Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Cameron-versameling bekendgestel en gereed vir gebruik in US Biblioteek
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/12/2022

Die bekendstelling en opening van die oudregter Edwin Cameron-versameling en -leeskamer het Dinsdag (6 Desember 2022) in die Universiteit Stellenbosch (US) Biblioteek plaasgevind. Die versameling, wat in 2021 ontvang is, word in die Spesiale Versamelingsafdeling van die biblioteek gehuisves en kan nou deur navorsers gebruik word. 

Dié omvattende versameling bevat publikasies en lesings deur Cameron, asook materiaal oor sy vrywillige gemeenskapsdiens. Belangrik is dat dit ook materiaal oor sy loopbaan en sy jare as regter in die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika bevat. Dit sluit hofsake, toesprake, joernale, video's, koerantuitknipsels en foto's in. 

Ellen Tise, Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdienste, het gesê die versameling is die hoogtepunt van ʼn gesprek wat sy in Desember 2020 met Cameron begin het en is die 461ste versameling wat deur die manuskrip-seksie van die Spesiale Versamelingsafdeling gekurateer word.   

“Hierdie baie spesiale versameling bied navorsers ʼn kykie na hoe ons toekoms daar kan uitsien deur na die verlede te kyk, asook na wat tans in die land gebeur," het sy gesê. 

Prof Nicola Smit, Dekaan van die Regsfakulteit, het ʼn soortgelyke mening gehuldig. 

“Hierdie versameling van een van Suid-Afrika se voorste regsgeleerdes en aktiviste sal navorsers en ons studente help om Suid-Afrika se geskiedenis en ons verlede beter te verstaan. Dis ʼn kosbare geskenk aan huidige en toekomstige generasies studente en skoliere. Dit sal hulle help om ʼn dieper begrip te ontwikkel van hoe individue soos regter Cameron ʼn moedige standpunt teen die ongeregtighede van hul tyd in solidariteit met andere ingeneem het. Dit sal hulle hopelik ook help om weë na geregtigheid in hul eie tyd te baan." 

Cameron, wat sedert Januarie 2020 Kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) is, het gesê dit raak hom diep en hy is dankbaar om op hierdie wyse vereer te word, maar het benadruk dat die versameling nie oor hom gaan nie.

​“Dit gaan oor die geskiedenis en om die kwessies te herdenk wat ek toegelaat is om aan te pak en na vore te bring. Ek hoop hierdie versameling sal tot groter begrip vir daardie kwessies bydra." 

Hierdie afgetrede regter van die Konstitusionele Hof is goed bekend vir sy aktivisme oor MIV-vigs en gay regte. President Cyril Ramaphosa het hom op 1 Januarie 2020 as die Inspekterende Regter van Korrektiewe Dienste aangewys. 

In 2015 het die US ʼn eredoktorsgraad aan Cameron toegeken ter erkenning van sy “toegewyde professionele en persoonlike voorspraak vir die erkenning van elke mens se waardigheid, vryheid en gelykheid – stigtingswaardes wat hy in ons regstelsel en verder help verskans het". 

Hy het gehelp om die Suid-Afrikaanse reg te ontwikkel sodat dit waarlik die fundamentele waardes van die Grondwet weerspieël. Voorts het sy rol om seker te maak dat seksuele oriëntasie as ʼn verbode grondslag vir diskriminasie in die Handves van Regte ingesluit word, asook sy voorspraak vir mense met MIV/vigs, van hom ʼn sleutelspeler in die Suid-Afrikaanse en internasionale reg gemaak.    

Cameron het aan die Universiteite van Stellenbosch, Oxford en Suid-Afrika gestudeer. Hy het sy loopbaan onder meer aan die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Toegepaste Regstudies begin, voor hy in 1994 as senior advokaat aangestel is. Later daardie jaar het oudpresident Nelson Mandela hom as waarnemende regter van die Hooggeregshof aangestel. In 1995 is hy aangestel as regter van die Hoogste Hof van Appèl en in 2009 as regter van die Konstitusionele Hof. 

As die eerste Suid-Afrikaner in ʼn hoëprofiel- openbare amp wat openlik oor sy MIV-status en sy ervaring met die neem van antiretrovirale middels (ARM's) gepraat het, het Cameron ʼn geloofwaardige en deurslaggewende bydrae tot meer toeganklike ARM-behandeling vir alle MIV-positiewe Suid-Afrikaners gemaak. 

Die Cameron-versameling pryk langs ander versamelings van US-kanseliers soos dié van Frederik Van Zyl Slabbert. Die versameling is gesorteer en geïndekseer en ʼn inventaris is hier beskikbaar.