Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biblioteek- & Inligtingsdiens vier Biblioteekweek met Hoogtepunte 2019

Die Biblioteek- en Inligtingsdiens, Universiteit Stellenbosch tesame met die Library and Information Association of South Africa (LIASA) vier van 18 tot 24 Maart 2019 SA Biblioteekweek met die tema Collaborate @ your library.

Die Biblioteekdiens vier Biblioteekweek deur te fokus op van die opwindende hoogtepunte en gebeure van 2019.

'n Opgeknapte Universiteit Stellenbosch Bellvilleparkkampusbiblioteek (USBB)
Een van die opgraderingsinisiatiewe van die Biblioteek is die voltooiing van die Universiteit Stellenbosch Bellvilleparkkampusbiblioteek (USBB) in 2018. Die opgradering laat die biblioteek groter, helderder en meer verwelkomend daar uitsien. Dit sluit nuwe matte, aanwysings, beligting, ekstra kragpunte, 'n herontwerpte ontvangs-en-inligtingstoonbank, twee kantore vir die fakulteitsbibliotekarisse en 'n nuwe personeelkamer in. Al die nuwe boekrakke is mobiel om die aanpasbare gebruik van die beskikbare spasie moontlik te maak. Verskeie gemaklike sitplekopsies en studiehoekies bevorder navorsing, studie en samewerking op die Bellvilleparkkampus.

Opknapping van die US Biblioteek se ingangsarea en toilette
Gedurende 2018 het die Biblioteek nóú met Fasiliteitsbestuur en die aangestelde argitekte  saamgewerk om die opknapping van die ingang, uitleentoonbank en sekuriteitsarea, studenterekenaarwerksareas, 'n samewerkende leerruimte, toilette asook 'n koffie-en-wegbreekarea te beplan en ontwerp. Die opknapping is geskeduleer om in 2019 'n aanvang te neem.

Navorsingsweek

Hierdie jaar word die Biblioteeknavorsingsweek van 13 tot 17 Mei by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek en die Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe Biblioteek aangebied. Die tema is: Be a smart researcher en aanbiedings sal fokus op die subtemas Be prepared, Be open, Be inspired, Be supported. Wees gereed om geïnspireer te word! Die finale program sal binnekort beskikbaar gestel word.

Makerspace

'n Makerspace bied 'n tegnologies- gefokusde omgewing met 'n 3D-skandeerder, 3D-drukker, mikrobeheerders, ossilloskope, ontwikkelingsgereedskap, soldeerstasie en rekenaars waar US-studente saam kan uitvind, skep, leer en deel. Die Makerspace maak binnekort sy deure oop binne die US Biblioteek.

Universiteit Stellenbosch Navorsingsdatabewaarplek (SUNRDR)

Die Universiteit Stellenbosch is tans besig om sy eie institusionele navorsingsdatabewaarplek op die been te bring. Die Stellenbosch University Research Data Repository (SUNRDR) sal gedurende die loop van 2019 bekend gestel word. Die SUNRDR sal US-navorsers in staat stel om hul navorsingsdata in ooreenstemming met goeie navorsingsdatabestuurspraktyke te deel en te versprei. Dit sal die vindbaarheid, toeganklikheid en herbruikbaarheid van die Universiteit se navorsingsdata fasiliteer.

Ooptoegangsweek

Ooptoegangsweek is 'n internasionele gebeurtenis in sy 12de jaar wat oop toegang as die nuwe gegewe in akademieskap en navorsing bevorder. Hierdie jaar word dit van 21 tot 27 Oktober gevier. Die Biblioteek se program sal nader aan die tyd gekommunikeer word.


Gedurende Biblioteekweek bied die US Biblioteek ook 'n aantal opleidingsessies aan. Bespreek gerus nou jou plek.

Gebruik jy Google/Google Scholar optimaal?
Lokaal: E-klaskamer (Universiteit Stellenbosch Biblioteek)
Datum: Ma 18 Maart (09:30 -10:30)
Teikengroep: Nuwe nagraadse studente en navorsers
Bespreking en meer inligting: (Biblioteekopleidingskalender)

Deel en disseminasie van data (NUUT)
Lokaal: E-klaskamer (Universiteit Stellenbosch Biblioteek)
Datum: Di 19 Maart (12:30 -14:00)
Teikengroep: Nuwe nagraadse studente en navorsers
Bespreking en meer inligting: (Biblioteekopleidingskalender)

Mendeley vir verwysingsbestuur en akademiese samewerking
Lokaal: E-klaskamer (Universiteit Stellenbosch Biblioteek)
Datum: Wo 20 Maart (11:00 -13:00)
Teikengroep: Nagraadse studente en navorsers
Bespreking en meer inligting: (Biblioteekopleidingskalender)