Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Euan Phimister: Ekonomiese modelle help om belangrike ontwikkelingsuitdagings aan te spreek
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 24/05/2023

Prof Euan Phimister van die Stellenbosch Bestuurskool in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy intreerede gelewer met die titel “Om ekonomiese modelle in ʼn interdissiplinêre wêreld bruikbaar te maak".

Phimister het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy werk die kollig laat val op die impak van ʼn gebrek aan krediet op huishoudings, die uitwerking van energie-armoede op gesondheid en welstand, asook die impak van beleggings in hernubare hulpbronne op landelike ontwikkeling.

Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie veld begin belangstel het.

Ek is ʼn toegepaste ekonoom en my navorsing fokus op landbou, natuurlike hulpbronne en die omgewing. Dit sluit huidige werk in oor plaashuishoudings en landelike ontwikkeling, toegang tot energie, brandstofarmoede, asook hoe om beheer oor indringerspesies te verbeter.  

My aanvanklike belangstelling in landbou is gedurende my jeug in die suide van Skotland geprikkel, waar ek dikwels op my oom en tannie se plaas gewerk en in die lente met lamtyd gehelp het. Dit het tot voorgraadse studies in landbou gelei, waar my belangstelling in die ekonomiese perspektiewe van landbou se uitdagings toegeneem het.

My belangstelling in ekonomiese modelle het verder toegeneem ná ʼn MSc in landbou-ekonomie, waarna ek nege maande as ʼn navorsingsassistent by die Centre for World Food Studies in Amsterdam deurgebring het. Daar is ek vir die eerste keer aan groot ekonomiese modelle bekend gestel toe ek betrokke was by die skep van sosiale rekenkundige matrikse vir ʼn algemene ekwilibriummodel wat op Europese landbou fokus. My PhD oor besparing en beleggings in Nederlandse plaashuishoudings onder leiding van prof Michiel Keyzer het uit hierdie tyd gespruit en tot my daaropvolgende navorsingsbelangstellings in landbou, natuurlike hulpbronne en die omgewing gelei.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk op ekonomiese modelle beskryf?

Soos ek in my intreerede aangevoer het, bly modelle vandag baie relevant as dit in die regte konteks toegepas word. Dit help om die besluite en uitdagings waarvoor ons te staan kom, in perspektief te stel. My werk saam met dr Yakubu Abdul-Salam van die Universiteit van Aberdeen wys byvoorbeeld hoe toegang tot klein hoeveelhede elektrisiteit ʼn verskil aan boere se lewe kan maak, maar ook hoe probleme met toegang tot krediet die gebruik van eenvoudige tegnologie kan verhinder. Hierdie werk benadruk hoe moontlike oplossings kan help, maar ook die omvang van die uitdagings wat deur landelike Afrika in die gesig gestaar word.

Die werk wat ek saam met navorsers van die natuurwetenskappe en ander sosiale wetenskaplikes gedoen het, het my minstens oortuig dat “met die regte mense in die kamer", ʼn klein bietjie ekonomiese modellering denkprosesse oor die velde van natuurwetenskappe en sosiale wetenskappe heen kan aanhelp. Dit kan byvoorbeeld help as die wetenskaplike implikasies van klimaatsverandering op grondagteruitgang in die lig van die impak daarvan op individue en gesinne aangebied word. Of dit kan ekoloë help om die argument aan te voer hoekom en wanneer die beheer van indringerspesies 'n lonende belegging vir die samelewing is.

Hoe help jou navorsing om Suid-Afrika se uitdagings met betrekking tot plaashuishoudings, landelike ontwikkeling, toegang tot energie en brandstofarmoede aan te pak?

Die vrae en kwessies wat ek in ander kontekste aangespreek het, is net so relevant vir Suid-Afrika en onderstreep die belang daarvan. Die evaluering van die impak van ʼn gebrek aan krediet op huishoudings, hoe energie-armoede gesondheid en welstand kan raak, die evaluering van die impak van beleggings in hernubare hulpbronne op landelike ontwikkeling, of om die dinamika van energie-armoede te beskryf, is almal relevante kwessies in ʼn Suid-Afrikaanse konteks en elders.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek geniet klasgee en om met die studente te skakel. Ook om steeds nuwe dinge te leer en dit op my navorsing toe te pas, veral as dit afkomstig is van interaksies met navorsers van die natuurwetenskappe en die breër sosiale wetenskappe in navorsingsprojekte waarby ek gelukkig genoeg is om betrokke te wees. 

Jy het reeds baie jare in die uitdagende omgewing van hoëronderwys deurgebring. Wat hou jou gemotiveer wanneer dinge moeilik raak?

Die studente wat ek onderrig en oor wie ek toesig hou en hul entoesiasme en toewyding.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sal verwag nie.

Ek kan die rumba doen. 

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek eet, swem en dans. ​