Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verbind aan Afrika: Prof Ben Sebitosi neem die voortou
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 23/05/2023
Die Universiteit Stellenbosch (US) se institusionele tema vir Mei vanjaar is “Verbind aan Afrika" en op 25 Mei vier ons Afrikadag saam met die res van die wêreld. Afrikadag is die jaarlikse herdenking van die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) op 25 Mei 1963. Die US het die afgelope paar dekades verhoudings met verskeie instellings in ander lande in Afrika gesmee en ons akademici werk saam met die vasteland se top wetenskaplikes. In hierdie reeks spog ons met van die US se akademici wat die verpersoonliking van akademiese uitnemendheid is deur diep voetspore in Afrika te trap. 

Prof Ben Sebitosi is 'n emeritus professor by die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese by US en het 'n C2-navorsingsgegradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang. Sebitosi, wat van Uganda afkomstig is, is 'n veelsydige kundige in volhoubare ontwikkeling wat aan die hoof van die opstel van die Rwandese regering se energiebeleid en strategie was en die energiekurrikulumontwikkeling van die Pan-Afrika-Universiteit gekoördineer het. Hy glo Afrika se waardevolste hulpbron lê nie onder die grond, in die see of in die atmosfeer nie maar eerder in sy menslike hulpbronne. Wanneer hy nie klasgee of navorsing doen nie, hou hy daarvan om in sy moedertaal, Luganda, te dig. 

Wat het jou 'n om 'n loopbaan in hernubare en volhoubare energiestudies te volg en hoe het jou navorsing met die verloop van tyd ontwikkel?

Ek het aanvanklik hierdie passie gehad om windenergie vir my meestersgraad aan die Universiteite van Kaapstad te ondersoek. My studieleier het egter 'n ander projek in gedagte gehad. As ek nou terugkyk, is ek bly, want dit het my goeie blootstelling en 'n grondslag gegee vir dít waarmee ek later te doen sou kry. Later het my PhD-navorsingsonderwerp, “Applications of Advances in Automotive Technologies to Rural Electrification" (“Toepassings van vooruitgang in motoringenieurswesetegnologie op landelike elektrifisering") my 'n omvattende geleentheid gegee om met hernubare energie te werk en dit my loopbaan te maak.  

Kan jy vir ons as 'n leier in die Intra-Afrika MASTET-projek meer vertel oor die inisiatief en die invloed daarvan op akademiese medewerking en mobiliteite regoor Afrika?

MASTET is die afkorting vir “Mobility of African Scholars for Transformative Engineering Training" (“Mobiliteit van Afrika-vakkundiges vir Transformatiewe Ingenieursopleiding). Die doel was 'n program om Afrika se ingenieursopleiding te bevorder en om die deelnemende vennote se hulpbronne te deel deur uitruilprogramme vir studente en personeel met 'n spesifieke klem op geslag. Laasgenoemde is as 'n groot uitdaging vir die ingenieursberoep in Afrika geïdentifiseer. Sover het ons goed gevorder met die aansoekers wat geteiken is en het ons 'n hele paar gegradueerdes en publikasies opgelewer. 

Jy het al op die gebied van hernubare energie as studieleier vir talle meesters- en doktorale studente opgetree. Na watter eienskappe soek jy in jou studente en hoe ondersteun jy hulle in hulle navorsingswerk? 

Ek het met generiese ingenieursontwerp en -ontwikkeling in hernubare energie begin. Die vakgebied het mettertyd tot 'n volhoubare bestaan ontwikkel. Ons identifiseer uitdagings in die samelewing soos voedselsekerheid en klimaatsveerkragtigheid en ontwikkel dan 'n gepaste intervensie wat dikwels hernubare energie insluit om 'n doelwit te bereik. Ek glo Afrika se waardevolste hulpbron lê nie onder die grond, in die see of in die atmosfeer nie maar eerder in sy menslike hulpbronne. Dít is wat gekoester en toegerus moet word om te floreer. 'n Volhoubare toekomstige groen ekonomie moet daarna strewe om die kultuur en gedagtes van die jeug te vergroen. Ek wil my vaardighede gebruik om tot hierdie doelwit by te dra. 

Watter rol glo jy moet universiteite en navorsingsinstellings speel om 'n volhoubare en groen toekoms vir Afrika te bevorder en hoe kan hulle meewerk om hierdie doel te bereik?

Afrika is geseën met oorvloedige hernubare energie- en talle ander hulpbronne. Dit moet egter nooit 'n navorser se doelwit wees nie. Jy moet eerder daarna strewe om Afrika se dringendste sosio-ekonomiese en omgewingsuitdagings as vertrekpunt te identifiseer. Hulle word almal hoofsaaklik deur beskikbare kapitaal en politieke wil geanker, en daarom moet pragmatiese navorsing daarna strewe om hierdie balanstoertjie op te los. 

Vertel ons meer van 'n projek of navorsingsprestasie waarop jy besonder trots is en hoe het dit die vakgebied van hernubare energiestudies beïnvloed? 

A multi-objective optimization tool for the Malawian tea industry with sustainability considerations (“'n Optimaliseringsinstrument met verskeie doelwitte vir die Malawiese teebedryf met volhoubaarheidsoorwegings") is 'n PhD-dissertasie waarvoor ek 'n paar jaar gelede in die Meganiese Ingenieursdepartement die studieleier was. Die het ten doel gehad om die kwessie van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid te verken. Gedefinieer as die sakesektor se voortgesette verbintenis tot etiese gedrag en om tot ekonomiese ontwikkeling by te dra terwyl dit die lewensgehalte van die werksmag en hulle gesinne, asook die plaaslike gemeenskap en die samelewing te verbeter, was die grootste uitdaging wat geïdentifiseer is, die afwesigheid van gestandaardiseerde modaliteite waarvolgens dit bereik kon word, of 'n metingsinstrument waarmee voldoening gemeet kon word. Die oplossing was 'n briljante sagteware-instrument wat in 'n werklike korporatiewe omgewing ontwikkel en gebruik is. Dit was verreweg die kreatiefste en oorspronklikste konsep.

Wat is na jou mening die grootste uitdaging wat die inwerkingstelling van hernubare energieoplossings in Afrika in die gesig staar, en hoe kan dit aangespreek word?

Daar is veelvoudige uitdagings. Afgesien van die endemiese tekort aan kapitaal en beleggers, is een uitdaging waaraan ek onmiddellik dink, hulpbronnedata. Baie min (indien enige) assessering van hulpbronne is (op enige plek) gedoen, maar projekte word steeds in werking gestel hoewel onderprestasie of mislukking feitlik seker is. Daar is ook die kwessie van die spreekwoordelike wa wat voor die osse gespan word, waarvolgens energie as 'n kommoditeit (wat vooraf vervaardig word) hanteer word, eerder as om eers moontlike geleenthede te identifiseer en te teiken waarvoor energieopwekking ontwerp moet word en in teenstelling met die afgeleide vraag vir hierdie sosio-ekonomiese aktiwiteite wat dit werklik is. 

Jy was by die energiebeleid- en kurrikulumontwikkeling op nasionale en kontinentale vlak betrokke. Watter lesse het jy uit daaruit geleer en hoe het dit jou onderrig en navorsing geïnspireer? 

Ek leer deurlopend. Maar ek het 'n paar harde lesse langs die pad geleer. Een voorbeeld is dat werk wat jy saam met regerings doen, in kontras met tradisionele akademiese oorwegings is. Een vraag wag ons uit 'n suiwer tegniese oorweging vra, is of 'n beleid sy genoemde doelwitte bereik en of dit daardie doelwitte teen die laagste koste bereik. Maar as ons kyk na hoe regerings besluite neem, het ons dikwels 'n ander stel vrae. Hierdie vrae sluit in of die beleid die openbare verbeelding aangryp of openbare goedkeuring geniet. Word die belange van 'n spesifieke belanghebber (of politieke weldoener) bo dié van 'n ander bevorder of trek 'n spesifieke bedryf bo 'n ander daaruit voordeel? Hierdie lesse het die gehalte van my onderrig en navorsing verryk.

Watse raad kan jy aan jong navorsers en studente gee wat in volhoubare energiestudies belangstel en hoe kan hulle meer by hierdie vakgebied betrokke raak? 

'n Mens moet eers probeer om die agtergrondprobleem ten volle te verstaan, glo die probleem is betekenisvol en belangrik en die passie en dryfkrag hê om 'n volhoubare oplossing te vind. 

Kan jy 'n onvergeetlike of opwindende hoogtepunt in jou loopbaan sover beskryf ?

Een van my opwindendste herinneringe is hoe die onderskeiding wat ek aan 'n klein primêre skool behaal het, my tot by 'n hoërskool van wêreldgehalte, King's College Budo in Kampala, gelanseer het.

Wat geniet jy die meeste van jou werk by die US? 

Die Universiteit Stellenbosch het goeie hulpbronne en ek het wonderlike kollegas en studente saam met wie en waarmee ek werk en wat 'n omgewing skep wat kreatiwiteit bevorder.

Wat is sover die prestasie waarop jy die trotsste is in jou lewe? 

Dit is moeilik om te kies, maar om daardie glimlag op 'n student se gesig te sien wanneer hulle ná 'n intensiewe en veeleisende navorsingsreis gradueer, is beslis 'n baie trotse oomblik. 

Vertel ons ten slotte iets opwindends of interessants oor jouself wat min mense sal verwag.

Ek skryf gedigte in die Luganda-taal. Nog geen van my gedigte is al uitgegee nie; ek hou net daarvan om dit aan vriende voor te lees.

​