Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verbind aan Afrika: Dr Christian Lueme fokus op ʼn gesonde planeet
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 30/05/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) se institusionele tema vir Mei vanjaar is “Verbind aan Afrika" en op 25 Mei het ons Afrikadag saam met die res van die wêreld gevier. Afrikadag is die jaarlikse herdenking van die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid op 25 Mei 1963. Die US het die afgelope paar dekades verhoudings met verskeie instellings in ander lande in Afrika gesmee en ons akademici werk saam met die vasteland se top-wetenskaplikes. In dié reeks spog ons met van die US se akademici wat akademiese uitnemendheid verpersoonlik deur diep voetspore in Afrika te trap. ​

Dr Christian Lueme, ʼn navorser by die US se Skool vir Klimaatstudies, is ʼn kenner op die gebied van planetêre gesondheid. Sy navorsing gaan oor klimaatsverandering, lugbesoedeling en gesondheid, mediese opvoeding oor planetêre gesondheid en die vestiging van klimaatsveerkragtige primêre gesondheid. Sy benadering fokus op die kwantifisering en voorspelling van die omvang van gesondheidsrisiko's en onsekerhede oor gesondheidsorg se veerkragtigheid teen klimaatsverandering en lugbesoedeling.

Wat het jou geïinspireer om 'n loopbaan in planetêre gesondheidsnavorsing te volg en hoe het jou navorsing oor tyd ontwikkel?

Ek het deur die One Health-benadering en leeswerk oor ekologiese gesondheid bewus geraak van die verband en interaksie tussen klimaatsverandering, lugbesoedeling en ander globale ekologiese dryfkragte soos die verlies aan biodiversiteit en die impak daarvan op die gesondheid van mense, diere en plantegroei.

Ek het gou besef dat daar min navorsing oor die impak op gesondheidsdienste was. Ons kan nie oor gesondheid en welstand praat sonder om ook na aspekte van gesondheidsorg soos infrastruktuur, pasiëntesorg, kliniese bestuur, leierskap ensovoorts te kyk nie.

Ek was ook gefassineer deur die Antroposeniese era en buitengewone menslike aktiwiteite in dié era as die grootste dryfkragte van die wanbalans in die ekosisteem. Ek het aanlyn besprekings van dr Samuel Meyers en prof Frumkin Howard van die Harvard-universiteit ontdek, wat gaan oor planetêre gesondheid as die raamwerk vir 'n oplossingsgedrewe inter- en transdissiplinêre benadering om die natuur en daardeur ook onsself te beskerm. Ek was gefassineer deur die noodsaak om veral gesondheidswerkers oor planetêre gesondheid op te lei.

Hoe omskryf jy die konsep van planetêre gesondheid en hoekom is dit 'n belangrike studieveld?

Volgens die Lanset-kommissie oor Planetêre Gesondheid (2015) is dit die wetenskap wat handel oor die “gesondheid van die menslike beskawing en die toestand van die natuurlike stelsels wat daarvan afhang".

Planetêre gesondheid is 'n inter- en transdissiplinêre gesondheidsraamwerk wat die impak van die mens se ontwrigting van die aarde se natuurlike stelsels op gesondheid en welstand (en migrasie) van alle lewe op aarde identifiseer, ontleed en aanpak.

Planetêre gesondheid is beide oplossingsgedrewe en 'n maatskaplike beweging wat gesondheid en welstand as die middelpunt van globale omgewingsuitdagings beskou. Dit identifiseer en ontleed nie net die probleem nie, maar soek innoverende oplosssings deur verskillende en samewerkende benaderings. 

Vertel ons meer oor jou navorsing oor die interaksie tussen patrone van klimaatsverandering en lugbesoedeling op mense se gesondheid in Suid-Afrikaanse stede en watter bevindige hieruit gespruit het?

My doktorsgraad het gehandel oor die interaksie-impak van klimaatsverandering en lugbesoedeling, wat twee ongelooflike ekologiese dryfkragte in verandering in kardiovaskulêre en respiratoriese siektes en indirekte beserings is. Klimaatsverandering (die mees waarneembare temperatuurtoename) en lugbesoedeling (asook lugbesoedeling oor grense heen) het gelei tot 'n toename in hospitaalopnames en besoeke aan noodgevalle weens kardiovaskulêre siektes soos beroertes en hartversaking, asook weens respiratoriese siektes soos asma en bronchitis. 

'n Toename of afname in waarneembare temperatuur bo of onder die vlak wat die menslike liggaam kan hanteer, lei dikwels tot onbedoelde beserings, byvoorbeeld in padongelukke. Die waarneembare temperatuur is die fisiologiese ervaring van die omgewingstemperatuur. Sommige stede word beïnvloed deur lugbesoedeling wat van ander streke of selfs ander kontinente afkomstig is.

Hoe kan ons planetêre gesondheid met primêre gesondheidsorg en pasiëntesorg integreer, en watter impak dink jy sal dit op gesondheidsorguitkomste in Afrika kan hê?

Ons moet planetêre gesondheid in die mediese kurrikulum vir voorgraadse studente en toekomstige primêre gesondheidsverskaffers vaslê om die pad na veerkragtigheid, aanpassing en tempering aan te dui. Klinici moet kan nadink oor die impak van klimaatsverandering en omgewingsbesoedeling op siektes en wat hulle aan hul pasiënte en gemeenskappe moet kommunikeer.

Ontwikkelende lande en arm mense sal die meeste weens die globale omgewingskrisis en veral die gevolge van klimaatsverandering ly. Meer as vyf miljoen mense het reeds nie voedselsekuriteit of voldoende drinkbare water nie en leef in noodtoestande in Suider-, Noord- en Oos-Afrika. Kinders, verwagtende vroue, party mense met onderliggende siektes, bejaardes en die armste mense is dikwels die kwesbaarste.

Hoër lugbesoedelingsvlakke, gepaard met stygende temperature, het reeds gelei tot meer hospitaalopnames en besoeke aan noodgevalle vir asma, allergieë, elektrolietversteurings, depressie, angs, hipertensie stres en 'n toename in sterftes weens premature geboortes.

Wat is die grootste gesondheidsrisiko's wat met klimaatsverandering in Afrika verbind word en wat kan gedoen word om dit te verminder?

Dit hou verband met die gebrek aan gesondheidstelsels wat klimaatsveerkragtig is, klimaatsensitiewe en afgeskeepte siektes wat weer hul opwagting maak en die feit dat sommige siektes na ander plekke verskuif.

Verskeie navorsers het al gewaarsku oor die effek van globale agteruitgang van die ekosisteem op gesondheid en die welstand van alle lewe op die planeet. Dit is tyd om na te dink oor strategieë vir aanpassing, tempering en veerkragtigheid.

Daar is 'n behoefte aan goeie multidissiplinêre samewerking vir die probleem, van openbare gesondheid tot gesondheidsorgdienste. Daar is 'n behoefte aan praktykgemeenskappe en transdissiplinêre navorsingsamewerking in streke oor klimaatsverandering en die effek daarvan op gesondheid. Die gesondheidsektor moet ook met ander sektore soos landbou, energie, omgewing, water, sanitasie en onderwys saamwerk om die publiek in te lig. Daar is ʼn behoefte om meer veerkragtige gemeenskappe en groen, gesonde gesondheidsdienste in Afrika ontwikkel.

Klimaatsverandering en lugbesoedeling sal nog vir die volgende twee of drie dekades met ons wees. Ons moet opvoeding oor planetêre gesondheid, klimaatsverandering en gesondheid, die One Health-benadering, omgewingsgesondheid en ekologiese gesondheid verskerp. Ons moet ook meer bewustheid in gemeenskappe kweek en voorspraak by beleidmakers vir die insluiting van aanpassing, tempering en veerkragtigheid in hul prioriteitslyste maak. 

Ons moet innoveer om gesondheidstelsels te skep wat klimaatsveerkragtig is en moet dié innoverings meet en implementeer.

Hoe span jy in jou werk saam met ander navorsers en organisasies en watter rol speel dié soort samewerking om die veld van planetêre gesondheid te bevorder?

Ek werk saam met internasionale en nasionale navorsers van die Climate Change, Migration and Health Network onder leiding van die Universiteit van Gent; die US se Skool vir Klimaatstudie; verenigings vir huisartse soos die Primary Care and Family Medicine Network for sub-Saharan Africa (Primafamed); die World Organisation of National College Academies; asook die Academic Associations of General Practitioners/Family Physicians' (Wonca) Global Environment Group. .

Ons het ook pas deur die US se Internasionale Kantoor begin saamwerk met die Research Alliance on Climate and Health (REACH). Ek werk voorts met die Klimaatsveranderingsforum van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid saam, asook met die SA Vereniging van Gesondheidsopvoeders. Samewerking verbeter my kundigheid oor mediese opvoeding in planetêre gesondheid en oor die vestiging van klimaatsveerkragtige primêre gesondheidsorg.

Wat geniet jy die meeste van jou werk by die die US?

Die geleentheid om my kennis oor mediese opvoeding in planetêre gesondheid en die vestiging van klimaatsveerkragtige primêre gesondheidsorg te ontwikkel en te verbeter.

Terwyl ek aan my meestersgraad in openbare gesondheid gewerk het, het ek besef klimaatsveranderings en navorsing oor gesondheid moet van 'n openbare gesondheidsperspektief skuif na hoe omgewingskrisisse in pasiëntesorg manifesteer. Ek het 'n artikel van prof Bob Mash oor “Klimaatsverandering, die bedreiging van ineenstorting en die geleentheid vir transformasie" raakgelees en gehoop om met hom te kan saamwerk. Die US het my daardie geleentheid gebied.