Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Minister Mbombo verwelkom eerste Verpleegkunde afgestudeerdes by die gesondheidsorgstelsel
Outeur: FMHS Marking & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 06/12/2022

Verpleegkunde vereis dat jy meer as net jou hande en kop gebruik – jy moet ook jou hart inspan ter wille van jou pasiënte. Dit was die boodskap wat die Wes-Kaapse Provinsiale Minister van Gesondheid en Welstand, dr Nomafrench Mbombo, oorgedra het  aan die eerste groep verpleegkunde afgestudeerdes wat die nuwe Baccalaureus in Verpleegkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het.

Mbombo, wat self ʼn opgeleide verpleegkundige is, het die studente toegespreek gedurende ʼn Lamp Aansteek-seremonie kort voor hulle gradeplegtigheid. By die geleentheid het elk van die studente ʼn lamp ontvang wat Florence Nightingale se baanbrekerswerk in verpleegkunde simboliseer. Die groep van 41 studente het ook gedurende die seremonie die Nightingale-eed afgelê, wat ʼn verpleegkundige se toewyding aan die lewering van deernisvolle sorg beskryf.

“Dit is ʼn baie spesiale groep afgestudeerdes," het Mbombo aan die studente en gaste by die seremonie gesê. “Julle is die eerste groep in die land wat hierdie program voltooi het, en is goed afgeronde verpleeg- en verloskundiges. Ek het na julle studieprogram gekyk en was opgewonde om onderwerpe soos klimaatsverandering en voorspraak daar te sien. Dit is presies waarheen ons veronderstel is om te gaan," het sy gesê.

Mbombo het die studente by die gesondheidsorgstelstel verwelkom. Sy het hulle aangeraai om altyd hulle pasiënte binne die groter sosio-ekonomiese konteks van die land te sien, en om vernuwing en die wetenskap te gebruik om uitdagings in hulle omgewings die hoof te bied.

“Dit is ʼn eer vir my om julle te verwelkom by die spesiale familie van gesondheidswerkers," het prof Elmi Muller, Dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan studente gesê. “Vandag bereik julle ʼn spesiale mylpaal – julle het julle opleiding suksesvol voltooi, en dit is ʼn opwindende tyd wanneer julle die werksmag betree. Daar sal uitdagende tye wees, maar dit sal ook lonend wees, want aan die einde van elke dag sal julle weet dat julle ʼn verskil aan julle pasiënte gemaak het – en dit is ʼn wonderlike gevoel."

ʼn Besondere trotse dr Janet Bell, wat die BNur-program gelei het, het die studente bedank daarvoor dat hulle die eerste groep verpleeg- en verloskunde studente is wat die nuwe program voltooi het. “Ons is nou op die punt waar julle gaan begin om dit wat julle geleer het, uit te leef. Ons weet julle is reg om julle plek in te neem as verpleegkundiges en verloskundiges in die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel, wat julle desperaat nodig het."

Een van die afgestudeerdes, me Jenna-Mari Michau het die Departement Verpleegkunde en Verloskunde bedank omdat hulle die groep deur die vier-jaar lange program gelei het. “Ons, as afgestudeerdes, het ons bestemming bereik. Terwyl ons stilstaan en terugkyk oor die reis wat ons tot hier gelei het, moet ons nou fokus op die pad vorentoe – na ons roeping. In die nuwe ekspedisie wat voorlê moet ons alles wat ons oor gesondheidsorg geleer het saamneem, om ʼn verskil te maak in die lewens van aan diegene wat ons bedien."​