Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Helena Conradie tot Universiteit Stellenbosch Raad verkies
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 10/03/2023

​Die US Raad dra 'n algemene oorsigverantwoordelikheid ten opsigte van akademiese en bedryfsaangeleentheid, asook oor institusionele beleid en strategie. 

Die US se Registrateur, dr Ronel Retief, het die lede van die verkiesingskollege van donateurs bedank wat in die verkiesing gestem het. Conradie was een van twee kandidate wat vir die verkiesing genomineer is. “Ons wens haar alles van die beste toe vir haar vier jaar lange termyn in die Raad," het Retief gesê.

Conradie, 'n US-alumna, glo universiteite speel 'n baie belangrike rol om gemeenskappe te help om wins én doel te prioritiseer. Haar sterk globale netwerk en erkenning as 'n baanbreker in die passiewe beleggingsbedryf sal aansienlike waarde tot die Raad toevoeg.

“Ek sien uit na die geleentheid om, in samewerking met my mede-raadslede, 'n betekenisvolle bydrae te lewer tot die toekoms van ons universiteit. My ondervinding in die finansiëledienstebedryf en by Satrix stel my in staat om bydraes in die Raad te kan lewer oor kwessies soos demokratisering van beleggings, volhoubaarheid, die skep van 'n inklusiewe kultuur en die rol van diversiteit in ons samelewing," sê Conradie.

Nicky Newton-King, waarnemende voorsitter van die Raad, het bygevoeg: ““Helena was 'n baanbreker in soveel aspekte van haar besigheidsloopbaan. Ek is so bly dat iemand van haar kaliber by die Raad kan aansluit – juis in 'n tyd dat die US gefokus is op sy reis om 'n vorentoe-georiënteerde, navorsingsintensiewe, innoverende en inklusiewe universiteit te wees."

Conradie is 'n geoktrooieerde finansiële ontleder by die CFA en het 'n MSc-graad in Toegepaste Wiskunde (cum laude) aan die US behaal. Sy dien in die direksies van Satrix, Strate en Women in ETF (Vroue in beursverhandelde fondse) vir die EMEA- (Europa, Midde-Ooste, Afrika) streek. Sy is ook lid van die FTSE/JSE-advieskomitee en die JSE-kredietkantraad.