Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Baanbreker in landbousektor ontvang eregraad van US
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 07/12/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n eredoktorsgraad aan die vooraanstaande denkleier en innoveerder in Suid-Afrika se landbousektor, Thomas Dreyer (Tommie) van Zyl, by sy Desembergradeplegtigheid verleen. Hy het Dinsdag (6 Desember 2022) die graad Doktor in die Landbou (DAgric), honoris causa, by ’n kontakgradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit AgriWetenskappe ontvang.

Van Zyl, ’n oud-Matie, is vereer vir sy leierskap in die Suid-Afrikaanse kommersiële landbousektor, sy bydrae tot volhoubare landbou- en bewaringspraktyke, en sy toewyding tot die skep van ontwikkelingsgeleenthede vir kleinboere en die bevordering van entrepreneurskap en innovasie.

Van Zyl het in sy aanvaardingstoespraak die US vir die eregraad bedank, asook sy familie en vriende wat dit moontlik gemaak het.

Hy het gesê hy was nog sy hele lewe lank tot die doelwit verbind om met boerdery ’n toekoms in Afrika te skep.

“Landbousukses behels die skep van volhoubare waarde oor ’n baie lang tydperk vir ’n verskeidenheid belanghebbers. Dit verg die handhawing van ’n fyn balans tussen die beskerming van die omgewing, die skep van ekonomiese waarde en die bevordering van die gemeenskap se voorspoed.”

Van Zyl het bygevoeg dat hy geïnspireer word deur die taak om voort te gaan om ’n betekenisvolle toekoms vir Suid-Afrika te help skep.

“Ek dra hierdie toekenning op aan al die mense wat sistematies en met omsigtigheid, gematigdheid, vasberadenheid en regverdigheid ’n ordelike en beskaafde samelewing wil en kan skep – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Afrika.”

Meer oor Van Zyl
As ’n hoog aangeskrewe denkleier in die landbousektor, staan Van Zyl al langer as 20 jaar aan die stuur van die ZZ2-landbou-onderneming, ’n innoverende varsproduktemaatskappy.

Die maatskappy lewer ’n belangrike bydrae tot sosio-ekonomiese ontwikkeling in Suid-Afrika en skep veelvuldige werksgeleenthede op verskeie vlakke, waaronder geleenthede vir nuwelinge in die mark sowel as kleinboere.

Van Zyl het merkwaardige bydraes tot die ontwikkeling van volhoubare landbou- en bewaringspraktyke gelewer. As ’n innoveerder, deel hy gereeld die wêreldverhoog met eweknieë om te beraadslaag oor volhoubare oplossings om die toekoms van die landbousektor te verseker. Hy glo entrepreneurskap is noodsaaklik om volhoubare ekonomiese waarde te skep.

Hierdie alumnus van die Universiteit Stellenbosch het voorheen gedien as direkteur en ondervoorsitter van die Varsproduktemarkvereniging, wat in Amerika geleë is, en was sewe jaar lank voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Landbouprodukagente. Hy dien steeds in verskeie direksies, en sy kundigheid en prestasies het al aan hom etlike plaaslike en internasionale toekennings besorg.

Foto: Thomas Dreyer (Tommie) van Zyl by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els