Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorwaardes vir navorsingsbeurse hou vroue in STEM-vakgebiede terug
Outeur: Anita Bosch & Georgina Pondayi
Gepubliseer: 13/02/2023

​Die Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap is op Saterdag 11 Februarie gevier. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf prof Anita Bosch & dr Georgina Pondayi (Stellenbosch Bestuurskool) dat die voorwaardes vir navorsingsbeurse dikwels vroue-akademici daarvan weerhou om vir hierdie tipe befondsing aansoek te doen.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Anita Bosch & Georgina Pondayi*

Die Internasionale Dag van Vroue en Meisies in die Wetenskap word jaarliks op 11 Februarie gevier om onder meer die behoefte aan geslagsgelykheid in die STEM-vakgebiede (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) te beklemtoon. Die dag het ook ten doel om ons daaraan te herinner dat vroue, ondanks die vordering wat reeds gemaak is, steeds onderverteenwoordig is in hierdie vakgebiede.

Een kwessie wat aangespreek moet word, is die opdraande stryd wat vroue-akademici ondervind wanneer hulle vir navorsingsbeurse aansoek doen. Afgesien daarvan dat hulle 'n kleiner kans het om hierdie tipe beurstoekennings te kry, ontvang hulle ook kleiner navorsingsbeurse.

Finansieringstelsels is geneig om mans te bevoordeel – 'n situasie wat verder vererger word deur die bevoordeling van manlik-oorheersde en kulturele manlike poste en vakgebiede. Dit is dus nie verbasend dat mans wêreldwyd steeds makliker finansiering deur navorsingsbeurse in STEM-vakgebiede én die sosiale wetenskappe bekom as vroue nie.

Navorsingsbeurse is belangrik vir vroue-akademici om die hoëronderwysleer te klim en om hulleself as leiers in hulle onderskeie vakgebiede te vestig. Die Amerikaanse vakkundiges, Rebecca Blanchard, Reva Kleppel en Diana W Bianchi, het aangedui dat vroulike ontvangers van vroeëloopbaanbeurse ekonomiese, sosiale en kulturele kapitaal ontvang – iets wat noodsaaklik is vir die bevordering van 'n navorsingsloopbaan. Om navorsingsbeurse te ontvang is dus 'n belangrike aanwyser van navorsingsontwikkeling en -invloed.

Ongelukkig maak die omstandighede van beurstoekennings (dit is die reëls, die modus, die plek van navorsingsmedewerking en die insluitings- en uitsluitingskriteria van beurshouers) dit vir vroue moeilik om vir finansiering aansoek te doen. Die manier waarop die voorwaardes vir beurstoekennings geformuleer word, kan ongemak vir vroue veroorsaak in hulle selfassessering daarvan of hulle vir 'n beurs gaan aansoek doen, en of hulle hulself eerder gaan uitsluit nog voordat hulle aansoek doen.

Ons het in ons onlangse navorsingstudie gepoog om die volgende vraag te beantwoord: Hoe beperk beursvoorwaardes vroue se geneigdheid om vir navorsingsbeurse aansoek te doen?  

Ten slotte …

Ons studie het getoon dat voorwaardes vir navorsingsbeurse vrouenavorsers se geneigdheid om te kies om nie aansoek te doen nie, kan vorm. Daarom moet beursverskaffers die kwessies aanspreek wat vroueakademici verhoed om vir beurse aansoek te doen deur beursvoorwaardes aan te pas om aan hulle behoeftes te voldoen. Ons is oortuig daarvan dat gelykheid in die aantal vroue- en mansnavorsers bereik kan word aangesien daar genoeg bevoegde vroue in die meeste groot vakgebiede is.

  • ​Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.​

*Prof Anita Bosch beklee die Navorsingsleerstoel vir Vroue by die Werk by die Stellenbosch Bestuurskool in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Dr Georgina Pondayi was 'n postdoktorale genoot by die Stellenbosch Bestuurskool. Hierdie artikel is gedeeltelik gegrond op hulle onlangse akademiese artikel wat in die Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa verskyn het.

 ​