Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
LOA Seminaar: “Infusing research-mindedness in a Psychology Honours module"
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 29/03/2023


Afdeling Leer- en Onderrigverryking Seminaar 1 van 4:  16 Maart 2023

​Spreker:  Prof. Ashraf Kagee (Departement Sielkunde, Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) (“TAU"-genoot, 2021-2022)
Onderwerp:  “Infusing research-mindedness in a Psychology Honours module"

 

Prof. Kagee onderrig reeds sedert 2003 modules oor navorsingsmetodes aan voor- en nagraadse studente in sielkunde en is oortuig dat “dit nie slegs is wat studente weet nie, maar hoe hulle dit te wete kom". Die navorsingsmodule in sielkunde honneurs wat hy doseer, is dus daarop gerig dat enige bewerings van waarheid in sielkunde op ʼn bewysbasis moet steun. Prof. Kagee het reeds verskeie struikelblokke in die onderrig van hierdie module teengekom.

Sommige sielkunde-studente verstaan nie waarom hulle navorsingsmetodes moet leer nie; sommige is onthuts dat hulle verpligte modules in navorsingsmetodes moet neem; vir sommige is dit ontoepaslik om die wetenskaplike denkwyse op sielkunde toe te pas; daar is soms twyfel oor of sielkundige ervarings gemeet kan en moet word; en metodologie en ideologie word deur sommige studente en akademici as ooreenstemmend beskou.

As deel van die 2021-2022 “TAU" (“Teaching Advancement at University") genootskapsprogram moes prof. Kagee ʼn navorsingsprojek konseptualiseer, uitvoer en evalueer. Sy projek was daarop gemik om die module Navorsingsmetodes 771 in die honneursprogram te herkurrikuleer, ten einde ʼn benadering tot die onderrig van navorsingsmetodes te ontwikkel wat bogenoemde struikelblokke probeer uitskakel en studente kan oortuig dat navorsingsmetodes noodsaaklik vir leer oor sielkunde is en ook interessant en lekker kan wees. Hy het die module met die Universiteit Stellenbosch (US) se graduandi-eienskappe in verband gebring en ook die maatskaplike relevansie daarvan verhoog, deur te demonstreer dat tegniese kennis van navorsingsmetodes in diens van die groter maatskaplike belang toegepas kan word. Prof. Kagee het verder beklemtoon dat navorsingsmetodes nie apolities is nie – net soos die wetenskap, is dit kontekstueel vasgelê en word dit deur die geskiedenis, mag en materiële toestande beïnvloed.

Vir die onderrig-leer-assessering-metodes het prof. Kagee ʼn “omgekeerde klaskamer" (“flipped classroom")-benadering toegepas en die module meer interaktief gemaak deur die insluiting van studentevoorleggings en klasbesprekings tydens sy lesings. Hy het SUNLearn gebruik vir PowerPoint-aanbiedings met ʼn agtergrondstem om ʼn oorsig van die inhoud te bied, videogrepe om die uitvoer van kwalitatiewe data-ontleding te demonstreer en die deel van greepuitsendings oor kwessies wat in die klas bespreek is.

Prof. Kagee het die hersiene module geëvalueer deur die voer van onderhoude oor hulle ervaring van die module met tien huidige honneursstudente. Van die modulekenmerke wat hoog deur die studente aangeslaan is, is die feit dat hulle perspektief op navorsingsmetodes verander het en dat hulle meer waardering vir navorsingsmetodologie het as voor die module. Hulle kritiese denke het ook verbeter: hulle het geleer om nie bewerings op sigwaarde te aanvaar nie en besef dat alle bewerings deur empiriese bewyse gestaaf moet word. Studente het ook geleer dat dit belangrik is om ander perspektiewe te erken en het besef dat ʼn mens se eie siening nie die enigste een is nie. Hulle het ook uit die samewerkende leeromgewing gebaat: dit was ʼn omgewing met respek waarin hulle kon voel dat hulle in interaksie kon tree sonder dat hulle sienings veroordeel word.

Oor sy eie leer uit die hersiene module, sê prof. Kagee dat sommige studente ongemaklik was as die onderwerp in die klas verander is en dat goeie fasiliteringsvaardighede nodig was om seker te maak dat alle studente gehoor word en nie slegs diegene met goeie mondelinge vaardighede in Engels nie. Hy moes die behoeftes van alle studente opweeg en die maksimum vlak van begrip van die klasmateriaal verseker, terwyl studente ook aangemoedig is om vrae te vra, menings te deel en oor kwessies te debatteer.

Prof. Kagee se visie vir die nuwe module sluit die integrasie van die US se graduandi-eienskappe in, om studente te bemagtig om ʼn samelewing te verbeel wat gekenmerk word deur gelykheid, maatskaplike samehorigheid, gemeenskapsveiligheid, maatskaplike geregtigheid en politieke aanspreeklikheid. As intellektueel vaardige beroepslui wat deur die US gelewer word, moet hulle voorbereid wees om die leierskapsmantel in die samelewing op te neem, instellings en sake-ondernemings te bestuur, as entrepreneurs te floreer en staatsdepartemente optimaal te laat funksioneer. Hulle moet deel wees van ʼn opgevoede en kritiese burgery met kritiese denkvaardighede, wat politieke opportunisme, korrupsie, populisme en opswepery in die samelewing kan teenwerk.

Die Afdeling Leer- en Onderrigverryking verleen erkenning aan prof. Kagee se bydrae tot die transformasie van onderrig-leer-assessering aan die US en wens hom geluk met wat hy met die hernuwing van sy module bereik het. Dit was ʼn voorreg om tydens hierdie sessie uit sy ervarings te leer.

ʼn Opname van die sessie kan by DLTE-seminar 16 March 2023.mp4 besigtig word.