Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Belangrike inligting rakende verlof en verlofuitbetalings

​Personeel word versoek om asseblief kennis te neem van die volgende belangrike inligting met betrekking tot verlof.

a) Sperdatum vir goedkeuring van verlofaansoeke vir die tydperk Desember 2021 tot Januarie 2022

Ons versoek vriendelik dat lynbestuurders sorg dat alle verloftransaksies vir Desember 2021 en Januarie 2022 teen 31 Desember 2021 goedgekeur word.

b) Halwe dag op 24 Desember 2021

Aangesien die Universiteit om 12:00 op Vrydag 24 Desember 2021 sal sluit, sal verlof vir daardie dag as halfdagverlof beskou word. Dít beteken dat personeellede wat nie die Vrydagoggend werk nie ’n halwe dag se verlof op die stelsel moet vaslê.

Indien jy ’n langer tydperk verlof neem wat 24 Desember insluit, sorg asseblief dat jy die getal verlofdae op jou aansoek met 0,5 (ʼn halwe dag) verminder. Die stelsel bereken outomaties alle dae as volle dae. Dit is dus elke personeellid se plig om toe te sien dat hulle die korrekte getal dae vaslê voordat hulle die verlofaansoek vir goedkeuring indien.

Ons versoek ook asseblief dat lynbestuurders die getal verlofdae op aansoeke nagaan voordat hulle verlof goedkeur.

c) Twee transaksies nodig vir aaneenlopende verlof oor die tydperk Desember 2021 tot Januarie 2022

Indien jy beoog om aaneenlopende verlof oor die tydperk Desember 2021 tot Januarie 2022 te neem, moet jou aansoek as twee aparte transaksies vasgelê word, naamlik:

· een transaksie vir verlof in Desember 2021; en

· nóg ’n transaksie vir verlof in Januarie 2022.

Indien jy gedurende die vaslegging van Januarie-verlof ’n boodskap kry dat jou “PTO net entitlement” tot minder as nul verminder sal word, gaan asseblief voort en voltooi jou transaksie. Klik bloot op “Next” en “Submit” om jou versoek af te handel. Die waarskuwing verskyn omdat jou verlofsaldo van 2021 nog na 2022 oorgedra moet word. Dít gebeur op 31 Desember 2021, wanneer die stelsel outomaties jou verlofsaldo vir Januarie 2022 sal regstel.

Die Universiteit heropen amptelik op Maandag 3 Januarie 2022.

d) Verlofuitbetalings in Januarie 2022

Menslike Hulpbronne bereken die verlofsaldo-oordrag na die volgende jaar (2022) op die laaste dag van die huidige jaar (2021), en dus sal opgehoopte saldo’s vir 2021 eers in Januarie 2022 beskikbaar wees. Aansoeke om verlofuitbetalings teen die einde van Januarie 2022 (van toepassing op permanente aanstellings wie se diensvoorwaardes daarvoor voorsiening maak) moet daarom eers in Januarie ingedien word.

Die opsie “SUN Accum Leave Encashment JV” op die stelsel is aangepas om outomatiese goedkeuring moontlik te maak. Dien asseblief jou aansoek voor of op 10 Januarie 2022 in vir uitbetaling saam met jou vergoeding van Januarie 2022.

· Aansoeke om uitbetaling van tot en met 19 dae moet op die Oracle SUN-selfhelpplatform vir werknemers ingevoer word. · Aansoeke om uitbetaling van 20 of meer dae moet op hierdie vorm geskied. Werknemers wat ’n papieraansoek om verlofuitbetaling voltooi, moet sorg dat die vorm Menslike Hulpbronne voor 10 Januarie 2022 bereik sodat die aansoek betyds verwerk kan word.

Indien jy wil hê dat ons enige van die inligting in hierdie kennisgewing verder moet verduidelik, kontak gerus Menslike Hulpbronne se Kliëntedienssentrum by 021 808 2753 of sun-e-hr@sun.ac.za.