Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Privaat, gemeenskaplike grondeienaars benodig meer ondersteuning om renosters te beskerm
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/02/2023

Renostergetalle in belangrike staatsbestuurde parke in Suid-Afrika, veral die Kruger Nasionale Park, het drasties afgeneem weens stroping. Verliese was minder op privaat en gemeenskaplike grond, wat tot ʼn situasie gelei het waar ten minste die helfte van die oorblywende renosters in Afrika op privaat of gemeenskaplike grond bewaar word. Gegewe die stygende koste om hulle te beskerm, het ons aanpasbare beleide nodig om privaat en gemeenskaplike renosterbewaarders in hulle bewaringspogings te ondersteun.

Dít is volgens 'n nuwe studie wat onlangs in die ewekniebeoordeelde vaktydskrif, Frontiers in Ecology and the Environment, verskyn het.

“Ons het bevolkingsdata van die renosters in Afrika versamel om die toenemende rol van privaat en gemeenskapsrenosterbewaarders te beklemtoon. Hulle bewaar nou waarskynlik sowat 50% van Afrika se renosters," sê die hoofskrywer, dr Hayley Clements van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Volhoubare Oorgange en die Universiteit van Helsinki. Sy het die studie saam met dr Dave Balfour van die Nelson Mandela-Universiteit en prof Enrico Di Minin van die Universiteit van Helsinki en die Universiteit van KwaZulu-Natal onderneem. Hulle het die afname in renostergetalle in die Kruger Nasionale Park gekontekstualiseer deur beskikbare data oor renosterbevolkings in staatsbestuurde parke en op privaat en gemeenskaplike grond in Suid-Afrika en ander Afrika-lande te ontleed.

Renostergetalle

Die navorsers wys daarop dat hoewel Suid-Afrika steeds na die grootste aantal oorblywende renosters in Afrika – 81% van die wit- en 33% van die swartrenosters – omsien, verminder bevolkings van die spesie wat die meeste gestroop word, die witrenoster, onvolhoubaar en is dit baie ontmoedigend.

“Tot die laaste dekade is die grootste bevolkings by verre van Suid-Afrikaanse renosters in die staatsbestuurde Kruger Nasionale Park gevind. Die park het egter 'n stroperbrandpunt geword, met syfers wat in 2021 bekendgemaak is wat op 'n afname van 76% in die getal witrenosters en 68% in die getal swartrenosters die afgelope dekade dui. Na raming het die getal witrenosters in 2021 met nog 14,7% gedaal.

“In dieselfde dekade het die geskatte aantal witrenosters op privaat grond in Suid-Afrika gelydelik toegeneem. As gevolg van hierdie uiteenlopende neigings in die renosterbevolking op staats- en privaat grond, het die proporsie van die land se witrenosters op privaat grond van 25% in 2010 tot 53% in 2021 gestyg. Dit beteken dat privaat grondeienaars in Suid-Afrika nou gesamentlik die grootste aantal witrenosters op die vasteland onderhou. 'n Laer, maar steeds aansienlike proporsie (ongeveer 25% oor die afgelope dekade) van Suid-Afrika se swartrenosters word op privaat grond bewaar."

Die navorsers sê daar is tans relatief min renosters op gemeenskaplike grond in Suid-Afrika ('n geraamde 1% wit- en 6% swartrenosters). Hulle sê die verwante bydrae van privaat en gemeenskapsgrondeienaars tot nasionale renostergetalle is net so belangrik in lande soos Zimbabwe, Namibië en Kenia.

“Sedert 2018 word 88% van Zimbabwe se swartrenosters en 76% van die land se witrenosters op privaat grond bewaar, net soos dit in Namibië met 27% van die land se swart- en 75% van sy witrenosters die geval was. Interessant genoeg bly 7% van Namibië se swartrenosterbevolking in bewaringsgebiede. Net so word 45% van Kenia se swart- en 72% van sy witrenosters sedert 2016 deur privaat grondbesitters bewaar."

Volgens die navorsers kan hierdie grondbesitters egter sukkel om hulle bewaringswerk voort te sit namate die koste verbonde aan die beskerming van renosters styg en opsies om 'n inkomste te verdien, onvoldoende word.

“Indien daar nie 'n doeltreffende manier vir volhoubare finansiering vir renosterbewaring materialiseer nie, sal privaat grondbesitters moontlik verder in renosters disinvesteer. Dit is ook onduidelik hoe gemeenskappe hierdie hoë beskermingskoste vir renosters sal kan dek in die afwesigheid van toenemende finansiering deur skenkers of vennote of ander inkomstestrome. Dit beperk dus die potensiaal om meer inklusiewe bewaringstelsels te skep en onderhou."

Beleidsaanpassings

Die navorsers beklemtoon die behoefte aan beleide wat 'n instaatstellende omgewing vir renosters op privaat en gemeenskaplike grond kan verseker met aansporings wat hoër is as die koste van renosterbewaring. Dit vereis responsiewe beleidskepping en konteks-spesifieke besluitneming rondom die handel in en jag en bestuur van renosters.

Wanneer dit kom by aanpassingsbeleide, vestig die navorsers die aandag op die internasionale verbod op handel in renosterhoring onder die beskerming van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (CITES) en kommer oor die intensiewe produksie van witrenosters op privaat grond in Suid-Afrika.

“Daar is voorgestel dat 'n meer gepaste eerste maatreël vir die bewaring van bedreigde spesies die ontwikkeling van konteksgepaste bewaringsprogramme in vennootskap met die plaaslike inwoners kan wees, eerder as die 'stomp voorwerp' bo-na-onder benadering van 'n internasionale handelsverbod.

​“Eerder as om net intensifikasie te beperk, is dit noodsaaklik dat toekomstige beleid nuwe aansporings in werking stel wat renosterbewaring op private en gemeenskaplike grond aanmoedig. Dit kan onder meer 'n gunstiger belastingstruktuur vir grondbesitters, koolstofkrediete (finansiële betalings wat gekoppel is aan koolstofsekwestrasie) of ander innoverende finansiële meganismes soos 'renosterobligasies' ('n betaal-vir-resultate-impakbelegging wat die risiko van die finansiering van renosterbewaring van skenkers na impakbeleggers verskuif deur finansiële prestasie op bewaringsprestasie voorwaardelik te maak), skarefinansiering of sertifiserings vir uitgebreide bestuur wat die waarde van hulle natuurgebaseerde toerisme- en jagaanbiedinge verhoog."

Die navorsers sê toenemende deursigtigheid deur regerings en die beskikbaarheid van die jongste, bygewerkte inligting oor renostergetalle, stropingskoerse en sekerheidskoste kan help om langtermynneigings in renosterbevolkings regoor eiendomsregtipes te identifiseer en te kwantifiseer, terwyl dit ook rigting kan gee aan hulle bewaring en help om openbare bewustheid en ondersteuning te kweek.

  • ​BRON: Clements, HS; Balfour, D & Di Minin, E 2023. Importance of private and communal lands to sustainable conservation of Africa's rhinoceroses. Frontiers in Ecology and the Environment. doi:10.1002/fee.2593