Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aansoeke oop vir gratis aanlyn kortkursus in “Antisiperende Regeringspraktyk: Nuwe maniere van sin maak en navigeer vir onsekerheid”

​Aansoeke oop vir gratis aanlyn kortkursus in “Antisiperende Regeringspraktyk: Nuwe maniere van sin maak en navigeer vir onsekerheid”

Die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (CST), in samewerking met USAID se ‘Resilient Waters’-program in Suider-Afrika, het hulle aanlyn kortkursus, “Antisiperende Regeringspraktyk: Nuwe maniere van sin maak en navigeer vir onsekerheid” weer bekend gestel. Die kursus, wat teen jou eie pas afgehandel kan word, is tot en met 31 Januarie 2024 gratis op UNESCO se Open Learning-platform beskikbaar.

Hierdie kursus put uit die kundigheid van die CST se navorsers op die gebied van voorsorg- en toekomsgeletterdheid, sosio-ekologiese veerkragtigheid en komplekse aanpassingstelsels. Dit lig die benaderings en instrumente uit wat gebruik kan word om te verken hoe om staatskapasiteit vir verkenning, verbeelding en beplanning vir verandering en onsekerheid aan te kweek. Dit stel die konsep van antisiperende regeringspraktyk bekend as een benadering tot die hantering van kompleksiteit en toekomsonsekerheid, deur in die hede te regeer op ʼn manier wat by die onsekere toekoms kan aanpas of dit kan vorm.

Die aanlyn kursus is die eerste keer in 2021 bekendgestel, met 1 000 leerders uit 38 lande wat daarvoor ingeskryf het. Dit is gemik op praktisyns, navorsers en bestuurders en identifiseer die hoofinstrumente vir deelnemende voorsorg en toekomsbeplanning wat besluitneming en die bestuursbeheer van komplekse stelsels kan verbeter. Gevallestudies uit Suider-Afrika demonstreer die maniere waarop hierdie instrumente op die medeontwerp van gewenste toekomsvisies en die identifisering van die diverse bane vir navigasie na ʼn maatskaplik geregtige en volhoubare toekoms aangewend is, en aangewend kan word.

Die kursus word aangebied deur kenners van toekoms- en voorsorgstudies, veerkragtigheid en kompleksiteitsdenke, en neem ongeveer agt uur om af te handel. Dit is gratis en kan teen die deelnemer se eie tempo gedoen word. 

Kursusfasiliteerders 
  • Tanja Hichert, toekoms- en voorsorgpraktisyn en medebekleër van UNESCO se leerstoel in Komplekse Stelsels en ʼn Transformerende Afrika-toekoms aan die Universiteit Stellenbosch
  • Prof Rika Preiser, senior navorser by die CST en medebekleër van UNESCO se leerstoel in Komplekse Stelsels en ʼn Transformerende Afrika-toekoms aan die Universiteit Stellenbosch
  • Prof Reinette (Oonsie) Biggs, mededirekteur van die CST en bekleër van die SARCHi-leerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid
  • Dr Joy Waddell, leer- en ontwerpkoördineerder en navorsingsgenoot by die CST
Om jou reis na kennis te begin en nuwe maniere van navigasie vir onsekerheid te verken, skryf in by https://shorturl.at/amFGX