Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​

Die tyd het aangebreek om ons diversiteit te vier. Ons is oortuig die Universiteit Stellenbosch se kaleidoskoop mense en idees maak ons sterker – daarom hierdie geleentheid van 30 September tot 4 Oktober 2013.

Ons gee met 'n rits opwindende aktiwiteite uitdrukking aan die ideaal van inklusiwiteit. Hoogtepunte sluit in optredes deur Die Heuwels Fantasties, DJ Fresh en Marc Lottering, sowel as die Maties Sêr wenners. En ons sluit ons viering af met ʼn groot partytjie – ons eie "Fees van Kleure".

Kyk gerus na die program (volg skakel hieronder) vir meer inligting oor al die aktiwiteite waaraan jy kan deelneem – insluitend 'n videokompetisie vir koshuise en PSO's, met lekker pryse – en gebruik #MatiesDiversity op Twitter en Facebook.

Die aankoms op kampus vroeër vanjaar van ons eerste "vrygebore" studente – jongmense wat sedert die 1994-verkiesing gebore is – het die kollig opnuut laat val op die strewe om in ons verskeidenheid verenig te wees. As jy in hierdie kategorie val, skryf in vir die blog-kompetisie, of kom gesels eenuur Maandagmiddag 30 September met my op die Rooiplein. Ek wil graag hoor wat jy dink.

Diversiteit is een van die hoekstene van die Universiteit se nuwe Visie 2030. Ons wil meer inklusief word, en ons doen dit deur toegang tot Maties te verbreed en ʼn verwelkomende kultuur te kweek. Ek wil graag voorstelle by personeellede en studente kry oor hoe ons ons inklusiwiteit kan verbeter. Kom drink Woensdag 2 Oktober tussen elf- en eenuur ʼn koppie koffie saam met my op die Rooiplein.

Die US pluk reeds die vrugte van diversiteit. Ons is trots dat ons nie net 'n kennisverskaffer is nie, maar ook ons studente toerus om in die konteks van ons land en vasteland te funksioneer.

Sien jou daar!

Prof H Russel Botman
Rektor en Visekanselier

Cofa apha ufunde umyalezo ngesiXhosa 


​​