Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Arbitrasie-appèltribunaal bevind in die guns van US in eise teen Jurie Roux en Chris de Beer

Die eise deur die Universiteit Stellenbosch (US) teen mnre JW Roux en JC de Beer, is in Mei 2019 verwys vir finale arbitrasiebeslissing nadat die partye daartoe ooreengekom het. Die toekenning deur die Arbitrasie-appèltribunaalpaneel van drie, wat vandag gepubliseer is, het appèlle deur beide mnr Roux en mnr De Beer teen die toekenning wat in Desember 2020 ten gunste van die US deur die arbiter gemaak is, van die hand gewys.

Die arbitrasieproses het voortgevloei uit 'n dagvaarding wat op 19 Junie 2015 deur die US in die Wes-Kaapse Afdeling van die Hoë Hof van Suid-Afrika uitgereik is. In hierdie dagvaarding eis die Universiteit skadevergoeding van Jurie Wynand Roux as die eerste verweerder, en Johannes Christiaan de Beer as die tweede verweerder, op grond daarvan dat hulle strydig met hul indiensnemingskontrakte met die Universiteit opgetree het en die Universiteit daardeur verlies gely het. 'n Tweede eis teen De Beer het met 'n eis verband gehou dat hy onderneem het om 'n bedrag geld aan die Universiteit te betaal, om te vergoed vir 'n deel van die verlies wat veroorsaak is.

Die Universiteit was suksesvol in die arbitrasiebeslissing en is nou ook suksesvol in die appèl teen die aanvanklike toekenning. Die hoofpunte van die arbitrasietoekenning is soos volg:

  • Roux moet die bedrag van R37 116 402 plus rente vanaf die datum van betekening van dagvaarding aan die Universiteit betaal;
  • De Beer moet die bedrag van R1 904 511 plus rente vanaf die datum van betekening van dagvaarding aan die Universiteit betaal;
  • Roux en De Beer moet ook die Universiteit se regskoste betaal, met De Beer wat vanaf die begin van die arbitrasieverhoor en die appèl verantwoordelik gehou word vir slegs 'n persentasie van die US regskoste.

Ten opsigte van die voorwaardes van die arbitrasie-ooreenkoms tussen die partye, is die hele rekord van die arbitrasieverrigtinge vertroulik, tensy die partye skriftelik anders ooreenkom, maar die bestaan van die arbitrasie en die finale arbitrasiebeslissing (klik hier) is nie vertroulik nie.

“Die US is verheug dat hierdie saak suksesvol afgehandel is, met toekennings in sy guns op al sy eise. Hierdie eise het gevolg weens die US se verbintenis tot goeie korporatiewe bestuur ," sê prof Stan du Plessis, Uitvoerende Bedryfshoof van die Universiteit