Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kanselierstoekennings vereer personeel vir uitnemende werk
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 12/12/2022

​Die Universiteit Stellenbosch het vandeesweek erkenning gegee aan 'n kohort personeellede wie se loopbane van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en professionele dienste getuig.

Hierdie personeellede het die Universiteit se gesogte Kanselierstoekennings ontvang. Die toekennings is een van verskeie maniere waarop daar erkenning aan uitnemende prestasie gegee word.

Die ontvangers van die 2022 Kanselierstoekennings sluit in:

Prof Eugene Cloete: As die voormalige Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, laat Cloete 'n gesonde portefeulje na. Hy het uitstekende werk gedoen om 'n uitstaande, toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit te vestig, belangrike vennootskappe te ontwikkel, en terselfdertyd nagraadse studie uit te brei as 'n belangrike volhoubare bousteen om navorsing te ondersteun. Hy het voorpunt-entiteite gevestig, insluitende die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en die Skool vir Klimaatstudie. Navorsingsuitsette, navorsingsleerstoele, navorsingsfinansiering en nadoktorale genootskappe het meer as verdubbel tydens sy ampstermyn.

Prof Ilse Feinauer: In haar 40 jaar as akademikus aan die US, het Feinauer nasionaal én internasionaal 'n uitstaande navorsingsprofiel opgebou. Sy is een van die stigterslede van die African Society for Translation Studies (ATSA) en is 'n lid van die uitvoerende raad van die European Society for Translation Studies (EST). Haar betrokkenheid by internasionale organisasies en kongresse het daartoe gelei dat die EST-kongres in 2019 op Stellenbosch gehou is – die eerste keer wat dit buite Europa plaasgevind het. Sy is die eerste bekleër van die Ton en Anet Vosloo Leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk in die Departement Afrikaans en Nederlands en is die ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.​​​

Prof Taryn Young: As 'n kundige in die veld van bewysgebaseerde gesondheidsorg, het Young al meer as 150 akademiese artikels geskryf en R150 miljoen in navorsingstoekennings ontvang. Sy is die uitvoerende hoof van die Departement Globale Gesondheid, hoof van die Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek en direkteur van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg. Haar samewerking met van die voorste gesondheids-en-bewysgebaseerde instellings ter bevordering van wetenskapsontleding, asook haar verbintenisse met die provinsiale en nasionale gesondheidsdepartemente, het gelei tot beleidsveranderings met bewysgebaseerde grondslae. Haar leierskap in navorsingskapasiteitsontwikkeling het die wetenskaplike nougesetheid en werk van studente, opkomende en gevestigde navorsers positief beïnvloed.

Prof Frenette Southwood: Sy is een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande wetenskaplikes op die gebied van kindertaalnavorsing en die voorste kenner van taalontwikkeling in Afrikaans. Sy is mededirekteur van die Kindertaalontwikkeling-navorsingsnodus waar sy 'n grootskaalse, multi-institusionele inisiatief oor vroeë ontwikkeling in al 11 amptelike landstale lei. Hierdie projek was 'n finalis vir die gesogte VK–Suid-Afrika Newton-prys in 2020. As 'n Alexander von Humboldt-alumna, lewer sy 'n beduidende bydrae tot Dowe-studie deur die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse Gebaretaal-kurrikulummateriaal vir skole vir Dowes. Haar navorsing het aansienlike sosiale impak, veral die daarstelling van taalassesseringsinstrumente en -intervensies vir Suid-Afrika se kinders.

Prof Anthony Vernon Naidoo: Naidoo, wat aan die einde van 2022 aftree, is 'n staatmaker akademikus wat dekades lank al sosiale impak in sy werk beklemtoon. As professor in Sielkunde wat op die gebied van berading en kliniese en gemeenskapsielkunde spesialiseer, het hy in die kernaspekte van leer en onderrig, navorsing en innovasie, transformatiewe sosiale impak en akademiese bestuur en leierskap uitgeblink. Naidoo se indrukwekkende curriculum vitae is 'n bewys van sy uitmuntende bydrae tot alle soorte sosiale impak by die Universiteit. Hy het direkte insette op die gebied van diensleer gelewer en het ook gehelp om 'n vakkundigheid oor diensleer in plaaslike en wêreldwye kontekste te ontwikkel.

Daniel Ranna: Daniel Ranna is 'n uitsonderlike personeellid wat in 2006 by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangesluit het. Hy word bewonder sy behulpsame ingesteldheid – 'n eienskap wat vir baie mense by die Fakulteit opmerklik is, aangesien hy vir baie mense die eerste én die laaste mens is wat hulle elke dag op kampus sien. Ranna het die vermoë om jou dag op te helder, ongeag die uitdagings waarvoor jy te staan kom. Hy het persoonlike verbintenisse met byna elke personeellid en die ongelooflike vermoë om almal se stories te onthou. Ranna was nog altyd 'n uitblinker. Sy teenwoordigheid in die fakulteit het oor die afgelope 16 jaar vir baie mense 'n reuseverskil gemaak. Hy verpersoonlik die Universiteit Stellenbosch se waardes van uitnemendheid, deernis, billikheid, respek en verantwoordbaarheid, en die US bedank hom vir sy prysenswaardige toewyding.

Prof Susan van Schalkwyk: As 'n leier en onderwysspesialis in die gesondheidswetenskappe, beïnvloed Van Schalkwyk se innoverende projekte die werk van studente en personeel, die akademie en die bedryf. Haar akademiese reis het die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys op die internasionale verhoog geplaas en sy het ook as opvoedkunde-adviseur vir groot VSA-gebaseerde fondse gedien. Sy is die leier van verskeie ontwikkelingsinisiatiewe by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Haar toekennings sluit 'n Toekenning vir Uitnemende Onderrig (Uitgelese Dosent) en 'n onderriggenootskap, albei van die Universiteit Stellenbosch, in.

Prof Marena Manley: Manley lewer 'n belangrike bydrae as opvoedkundige en navorser in die Departement Voedselwetenskappe, Sy bied onder meer studieleiding aan 53 meestersgraad- en 14 PhD-studente en vyf nadoktorale genote. Haar bydrae sluit ook 121 eweknie-beoordeelde publikasies en nege boekhoofstukke en aanbiedings by meer as 160 nasionale en internasionale kongresse in, wat programredes insluit. Uitstaande hoogtepunte is die Toekenning vir Volgehoue Uitnemendheid in Graannavorsing en Tegnologie in 2010 en die uitnodiging vir 'n oorsigartikel in die gesogte vaktydskrif Chemical Society Reviews­ in 2014. Manley het ook 'n belangrike rol in die vestiging van die eerste Eenheid in Vibrasiespektroskopie in Afrika aan die US in 2018 gespeel. 

Johan Booysen: As die departementele bestuurder van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, het Booysen se bydrae oor 20 jaar tot die voortgesette groei van hierdie departement en tot die verdubbeling van ons navorsingsuitsette gelei. Hy speel ook 'n sentrale rol in die opkomende herinrigting van die Departement. Hy is 'n ensiklopedie van institusionele kennis en kan met reg as die ruggraat van die Departement beskou word. Hy is 'n besonderse individu en sy professionaliteit en onbaatsugtige toewyding tot die Stellenbosch Universiteit is 'n voorbeeld vir almal. 

Prof Steven Bradshaw: Bradshaw is 'n uitgelese professor aan die Departement Prosesingenieurswese wat merkwaardige bydraes oor 'n tydperk van meer as 30 jaar deur sy onderrig, navorsing, bedryfsinteraksies asook akademiese leierskap en bestuur gelewer het. Hy bly aktief betrokke by kurrikulumhernuwing en module-ontwikkeling, en het reeds twee keer die Rektor se Toekenning vir Uitnemende Onderrig ontvang. Hy was die wenner van die The Engineer Tegnologie- en Innovasie-toekenning in 2008 en die SAIMM Goue Medalje in 2016. Bradshaw word op grond van sy navorsingsbydraes wêreldwyd onder die top 2% van navorsers op die gebied van mineraalprosessering en ekstraktiewe metallurgie gereken.

Prof Johann Kirsten: As die direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing, word Kirsten vereer vir sy buitengewone bydrae tot navorsing en bewysgedrewe beleidsadvies op die belangrike gebied van landboubeleid. In sy akademiese loopbaan van meer as 25 jaar het daar al 130 artikels van hom ewekniebeoordeelde vaktydskrifte verskyn en was hy die mederedakteur van ses boeke. Hy was boonop die studieleier van 77 suksesvolle meestersgraad- en 30 PhD-studente. Kirsten het vroeër 'n dekade lank as lid van die Nasionale Landboubemarkingsraad gedien en is tans 'n onafhanklike, nie-uitvoerende direkteur van die Landbank.

Reta Gelderblom: Gelderbloem word vereer vir haar uitnemende bydrae as senior administratiewe beampte in die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy is verantwoordelik vir die administrasie van die Departement se voorgraadse program. Haar uitsonderlike prestasie is te danke aan haar onwrikbare lewering van gehaltediens vir meer as twee dekades aan sowat 2 750 voorgraadse studente en die 25 personeel betrokke by die onderrig van voorgraadse modules. Haar noukeurige beplanning en doeltreffende taakverrigting word deur studente en personeel geprys. Haar aanpasbaarheid en toewyding tot haar take maak haar die ruggraat van onderrig- en leeraktiwiteite in die Departement.

Ina Kruger: Die Kanselierstoekenning word aan Kruger toegeken vir haar uitnemende bydrae as sekretaresse van die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Sy is uitsluitlik verantwoordelik vir alle sekretariële dienste vir 'n departement met ongeveer 38 personeellede en 2 900 studente. Sy het ook verantwoordelikheid aanvaar vir take buite die bestek van haar gewone pligte en onderneem finansiële en navorsingsadministrasie-take. Die omvang en gehalte van haar diens is deurgaans van die hoogste gehalte. Sy is toegewyd en vindingryk en is die administratiewe steunpilaar wat die prestasie van ons studente en personeel ondersteun.

Doris Peters: Gedurende Peters se loopbaan by die Universiteit Stellenbosch (US) was sy nou betrokke by patent- en handelsmerkregistrasies. Sy speel 'n deurslaggewende rol in die suksesse van die Universiteit se nuwe en afwentelmaatskappye as deel van die US se Tegnologie-oordragkantoor, wat die grootste hoeveelheid afwentelmaatskappye in Afrika bestuur. Peters het 'n dringende behoefte aan vestigingsprosesse vir afwentelmaatskappye vir die US se Groep van Maatskappye geïdentifiseer en het daarna 'n formele eenheid hiervoor gestig. Peters het ook 'n Southern African Research and Innovation Managers Association-opleidingsprogram vir tegnologie-oordragkundigheid geskep en aangebied, 'n deurslaggewende rol in die totstandkoming van die US se LaunchLab gespeel en dien as maatskappysekretaris vir talle US-afwentelmaatskappye. Sy is ook met 'n American Association of University Technology Managers-beurs vir nuwe tegnologie-oordragkundiges uit ontwikkelende ekonomieë bekroon.