Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US speel sy rol in vreedsame en inklusiewe ontwikkeling in Afrika
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 22/05/2023

​​Die stigting van die Besigheid- en Konflikwaarnemingsentrum (BKWS) by die Stellenbosch Besigheidskool verleen erkenning aan die Universiteit Stellenbosch (US) se belangrike rol in die “globale gesprek oor vreedsame ontwikkeling".

Só sê prof Brian Ganson, hoof van die Sentrum vir Konflik en Samewerking by die Besigheidskool​ (wat as die BKWS se Sekretariaat sal dien) en professor by die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke. “Daar is groot internasionale steun om beleggings in brose ekonomieë te verhoog, maar die vertroue ontbreek soms dat die geld wat na hierdie lande vloei die beoogde positiewe uitwerking sal hê – veral as daar onstabiliteit of konflik is." 

Die BKWS sal as ʼn onafhanklike platform dien wat menseregtekampvegters, arbeids- en besigheidsleiers, beleidmakers, internasionale vennote en navorsers byeen sal bring. Deur die kollig op problematiese praktyke te laat val sal die BKWS ʼn gemeenskaplike begrip help skep van bane van ontwikkeling wat die maksimum voordeel bied aan diegene in Afrika en elders wat dikwels uit- of agtergelaat word.

Die inisiatief geniet die steun van die Verenigde Nasies (VN) en Elizabeth Spehar, Assistent-sekretaris-generaal: Vredesbou-ondersteuning, het in ʼn brief aan prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, geskryf: “Die BKWS het nie net die potensiaal om as kurator vir data en bewyse te dien en samewerkende ontleding te fasiliteer om die verhouding tussen privaatsektorontwikkeling, konflik en menslike sekuriteit beter te verstaan nie, maar kan ook dialoog tussen diverse belangegroepe bevorder, wat positiewe verandering met betrekking tot die dinamika van privaatsektorontwikkeling in vredesbou-omgewings kan kataliseer."

Spehar het gesê die BKWS se samewerking met die VN sal waardevolle insig vir die ontwikkeling van vredesbegingsels vir die privaatsektor insluit, asook steun vir lede van die Vredesboukommissie en steun vir die VN se kapasiteit in verskillende lande deur die Inwonende Koördineerderskantore. “Ons erken die US se sterk bydraes tot globale begrip van en beleidsdebatte oor hierdie kwessies en ons sien daarna uit om saam te werk om uitreikpogings te ondersteun en die BKWS te help verwesenlik."

In sy antwoord aan die VN het De Villiers geskryf: “Die US is daartoe verbind om ʼn plek te word waar diverse rolspelers kan beraadslaag om ons gemeenskap van ʼn eksklusiewe verlede na ʼn maatskaplik regverdige, volhoubare en florerende demokratiese toekoms te neem."

Hy het bygevoeg dat die BKWS uit die Besigheidskool se kundigheid oor konflik en samewerking, ontwikkelingsfinansies en toekomsstudies sal put, asook uit die US se leiersrol in datawetenskap en sy Afrika- en globale vennootskappe.