Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
ʼn Dag in die lewe: Dr Liela Groenewald
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 11/05/2023

​As die naam Liela Groenewald ʼn klokkie lui, kan dit dalk wees omdat jy haar al by ʼn musiekfees sien optree het of een van haar roerende liedjies oor die radio gehoor het. Haar liefde vir musiek het nie getaan nie, maar dr Groenewald speel deesdae ʼn leidende rol in die Tygerberg Doktorale Kantoor op die Universiteit Stellenbosch (US) se mediese kampus. Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Groenewald ons meer oor haar werk.

Wat behels jou rol by die US?

Ek is die Hoof van die Tygerberg Doktorale Kantoor. Ons is ʼn klein span wat omvattende steun bied aan almal wat ʼn aandeel in die doktorale program in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het; ʼn fakulteitsgebaseerde kontakpunt vir nadoktorale genote verskaf; en FGGW-navorsers se meesterseksamens fasiliteer. Elke lid neem verantwoordelikheid vir ʼn deel van die werk en ek hou toesig oor die hele pakket.

Om hierdie werk te fasiliteer hou ons ʼn volledige databasis van alle aspekte van doktorale studies by, waaruit ons verslae saamstel vir oorweging deur die FGGW se Komitee vir Nagraadse Navorsing. Ons bly ook op die hoogte van die jon​gste inligting oor administratiewe en bestuursprosesse met betrekking tot die doktorale program, of daardie inligting relevant is vir aansoekers, studente, toesighouers, hoofde van akademiese omgewings, programleiers of die Fakulteits- of Universiteitsbestuur. 

In ʼn neutedop is ons 'n eenstop-kantoor wat ten doel het om dit so maklik moontlik vir doktorale navorsers en hul promotors te maak om in hul navorsing uit te blink en tegelyk aan etiese  standaarde en die beginsels van goeie bestuur te voldoen. Om seker te maak ons doen dit so goed as moontlik, skakel ek ook met enige ander afdelings in die Universiteit wat vir ons doktorale groep relevant is om te kyk waar ons prosesse kan vereenvoudig of ondersteuning en ontwikkeling kan versterk. 

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag? 

Wel, ek bestuur die operasionale aspekte van die Tygerberg Doktorale Kantoor, ondersteun die werk van die FGGW se Komitee vir Nagraadse Navorsing, help om alle aspekte van die doktorale reis te vereenvoudig en dan is daar ook sikliese werk, so daar is nie een tipiese dag nie. 

Maar ek sorg wel dat ek feitlik elke dag by my nabye kollegas uitkom om seker te maak ons is op die hoogte van alle behoeftes wat in die Fakulteit geopper word. Nicky Cockrell is ons insitusionele geheue-ensiklopedie en neem volle verantwoordelikheid vir alle aspekte van die eksaminering van tesisse in ons navorsingsmeestersgrade. Brigitta Kepkey is ʼn bron van eindelose energie en skerpsinnigheid wat in Desember by ons aangesluit het, die instromende navrae van PhD-studente en -studieleiers beantwoord, en ons databasisse op datum hou. Ons trek ook deeltyds voordeel uit die werk van Marifa Muchemwa, wat my bygestaan het met die ondersteuning van internasionale PhD-studente en my help om tred te hou van institusionele data en dit te ontleed. Chanelle Windvogel help om ondersteuningsmateriaal vir doktorale studente te ontwikkel en vir ons Voordoktorale Kortkursus voor te berei. 

Ek moet bieg dat ons nogal 'n swaar las van e-posnavrae hanteer, maar ek is sosiaal en geniet dit om met mense te gesels. Ek hou van dae wat persoonlike kontak met kollegas behels. Dit kan gebeur wanneer ek ʼn klankbord vir hoofde, studieleiers of studente is wat van aangesig-tot-aangesig raad wil vra ʼn spesifieke deel van die doktorale reis. Maar ek reik ook uit na ʼn redelik wye klomp omgewings om my begrip uit te brei van al die prosesse wat ʼn invloed op die doktorale program het; en dan daardie inliging oor te dra aan diegene wat dit benodig. As ʼn spesifieke proses ʼn uitkringeffek op inskrywings, uitsette, graduering, of op die doktorale ervaring het, werk ek saam met die relevante spanne of individue om gebruikersvriendelike prosesse te bevorder en ʼn kolegiale institusionele kultuur uit te bou wanneer die geleentheid opduik. 

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek het die grootste deel van my loopbaan as ʼn senior lektor in sosiologie by die Universiteit van Johannesburg (UJ) deurgebring. Ek het my eie doktorsgraad daar voltooi terwyl ek as heeltydse akademikus in die departement gewerk het onder toesig van my fantastiese US-mentor, Simon Bekker, asook my departementshoof by UJ, Tina Uys. Hulle was albei wonderlike, gerespekteerde akademici en navorsers met sterk internasionale netwerke. Ek was baie bevoorreg om toesighouers van hul kaliber as mentors te hê, asook ander kollegas in die departement soos Sakhela Buhlungu en Ashwin Desai. 

Ek het by UJ aangesluit net nadat dit as ʼn omvattende instelling geskep is en dit was ʼn wonderlike tydperk van spoedige transformasie. Die Universiteit het besonderse werk gedoen om studentetoegang en -sukses te ondersteun, terwyl navorsing en publikasies uitgebou is en die universiteit opgang in die rangleer gemaak het; anders gestel: om die deure van onderrig oop te maak en te bewys dat diversiteit uitnemendheid bevorder. 

Ek het ʼn klompie jare lank die geleentheid gehad om as die sameroeper van ʼn weeklikse openbare seminaar saam met my kollegas Letitia Smuts en Tapiwa Chagonda van die mees gevierde navorsers in ons veld in ʼn intieme en interaktiewe omgewing saam met ons nagraadse studente te sien. Dit was 'n groot voorreg om grootsheid van intellek en karakter van naby te beleef wanneer wêreldberoemde akademici met menslikheid en nederigheid in daardie gesprekke getree het. Dit was 'n ongelooflike omgewing.

Ek was ook 'n aantal jare die sameroeper van my departement se meestersprogram, en het die kans gehad om ʼn deeglike begrip te ontwikkel van die brëe spektrum van kwessies om rondom die nagraadse en navorsingsgrade in gedagte te hou: van werwing en keuring tot beurse, toesig, risikobestuur, groepsbou, kapasiteitsbou, deursetkoers en uitsette. Daardie ervaring is daagliks relevant vir ons taak in die Tygerberg Doktorale Kantoor. 

En laaste, maar nie die minste nie, het ek my honneursgraad aan die US voltooi, en het ek darem ʼn idee gehad van wat ek doen toe ek hierdie pos in Oktober 2021 aanvaar het. 

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US? 

Die werk is betekenisvol op die vlak van persoonlike interaksie, maar ook omdat ons ʼn impak het op hoe ons Fakulteit en Universiteit presteer en die persepsie wat die hoëronderwyssektor daarvan het. Ek hoop om ons omgewing so te help vorm dat dit aanklank sal vind by ʼn diverse en uitstekende groep voornemende navorsingsgraad-studente. 

Ek geniet dit ook om ʼn kampvegter te wees vir die belange van almal wat by die FGGW se doktorale programme betrokke is. Deur prosesse en stelsels te vereenvoudig kan ons navorsers, promotors en studente teen sieldodende rompslomp beskerm en hulle stimuleer om uitstaande navorsing te doen, hul doelwitte te bereik en 'n positiewe ervaring van die US met ander te kan deel. Dis hoekom ons al die nodige inligting tot die Fakulteit se beskikking stel en daarna streef om alle administratiewe en bestuursprosesse op ʼn doeltreffende, etiese en opbouende manier te hanteer. 

Maar buiten hierdie spesifieke rol, floreer ek in die hoëronderwys-omgewing omdat ek oortuig is van die bydrae wat dit maak. Ek onderskryf die waarheidsoekende dryfveer van wetenskaplike werk, waarin feitelike aansprake en verduidelikings weer en weer teen bewyse getoets word – en uit alle moontlike hoeke beskou word. Ek heg waarde aan die verskil wat onderrig en navorsing aan die welstand van ʼn samelewing maak. Hoër onderwys speel 'n transformerende rol in die lewens van individue en gemeenskappe. Dit hou die sleutel tot maatskaplike mobiliteit en tot strukturele transformasie. Werk in hoër onderwys maak vir my deel uit daarvan om ʼn beter toekoms te bou. Dít is wat my aan die begin van elke werkdag bly maak om hierdie werk te doen. 

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Vir my om te weet en vir jou om uit te vind! Die “opwindende" besonderhede word behou vir dié wat saam met my  ʼn koppie koffie of ʼn glas wyn by een van Stellenbosch se oulike bistro's geniet. Des te beter as daar jazz in die agtergrond speel.