eerste twee paragrawe van hierdie slotwoorde bevat n treffende samevatting van die verlede, en van 'n toekomsstrewe waarmee hierdie Universiteit hom volledig assosieer:

"Hierdie Grondwet bou 'n geskiedkundige brug tussen die verlede van 'n diep verdeelde gemeenskap wat gekenmerk is deur tweespalt, konflik, ongekende lyding en ongeregtigheid, en 'n toekoms wat gevestig is op die erkening van menseregte, demokrasie en vreedsame naasbestaan en ontwikkelingsgeleenthede vir alle Suid-Afrikaners, ongeag kleur, ras, geloof of geslag.

"As deel van hierdie Universiteit – een van die drie oudste universiteite in die land – se vele bydraes tot hierdie historiese wending in ons geskiedenis, vereer ons vanaand die besondere rol wat 'n man uit n klein dorpie in Transkei in die Oos-Kaap gespeel het in die verwesenliking van daardie wending.

"Nelson Rolihlahla Mandela is op 18 Julie 1918 op Qunu naby Umtata gebore. Sy vader, Henry Mgadla Mandela, was 'n hoofraadgewer van Opperhoof David Dalindyebo. Ná sy vader se dood het die opperhoof verantwoordelikheid vir die opvoeding van die jonge Mandela aanvaar. Komende uit 'n leidende familie is van hom verwag om n tradisionele leier te word.

"Die lewensverhaal van die jongman uit Qunu het egter anders verloop. Hy is vandag nie as tradisionele leier bekend nie, maar as die demokraties verkose president van die Republiek van Suid-Afrika.


Nelson Rohlihlala Mandela

'First Step to Freedom'
Kunstenaar: Jeff Mwazha

Die draadkunswerk is te sien by The Rainbow Experience, 'n bestemmingswinkel in Mandela Rhodes Place, Waalstraat, Kaapstad.  The Rainbow Experience stel die kreatiwiteit van die Suid-Afrikaanse reenboognasie ten toon en werk nou saam met die Mandela Rhodes Stigting deur die kollig te plaas op oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap van leierskap en opvoeding.  Die Universiteit Stellenbosch het in 1996 'n eredoktorsgraad aan dr Mandela toegeken. ​​


"Dit is 'n lewensverhaal wat nie sonder baie trauma en pyn was nie. Dis egter die verhaal van 'n man wat met visie een van die mees merkwaardige mense van ons eeu geword het. Die man uit Qunu is nie net die staatshoof van Suid-Afrika nie. Hy is ook iemand wat wêrelwyd vir sy morele leierskap gerespekteer word. Vir miljoene mense dwarsoor die wêreld is hy vandag die lewende simbool van bevryding en versoening.

"Hierdie status het hy bereik onder andere deur 'n onblusbare toewyding aan studie as 'n manier om homself te bemagtig. Hy verlaat die Oos -Kaap vir Johannesburg waar hy sy universiteitstudie deur middel van korrespondensiekursus voortsit. In 1942 ontvang h
y die BA-graad van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).

"Onder baie moeilike finansiële en ander omstandighede begin hy in dieselfde jaar met 'n klerkskap by 'n prokureursfirma. Ondanks 'n vroeë betrokkenheid by die politiek bly hy 'n student. Hy skryf selfs by die Universiteit van die Witwatersrand vir die LL B-graad in.

"In latere jare tydens sy gevangeneskap op Robbeneiland en elders word hy bekend vir sy intellektuele en liggaamlike dissipline. Ook hier gee hy die ideal van ontwikkeling deur studie nie prys nie. Hy skryf weereens vir  LL B in, nou by Unisa, en ontvang sy graad in absentia in 1989.

"Sy toewyding aan onderwys en veral selfstudie, selfs onder uiters moeilike omstandighede, maak van hom 'n rolmodel vir alle dosente en studente. Dit is hierdie oortuiging wat hom reeds tien jaar voor sy inhegtenisname laat sê het: "Maak van elke huis, elke krot, elke bouvallige struktuur 'n plek van onderwys".

"Februarie 1990 het Suid-Afrika op 'n nuwe pad geplaas. Dit het die wêreld vir Suid-Afrika laat oopgaan. En, belangrik vir alle akademici, het dit vir akademiese en wetenskaplike instellings weer moontlik geword om wêreldwyd toegang te verkry en sodoende hulle volle bydrae tot ons land se ontwikkeling te lewer.​
"Mandela se optrede in die veranderings- en onderhandelingsproses is ongetwygeld ​ook beïnvloed deur die gees van die regswetenskap waarin hy opgelei is. Vanaf die dag toe hy en Oliver Tambo die eerste swart prokureursfirma in die land in 1952 begin het, wou hy in sy beroep professioneel optree en aan die ideale van die  regsgeleerdheid getrou bly. In die turbulente politieke omstandighede van die jare vyftig was dit beslis nie maklik nie.

"En die liefde vir sy land blyk nêrens duideliker as in sy eie woorde nie: 'And wherever I travel, I immediately begin to miss the familiar – the mine dumps, the colour and smell that is uniquely South Africa, and above all, the people. I do not like to be away for any length of time. For me, there is no place like home".

‘Opvoeding is die kragtigste wapen wat ’n mens kan gebruik om die wêreld te verander


'As jy met ’n man praat in ’n taal wat hy verstaan, raak dit sy kop. As jy met ’n man in sý taal praat, raak dit sy hart​'

Madiba besoek Stellenbosch in 1994

President Nelson Mandela het Stellenbosch op 26 September 1994 besoek, vyf maande na Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994. Verskeie berigte oor sy besoek is in die weeklikse dorpskoerant, Eikestadnuus, gepubliseer:​

Eregraad 1996 ​


Die Universiteit Stellenbosch het op 25 Oktober 1996 die graad Doktor in die Wysbegeerte honoris causa aan voormalige President Nelson Mandela toegeken. Bo​ van links: prof Andreas van Wyk, 'n vorige Visekanselier van die US; dr Sibusiso Bengu, destyds die Minister van Onderwys; die destydse Kanselier, dr Jan van der Horst en mnr Gys Steyn, die Raadsvoorsitter.​

Eregraad vir Graça Machel ​​​​in 2008

 

Voormalige President Nelson Mandela het die gradeplegtigheid bygewoon toe sy eggenote, me Graça Machel​ en Arthur Chaskalson (links), wêreldbekende regskenner, die eerste President van die Konstitusionele Hof en later ook Hoofregter van Suid-Afrika; en prof Vic Goedseels (regs).


Voormalige President Mandela en prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch by die gradeplegtigheid in Maart 2008. ​

SU alumnus donates Freedom Flag to SA government​


​Lees Meer >

Oil painting of Nelson Mandela
by Marc Alexander

www.marcalexanderart.com