Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Zukhanye Magwa 
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 23/05/2023

​Toe hy nog ʼn jong seun was, het  Zukhanye Magwa besluit hy gaan aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer. Vandag is dié voormalige studente-atleet en -afrigter ʼn toegewyde sportbestuurder by die US en bied administratiewe en bestuursondersteuning aan verskeie sportkodes wat deur die Hoofdirekteur van Maties Sport geïdentifiseer word.   

Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Magwa ons meer oor sy werk.  

 

Wat behels jou rol by die US?   

My verantwoordelikhede sluit in om te verseker dat die US en Maties Sport se regulasies nagekom word, oorsig oor die daaglikse werksaamhede van sportklubs en om ʼn kultuur van deelname, sportiwiteit, professionalisme en respek oor alle vlakke heen te bevorder. Ek werk saam met al die operasionale eenhede van Maties Sport om die planne van individuele sportklubs wat ek bestuur, te ondersteun en hulle in lyn met die strategiese doelwitte van Maties Sport te bring.    

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?   

My dae as ʼn sportbestuurder is ʼn opwindende reis, gevul met ʼn verskeidenheid van take en interaksies. Dit begin gewoonlik met ʼn vroegoggendsessie in die gimnasium, waartydens ek my eie fiksheid en welstand prioritiseer voor ek die dag se verantwoordelikhede aanpak. Dan gaan ek kantoor toe, waar ek vinnig met my kollegas gesels. Hierdie skakeling help ons almal om in verbinding te bly, nuwe verwikkelinge te deel en ons werk om ons gemeenskaplike doelwitte te bereik, te koördineer.  

Daarna is my hooffokus om die vloei van inkomende en uitgaande korrespondensie tussen belangegroepe en die sportkodes wat ek bestuur, te koördineer. Dit behels om te verseker dat almal ingelig is en dat spoedig aan hul behoeftes voldoen word.  

Ek vergader dwarsdeur die dag met studente oor hul akademiese en sportprogramme, maar ook oor hul algemene welstand. Hierdie gesprekke help my om hulle te ondersteun en hulle na die relevante eenhede en ondersteuningstelsels te verwys wat die US en Maties Sport aan hulle bied.  

In my rol is samewerking noodsaaklik, derhalwe vergader ek gereeld met my US- en Maties Sport-kollegas om operasionele sake te bespreek. Dit verseker dat ons benaderings ooreenstem en enige nodige aanpassings of verbeterings vlot aangebring kan word.  

Ek besoek klubs gereeld sodat ek die praktiese lewering van ons programme en oefensessies eerstehands kan ervaar en verstaan. Danksy my teenwoordigheid op grondvlak kan ek die doeltreffendheid van ons inisiatiewe assesseer en die klublede en personeellede wat ek bestuur, beter verstaan.  

Evaluering, monitering en rapportering is ʼn integrale deel van my werk. Ek assesseer en ontleed voortdurend alle kernaspekte van die sportkodes wat ek bestuur, insluitend prestasie, deelname en voldoening. Hierdie inligting word in verslae vervat, wat my in staat stel om insig te bied, gebiede te identifiseer waar daar verbetering kan wees en ingeligte besluite vir die toekoms te neem.  

Aan die einde van elke dag dink ek na oor die vordering wat gemaak is, neem kennis van enige uitstaande of opvolgtake, maak seker dat onafgehandelde sake aandag kry en dat die volgende dag goed beplan is om maksimum produktiwiteit te verseker.   

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?   

Ek was ʼn studente-atleet aan die US, ʼn afrigter van ʼn sportpan, asook ʼn krag- en kondisioneringsafrigter in Maties Sport se hoëprestasie-eenheid en beskou myself as bevoorreg dat ek sulke diverse ervarings kon gehad het. Hierdie ervarings, asook my meestersgraad in sportwetenskap, het ʼn belangrike rol gespeel om my vir my huidige pos voor te berei.  

Een van die unieke voordele wat ek bied, is my ervaring as ʼn studente-atleet. Ek het die reis om akademie en sport te balanseer persoonlik meegemaak en verstaan die uitdagings en eise wat daarmee gepaard gaan. Hierdie perspektief stel my in staat om empatie met my studente-atlete te hê en betekenisvolle steun aan hulle te bied om hulle te help om hul eie reis suksesvol te onderneem.  

Benewens dié agtergrond, was ek ook bevoorreg om ʼn sportspan af te rig. Hierdie rol het waardevolle insigte gebied in die ingewikkeldheid van spandinamika, strategie-ontwikkeling en die belangrikheid om ʼn positiewe en samehorige omgewing te skep. Ek het danksy my afrigtingswerk ʼn diep begrip ontwikkel vir die toewyding, dissipline en spanwerk wat nodig is om sukses op én van die veld te behaal.   

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?   

Ek hou daarvan om die studente-atlete te dien, asook dat ek nou die geleentheid het om hul groei holisties te help bevorder en te probeer om aan hulle dieselfde genotvolle studente-ervaring te bied as wat ek aan die US gehad het.   

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?    

Al was ek nog nooit tevore in die Wes-Kaap nie, het ek op 12-jarige ouderdom besluit ek gaan aan die US studeer nadat ek na ʼn onderhoud met ʼn US-student gekyk het. Eienaardig genoeg was dit alles in Afrikaans en kon ek destyds nie ʼn woord Afrikaans praat of verstaan nie. In 2023 is ek steeds hier en geniet ek elke oomblik, al is dit nou in ʼn ander hoedanigheid – alles te danke aan die 12-jarige Zukhanye Magwa.