Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoë-intensiteit brande keer nie bosindringing in ’n Afrika-savanna om nie
Outeur: Wiida Fourie-Basson, Faculty of Science (media)
Gepubliseer: 17/02/2023

​'n Dekade lange eksperiment oor die gebruik van hoë-intensiteit vure om bosindringing in Suid-Afrika se Nasionale Krugerwildtuin te beheer het aan die lig gebring dat, ten spyte van 'n aanvanklike korttermyneffek, dit nie in die lang termyn 'n betekenisvolle omkeer in bosindrining teweeggebring het nie.

Die uitkoms van hierdie langtermyn en grootskaalse eksperiment is vandag in die Journal of Applied Ecology gepubliseer in 'n artikel getiteld: “High-intensity fires may have limited medium-term effectiveness for reversing woody plant encroachment in an African savanna".

Prof. Brian van Wilgen, emeritus professor in indringerbiologie by die Universiteit Stellenbosch (US) en een van die mede-outeurs, sê die meeste navorsing wat die gebruik van hoë-intensiteit brande voorstaan, is gegrond op waarneming oor 'n kort tydperk: “Ek dink dit is die eerste studie wat gedoen is om die doeltreffendheid van hierdie bestuurspraktyk oor die tydperk van 'n dekade te bepaal," voeg hy by.

'n Dekade lange eksperiment

In 2010 en weer in 2013, is aangrensende gebiede in die suidelike dele van die Nasionale Krugerwildtuin wat  duisende hektaar beslaan, aan lae, medium en hoë-intensiteit brandbehandelings onderwerp.  Die doel hiervan was om die doeltreffendheid van hoë-intensiteit brande te ondersoek om bosindringing om te keer. Op daardie tydstip moes KNP amptenare aansienlike negatiewe publisiteit hanteer nadat verskeie diere beseer is of gevrek het na die eerste stel beheerde brande.

'n Studie wat verslag gedoen het oor 'n opname een jaar na die afhandeling van hierdie eksperimentele brande, het getoon dat houtagtige plantbedekking inderdaad aansienlik afgeneem het een jaar na die hoë-intensiteit brande. Die aanvanklike studie het egter gewaarsku dat die langtermyn doeltreffendheid van hierdie hoë-intensiteit brande nog vasgestel moes word.

In 2020 het wetenskaplikes van Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), Harvard Universiteit en die  Sentrum vir Indringerbiologie  by die Universiteit Stellenbosch die 2010-data met hulle waarnemingsdata van 2020 vergelyk, met behulp van 'n kombinasie van grondopnames en afstandswaarnemingdata. Ondanks die aanvanklike bemoedigende resultate, het hulle gevind dat hulle na tien jaar nie daarin kon slaag om 'n afname in die houtagtige plantbedekking te behou nie. Selfs al was daar groot verskille tussen die brandbehandelingsterreine een jaar na die brandbehandelings, het hierdie verskille na tien jaar verdwyn, wat sterk daarop dui dat verskille in brandintensiteit nie 'n langtermyn effek op bosindringing gehad het nie.  

Wat selfs meer kommerwekkend was, was die effek van brande op hoë bome in die Krugerwildtuin. Oor die afgelope dekade het die aantal bome van hoër as tien meter met ongeveer 65% afgeneem oor al die eksperimentele terreine, ongeag die brandbehandeling.  

Volgens Tercia Strydom, 'n wetenskaplike van SANParke en hoofouteur van die artikel, is dit toe te skryf aan 'n kombinasie van olifant- én brandskade: “Hoë bome is normaalweg in staat om gereelde savannabrande te weerstaan as gevolg van hulle dik baslae. Maar wanneer olifante bome ontbas (omdat hulle dit eet), word daardie dik beskermende baslaag verwyder wat dan die binnehout blootlê. Hierdie binnehout kan nie warm vure weerstaan nie en vat dan vlam tydens 'n brand. Hierdie vuur brand en smeul dan binne die boom totdat die boom uiteindelik die onderspit delf," verduidelik sy.

Lesse geleer

Volgens Prof. van Wilgen, toon die artikel die waarde van langtermynmonitering ten einde die werklike uitkoms vas te stel en dus nie oorhaastig gevolgtrekkings te maak nie: “dit wys ook hoe kompleks dinge kan wees en dat daar geen maklike oplossing vir bosindringing bestaan nie.

Dr. Izak Smit, senior wetenskaplike by SANParke en nog 'n mede-outeur, sê die park volg steeds 'n strategiese aanpasbare bestuursbenadering waarin plaaslike konteks van die uiterste belang is: “Die beste beskikbare kennis moet uit die literatuur versamel word en op grond daarvan moet 'n omsigtige evaluasie gedoen word wat dan bepaal watter bestuursaksie jy gepas beskou om in jou belangstellingsveld te implementeer. Die uitkomste van hierdie aksie moet noukeurig gemonitor word om te bepaal of jy werklik die verwagte uitkomste verkry al dan nie".

“Op hierdie wyse stel ekologie sy kompleksiteit en genuanseerdheid in verskillende kontekste ten toon en stel ons ook in staat om die manier waarop ons beskermende gebiede bestuur,  te verfyn . En algaande leer ons om te bestuur in die aangesig van onsekerheid," voeg hy by. 

Hulle waarsku dat interkontinentale en selfs intrakontinentale veralgemenings op 'n globale skaal ons steeds ontwyk. Volgens Strydom is hierdie gevallestudie dalk nie eers verteenwoordigend van ander dele van Suider-Afrika nie, as gevolg van verskille in olifantdigtheid, grondtipe en reënval en 'n magdom ander faktore.

Die pad vorentoe

Die Krugerwildtuin het 'n lang geskiedenis van wetenskaplike navorsing en volgens Dr.Smit ondersoek hulle nou die potensiaal van brande in die vroeë nat, of vroë droë seisoene as 'n manier om bosindringing te hanteer −  'n alternatief vir hoë-intensiteit brande.

Hy verduidelik: “Wanneer houtagtige spesies dormant is gedurende die droë seisoen, verskuif hulle baie van hulle hulpbronne na hulle wortels terwyl die boonste gedeeltes “rus". Indien 'n brand dus die bogrondse gedeeltes gedurende hierdie tydperk vernietig, het die plant steeds genoeg hulpbronne wat ondergronds gestoor is sodat dit weer kan uitloop wanneer toestande gunstig is. Indien die plant egter in blaar is en 'n vuur vernietig die bogrondse dele, is die verwagting dat die skade aan die plant groter is, wat presies is wat ons wil bereik wanneer ons bekommerd is oor bosindringing. Die kuns lê dus daarin om te probeer brand wanneer daar genoeg droë gras is om brande van redelike intensiteit te dra, terwyl die bosspesies terselfdertyd in 'n meer kwesbare blaarstadium is. Die lente bied  soms hierdie geleentheid wanneer die gras steeds droog genoeg is om te brand en die houtagtige spesies alreeds in blaar is en dus meer kwesbaar vir brandskade is".

Op die ou end, sê hy, moet jy beide die plaaslike en globale dryfvere van verandering, asook hulle interaksies met mekaar verstaan, ten einde te kan uitpluis of en hoe verskillende bestuursaksies (of gebrek aan aksie) die situasie kan verbeter of selfs vererger. 

Op die foto bo: 'n Tipiese brand in die Nasionale Krugerwildtuin wys hoe beide die grasse en struike brand. Fotokrediet: Brian van Wilgen

Media-onderhoude

Prof Brian van Wilgen

DWI-NNS Sentrum van Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB), Universiteit Stellenbosch

E-pos: bvanwilgen@sun.ac.za

Sel: 082 454 9726

 

Tercia Strydom

Wetenskaplike, SANParke

E-pos: tercia.strydom@sanparks.com

Werk: 013 735 4024

Sel: 073 505 2265

 

Dr Izak Smit

Senior wetenskaplike, SANParke

E-pos: izak.smit@sanparks.com

Sel/landlyn: +27 (0)44 343 1302