Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderling verbind: Mens- en diere-TB deel van dieselfde probleem
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Ilse Bigalke
Gepubliseer: 20/03/2023
 


Tuberkulose (TB) by mense kan nie uitgeroei word tensy TB by diere ook uitgeskakel word nie, omdat hierdie twee siektes ten nouste onder die sambreel van “Een Gesondheid" verbind is.

Dít is die kernboodskap wat die Dieretuberkulose-navorsingsgroep van die Universiteit Stellenbosch (US) op Wêreld-TB-dag wil oordra.

Wêreld-TB-dag word elke jaar op 24 Maart gedenk om bewustheid te verhoog van TB en van die pogings wat aangewend word om hierdie globale epidemie te beëindig. Die bakterie wat TB veroorsaak, is op 24 Maart 1882 ontdek en die tema op Wêreld-TB-dag 2023 is “Ja! Ons kan ʼn einde aan TB maak!"

Die hooffokus van die Dieretuberkulose-navorsingsgroep in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is om die oordrag wat tussen wildlewe, vee en mense plaasvind, te verbreek.

In ʼn video wat vir Wêreld-TB-dag geproduseer is, ondersoek die wetenskaplikes die dood in 2016 van ʼn olifant in die Kruger Nasionale Park (KNP) weens TB.

Prof Michele Miller, wat die groep lei, sê die dood van hierdie olifant het wetenskaplikes verbyster. “Bees-TB (wat deur die bakterie Mycobacterium bovis veroorsaak word) is in 1990 bo alle twyfel in die KNP se wilde diere gediagnoseer, maar hierdie geval was anders. Dit het geblyk die olifant het mens-TB onder lede gehad."

Dit was die eerste keer dat wetenskaplikes ʼn dodelike geval van mens-TB in ʼn wilde Afrika-olifant geïdentifiseer het. Maar hoe is dit moontlik dat wilde diere met mens-TB besmet kan word?

“TB word dikwels net beskou as ʼn siekte wat mense raak, terwyl dit inderwaarheid ʼn siekte met veelvuldige gashere is," verduidelik Miller. Al word diere tipies met Mycobacterium bovis en mense met Mycobacterium tuberculosis besmet, is daar al hoe meer berigte van omgekeerde infeksie van diere na mense en andersom.

“Besmette wildlewepopulasies, soos in die KNP, kan die verspreiding van Mycobacterium bovis oor grense tussen parke en reservate na vee in gemeenskappe meebring, en uiteindelik na mense. In areas met ʼn hoë TB-las, soos Suid-Afrika, kan mense kos- of ander afval weggooi wat deur olifante opgetel word en wat mens-TB na hierdie diere kan oordra," verduidelik die wetenskaplikes.

Oorsprong

Bees-TB is na Suid-Afrika gebring toe besmette beeste deur die eerste Europese setlaars ingevoer is. “Dit was primêr ʼn siekte van huishoudelike vee en dit was eers in die 1990's dat ons werklik bewus geraak het dat dit van huishoudelike vee na wildlewe in die Krugerpark kan oorspoel," sê dr Peter Buss, Senior Veeartsenybestuurder in die KNP se Veeartseny- en Wildlewedienste.

Vandag raak TB in die KNP meer as 20 spesies, insluitende buffels, koedoes, leeus, bokke, renosters en olifante.

Ekonomiese implikasies

TB by diere hou nie net reuse- gesondheidsimplikasies vir Suid-Afrika in nie, maar raak ook die ekonomie uiters nadelig. Talle landelike gemeenskappe maak swaar op vee as ʼn bron van kos en melk staat en landbou wat op vee fokus is een van die grootste bydraers tot die land se bruto nasionale produk (BBP).  

Vee wat deur bees-TB geraak word, sal gewig verloor en minder melk produseer. En as enige besmetting bespeur word, sal die plaas onder kwarantyn geplaas word en kan die diere sonder enige vergoeding vir die eienaar geslag word. Dit het ʼn reuse-effek op voedselsekerheid en op mense se bestaan.  

Belang van navorsing

Vroeë bespeuring van TB is geweldig belangrik vir ekonomiese én gesondheidsredes. “Om dit te doen, moet ons kan bepaal of diere deur Mycobacterium bovis besmet is," verduidelik die wetenskaplikes.

Dit was nog altyd baie moeilik om bees-TB te diagnoseer omdat beperkte toetse vir wildlewe beskikbaar is. Spesies-spesifieke reagense (byvoorbeeld vir renosters, olifante en leeus) is nie kommersieel beskikbaar nie.

Aanvanklik kon die groep diere eers ná hul dood weens óf natuurlike oorsake óf kliniese simptome van TB toets, maar hul navorsing het intussen diagnoses in lewende diere moontlik gemaak, asook in veelvuldige spesies. Dit word gedoen deur monsters van diere onder narkose te bekom en dit in US-laboratoriums vir die teenwoordigheid van die TB-patogeen te toets.

“Die US neem toetsing na ʼn nuwe vlak deur na die epidemiologie van die siekte te kyk," merk Buss op.

Een Gesondheidsbenadering vir TB

Die Dieretuberkulose-navorsingsgroep benadruk die belangrikheid van die verdere ontwikkeling van snel- en akkurate diagnostiese toetse en van ʼn “Een Gesondheid"-benadering, wat die onderlinge verbintenis tussen menslike, diere- en omgewingsgesondheid erken.

“Ons sê die TB-probleem is nie ʼn eenrigting-kwessie nie. As ons nie die TB-probleem in ons huishoudelike diere en wildlewespesies aanpak nie, kan dit na mense oorspoel en sal dit tot die totale menslike TB-las bydra," is hulle gevolgtrekking.