Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Danielle Radloff
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 19/05/2023

​Danielle Radloff was nooit van plan om ʼn “loopbaan in loopbane" te volg nie, maar haar grondige begrip van die globale werkkonteks beteken sy is goed toegerus om studente en alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) te help om hul loopbaandoelwitte te bereik.

Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Radloff ons meer oor haar werk.

Wat behels jou rol by die US?

My amptelike titel is Senior Loopbaanbeampte, maar 'n beter beskrywing sou 'n loopbaanhulpbronraadgewer wees, omdat ek studente en alumni van die Stellenbosch Besigheidskool help om hul loopbaandoelwitte te bereik.

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?

'n Rol in loopbaandienste verskil van een dag na die volgende. Dit voel die meeste van die tyd asof jy jou eie klein onderneming bestuur, wat alles dek van die daaglikse werksaamhede tot bemarking, finansies en selfs diensontwerp.

Die Loopbaanleierskapsbestuurder, wat as die Besigheidskool se aangewese loopbaanafrigter en deskundige in loopbaanontwikkeling dien, lei my span. Die Senior Loopbaanbeampte onderneem elke ander diensaspek en gee spesifiek aandag aan werknemerverhoudings en diensontwerp, wat die bestuur van die digitale platforms in ons ekosisteem insluit.

Die meeste van diegene wat by loopbaandienste betrokke is, is in wese kreatiewe oplossingontwerpers en ek begin elke dag deur myself dieselfde vraag af te vra: “Wat kan ek vandag doen om dit makliker vir iemand te maak om hul loopbaandoelwitte te bereik?"

Ek sal tipies sekere dae aan sleutelaktiwiteite wy, soos om Loopbaanontdekkingsgesprekke aan te bied, waar ek van inspirerende loopbaandoelwitte en lewensreise hoor. Ek is bevoorreg om strategieë te kan bespreek om daardie doelwitte te bereik met die hulpbronne wat ons beskikbaar stel.

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

As 'n gegradueerde in internasionale betrekkinge en besigheidsbestuur kry mens die kans om jou analitiese vaardighede te gebruik om die globale werkkonteks te verstaan, asook hoe verskillende sosio-ekonomiese en politieke landskappe 'n impak op die loopbaanvooruitsigte van talent oor die wêreld heen kan hê. Die Stellenbosch Besigheidskool skakel met talent en sakevennote wêreldwyd en daar word van werknemers van so 'n wêreldklas-instelling verwag om op die hoogte van belangrike ontwikkelings in besigheid en die samelewing te bly om wedersyds voordelige en volhoubare vennootskappe te vorm.

Ek het gedurende my voorgraadse studies daarna gestreef om studenteleierskapsposisies te beklee en was 'n deelnemer aan en fasiliteerder van kritiese gesprekke tussen studente. Hierdie ervaring het die grondslag gelê om moeilike oomblikke te kan hanteer in die transformerende landskap waarin ons onsself vandag bevind en my gehelp om ander mense se perspektiewe te verstaan. Ek moedig enige student (hetsy voor- of nagraads) aan om studenteleiers of ambassadeurs in hul omgewing te word. Die Frederik van Zyl Slabbert-instituut was 'n belangrike vennoot in my ontwikkelingsreis as 'n voorgraadse student.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Om uit 'n diverse netwerk van mense as kollegas te put is die beste deel van werk by die US. Ek sou elke personeellid aanmoedig om kreatief te wees en geleenthede aan te gryp om saam te werk en met mekaar te skakel oor funksies heen en selfs oor die wêreld heen by ander instellings.

Dit kan ook soms moeilik wees om by die US te werk, maar ek waardeer dit om deel van 'n organisasie te wees wat oop en voortgesette dialoog oor temas van deurslaggewende belang soos transformasie, diversiteit en maatskaplike impak aanmoedig. Hierdie kwessies raak mense daagliks ten diepste en deur hierdie onderwerpe in die werkplek te kan bespreek, ontwikkel ons stadigaan die vermoë om dit openlik en tromp-op te benader.

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Ek het nie 'n “loopbaan in loopbane" of selfs 'n loopbaan by 'n universiteit beplan nie, maar het uiteindelik betekenis in my werk gevind deur my waardes en die instelling se doelwit met mekaar te vereenselwig en duidelikheid oor die waarde van my rol in die groter prentjie te kry.  ​