Hy gee klas in Latyn en Klassieke Studie by die US en ontvang later ’n Rhodes-beurs, waarmee hy aan die Universiteit van Oxford die grade BA in die Regswetenskap sowel as Baccalaureus in Siviele Reg behaal. Cameron verwerf in 1978 sy LLB-graad aan die Universiteit van Suid- Afrika (Unisa). Van 1983 tot 1994 praktiseer hy aan die Johannesburgse balie. Vanaf 1986 is hy boonop ’n menseregteprokureur by die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Toegepaste Regstudie (Cals), waar hy as professor in die regsgeleerdheid aangestel word. Sy praktyk sluit in arbeids- en diensreg, die verdediging van lede van die African National Congress wat van verraad aangekla is, gewetens- en geloofsbeswaardes, grondbesit en gedwonge verskuiwings, sowel as gay- en lesbiërgelykheid.
Hy help skryf en beding vanaf 1988 die mynbedryf se eerste omvattende vigsooreenkoms met die Kamer van Mynwese, en is terselfdertyd medeskrywer van die Handves van Regte oor Vigs en MIV. Boonop is hy medestigter van die Vigskonsortium, ’n nasionale vereniging van nieregeringsorganisasies op die terrein van vigs, waarvan hy vir die eerste drie jaar as voorsitter dien. Cameron was ook die stigter en eerste direkteur van die Aids Law Project. Met die skryf van die Grondwet in 1994 is hy oorhoofs verantwoordelik vir die gay- en lesbiërbeweging se voorleggings aan die veelpartyonderhandelingsforum in Kempton Park. Dít loop uit op die insluiting van ’n bepaling oor respek vir alle persone se seksuele oriëntasie by die finale Grondwet – die eerste ter wêreld.
Wyle president Nelson Mandela verleen in September 1994 aan Cameron die status van senior consultus (senior advokaat), en hy word as waarnemende regter in die hooggeregshof aangestel. Hy neem van 1999 tot 2000 op versoek van wyle hoofregter Arthur Chaskalson as regter in die Konstitusionele Hof waar, word in 2001 in die Hoogste Hof van Appèl aangestel, en in 2009 in die Konstitusionele Hof. Hy word as ’n “regsgeleerde van die eerste rang” beskryf, en was ’n kernlid van die progressiewe vleuel van die Konstitusionele Hof.
As die eerste Suid-Afrikaner in ’n hoëprofiel- openbare amp wat openlik oor sy MIV-status en ervaring van antiretrovirale behandeling praat, lewer Cameron ’n geloofwaardige en uiters belangrike bydrae om dié behandeling toegankliker te maak vir alle Suid-Afrikaners wat met MIV leef.
Sy internasionale impak as topregsgeleerde met bykans 200 gepubliseerde uitsprake agter sy naam, gerekende outeur en gewilde spreker blyk duidelik uit die verskeidenheid toekennings en pryse wat hy al ontvang het, onder andere die Nelson Mandela-toekenning. Ander eerbewyse sluit in erkenning van die Engelse en Walliese balie vir sy bydrae tot die internasionale regswetenskap en die beskerming van menseregte, en die prestigeryke toekenning Grand Prix du Conseil Québécois des Gais et Lesbiennes wat in Montreal aan hom verleen is.
Sy benadering tot moeilike omstandighede berus op twee beginsels waaraan hy groot waarde heg: integriteit en voorbereiding. Hy het die Suid-Afrikaanse reg help ontwikkel sodat dit die grondliggende waardes van die Grondwet getrou weerspieël, en is ’n belangrike rolspeler in die Suid-Afrikaanse en internasionale reg.
Hy is die jongste van drie kinders, met twee ouer susters, Laura en Jeanie. Die oudste, Laura, is tragies oorlede nadat ’n afleweringswa haar as kind in Pretoria raakgery het. Cameron gee Jeanie die eer daarvan dat sy hom help vorm het tot wie hy vandag is. Hy het sy lewensmaat, Nhlanhla Mnisi, in 2015 ontmoet.