Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alex Muthua wil gesigsherkenningstegnologie help verbeter
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/12/2022

Gesigsherkenningstegnologie word op baie verskillende gebiede gebruik – van lughawens, kleinhandelaars, gesondheidsorg, wetstoepassing en bemarking tot banke – om mense deur beelde en video's van hul gesig te identifiseer. Die nadeel van hierdie tegnologie is egter dat dit nie die gesigte van mense met ʼn hoogs gepigmenteerde vel akkuraat herken nie.

“Een manier om die gesigsherkenning van mense met donkerder velle te verbeter is om die deel van die infrarooi-spektrum (die naby-infrarooideel) wat deur elektroniese sensors waargeneem kan word, te inkorporeer," sê Alex Muthua, wat sy meestersgraad in elektroniese en elektriese ingenieurswese Woensdag (7 Desember 2022) by die Universiteit Stellenbosch se Desember-gradeplegtigheid ontvang het.

As deel van sy studie het Muthua ondersoek hoe infrarooilig die gesigsherkenning van mense met ʼn hoogs gepigmenteerde vel kan verbeter.

“Individue met hoogs gepigmenteerde velle lyk donkerder in sigbarelig-beelde, wat beteken daar is minder lig-inligting in die beeld beskikbaar waarop die gesigsherkenning uitgevoer kan word. Deur infrarooi by te voeg kan mens die dinamiese reikwydte van die intensiteitswaardes verhoog, wat weer die gesigsherkenningstelsel help."

Volgens Muthua het die meeste digitale kameras ʼn filter wat die infrarooilig blokkeer wat vir hierdie soort gesigsherkenning nodig is. Deur ʼn kamera te gebruik waarvan dié filter verwyder is, het Muthua 9 000 fotobeelde van 500 individue met ʼn hoogs gepigmenteerde vel in verskillende ligspektrums geneem – sigbaar, naby-infrarooi en ʼn kombinasie van die twee (volspektrum).

Dit het hom in staat gestel om bestaande datastelle met beelde van hoogs gepigmenteerde individue te versterk. Muthua wys daarop dat hierdie datastelle tipies onewewigtig is en dat dit meer beelde van ligter gepigmenteerde velle as van donkerder gepigmenteerde velle verteenwoordig. Hierdie datastelle bevat ook nie infrarooibeelde nie.

Hy het voorts die impak van nou en wye beeldsnoei, verskillende gesigsoriëntasies, asook sonlig- en skadutoestande geassesseer.

“Ons het gevind dat die gebruik van infrarooilig meebring dat mense met ʼn hoogs gepigmenteerde vel met groter akkuraatheid herken kan word as wanneer net sigbare lig gebruik word," sê Muthua.

Hy het ook ʼn bestaande gesigsherkenningsalgoritme verfyn en die aktiveringskaarte bekyk van ʼn beskikbare komplekse neurale netwerk, wat ʼn masjienleer-argitektuur is wat hoofsaaklik vir beeldprosessering gebruik word. Dit is gedoen om te bepaal watter gelaatstrekke die belangrikste is vir gesigsherkenning van mense met hoogs gepigmenteerde velle.

“Ons het gevind die neus is die belangrikste gelaatstrek vir gesigherkenning, eerder as die ken en voorkop."

Muthua sê soos wat gesigsherkenningstegnologie aanhou ontwikkel, moet dit verbeter word omdat enige onewewigtigheid of ongelykheid in hierdie verband nadelig vir die vooruitgang en potensiële gebruik daarvan kan wees.  

  • ​Foto: Alex Muthua by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els