Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Moeder van die Nasie’ vereer in seremoniële seëning van die US se Krotoa-gebou
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 31/05/2023

Liedjies, dromslae en inkantasies het op Saterdag, 20 Mei deur Stellenbosch se geskiedkundige eikeboom-omringde strate weerklink toe tradisionele genesers, oudstes en gemeenskapsleiers byeengekom het om die Krotoa-gebou te seën.

Al is die RW Wilcocks-gebou in Ryneveldstraat amptelik in 2021 as deel van die US se visuele regstellingsproses hernoem, het Saterdag se geleentheid Krotoa as “Moeder van die Nasie" vereer met 'n !Nau-ritueel wat selde gesien word. Dit word gewoonlik gehou om 'n deurgangsrite of 'n oorgang in die lewe van 'n gemeenskap te gedenk, maar die !Nau vier ook die oorgang na vrouwees. As sodanig het Saterdag se ritueel Krotoa volsirkel laat kom, nadat sy in die 1600's as jong vrou aan die Kaap verkneg is en haar “hokmeisietyd“ of oorgangsrite ontneem is.  

Prof Sylvia Vollenhoven, projekbestuurder in die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Maatskaplike Impak en Transformasie, het die relevansie van Krotoa se verering bykans 350 jaar nadat sy op Robbeneiland gesterf het, in perspektief gestel. “As Afrika die geboorteplek van die mensdom is, is ons almal kinders van die KhoiKhoi en die San."

Tradisionele leiers het beurte geneem om aan Krotoa hulde te bring en erkenning te verleen aan die sentrale rol wat Hoofman Karel King gespeel het toe hy die regstellingsproses aan die US geïnisieer het.  

Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale​ Impak en Transformasie aan die US, het gesê die erkenning van Krotoa se plek in die geskiedenis is van deurslaggewende belang vir die terugkeer van 'n “ontbrekende deel van die storie van ons Universiteit". Verdere betrokkenheid sal maniere bekyk hoe om die US se veeltalige omgewing uit te brei, het hy gesê. “Ons wil in ons beleide en prosesse erken dat daar meer as een taalgemeenskap by die US verteenwoordig is."

Die teenwoordiges is uitgenooi om frases te leer en aan die liedjies en seënbede deel te neem, waarna hulle na die US se Universiteitsmuseum beweeg het vir die !Nau vir Now-uitstalling, wat deur dr Marlene Le Roux, uitvoerende hoof van die Kunstekaap, geopen is.  

Hier het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, die hernoeming van die Krotoa-gebou gekontekstualiseer: “Die US is op 'n deurlopende transformasiepad. Hierdie is 'n proses om ons instelling opnuut te fokus op 'n wyse wat 'n goeie universiteit in staat sal stel om 'n grootse universiteit te word – 'n nasionale bate in diens van die gemeenskap wat aan almal behoort wat deur hierdie gange stap."

Die gevierdie Garage-dansensemble van O'Kiep in Namakwaland (Suid-Afrika) en Australië se Wulgurukaba Walkabouts Aboriginal Dancers van Gurambilbarra, Townsville het in 'n seldsame optrede saamgespan in 'n uitvoering van opvoeringspoësie en musiek van Diana Ferrus en die musikant en bekroonde skrywer Jolyn Phillips.

Die kos, wat deur Shihaam Domingo verskaf is, het alikreukels, boegoe, oslewers en mossels ingesluit en is plaaslik bekom of deur volhoubare boere verskaf. Selfs die water wat bedien is, is uit 'n plaaslike rivierstroom verkry. Volgens Domingo is die kos gekies om heelwat te verteenwoordig van wat Krotoa destyds sou geëet het en om Saterdag se teenwoordiges aan die grond en aan mekaar te verbind. “Ons kom van generasies mense wat eens van veldkos geleef het, dus is ons almal verbind."

Die geleentheid het deel uitgemaak van landwye vieringe van die hernoeming van die US se Krotoa-gebou wat in samewerking met die Kunstekaap, die Universiteite van Johannesburg en die Vrystaat en die Australiese Hoëkommissariaat gehou is. ​

Fotograaf: Henk Oets