Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Portraits from the Pandemic – “Ons doen almal ons beste”
Outeur: Wiida Fourie-Basson, Faculty of Science
Gepubliseer: 05/12/2022

Hierdie boek stel jou bekend aan 'n verskeidenheid karakters - van ouwêreldse dieresiele wat tee van regoor die wêreld versamel, tot 'n uitgebrande prokureur en 'n skrywer wat haar sprankel verloor het. Vir diegene van ons wat te kampe het met intense angs en emosionele uitbranding na die pandemie, herinner die sonderlinge dierekarakters van waterverf in Portraits from the Pandemic ons daaraan “dat ons almal saamgebind word in ons gebrokenheid".

Portraits from the Pandemic is geskryf en geïllustreer deur Karin-Therese Howell, 'n medeprofessor in Wiskunde in die Departement Wiskundige Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie ma van twee het 40 unieke bosbewonerkarakters geskep én geverf, wat elk oor hulle onderskeie wedervaringe tydens die pandemie briewe aan die plaaslike boskoerant, The Daily Oak geskryf het. Dit was háár manier om die stres en angs van die “onbekendhede" van die pandemie en streng inperking te hanteer.

Meet Juniper.jpg

Hierdie bosbewonerkarakters sluit onder andere in: 'n toegewyde graad 2-onderwyseres, 'n empatiese argitek, 'n wiskundige wat aan bedrieërsindroom ly en haar vaardighede betwyfel, 'n bakkery-eienaar, 'n onlangs geskeide, 'n getroude paartjie wat berading soek, 'n depressiewe joernalis en 'n gestresde student in wiskunde wat van koffie en Red Bull leef.

Maar alhoewel dit alles besonder neerslagtig mag klink, lê die mooi van die karakters in hoe hulle as sensitiewe siele uitgebeeld word wat elkeen op hulle eie spesiale manier met hulle intense uitbranding en angs omgaan. Jeff die joernalis het byvoorbeeld geleer om sy depressie te hanteer “deur onderstebo na die wêreld te kyk met al sy sintuie ingespan terwyl hy diep asemhaal". Christopher, die uitgebrande prokureur het sy  high-flying beroep opgegee en werk nou in 'n troeteldierwinkel en woon op 'n kleinhoewe saam met sy vier troetelmuise.  

'n Paar van die karakters het ook te doen met neurodiversiteitsuitdagings. Lisa, die klein uiltjie het byvoorbeeld ouditiewe prosesseringsversteuring. Maar omdat sy eers as tiener gediagnoseer is, het sy baie van die lirieke van die A-Ha-liedjies verkeerd gememoriseer. Maar dit ontstel Lisa nie, want sy is van mening dat baie van hulle veel mooier is soos wat sy hulle gestoor het. Vir Lisa is klank 'n kleur, en stilte 'n reënboog, lees die verhaal.

Fundamenteel tot elke skets lê 'n diepe empatie en die oortuiging dat “geen haas agtergelaat, uitgesluit, of net geakkommodeer moet word nie". Dis waarom die karakters Daisy, Lilly en Rosy die laaste sê in die boek het. Hulle is drie mammas wat 'n veldtog begin het vir die insluiting van neurodiverse kinders by skole.

Met hierdie klein boekie wil Karin-Therese ook bewustheid skep van 'n neuro-ontwikkelingstoestand  wat nie goed verstaan word nie en meestal ongediagnoseer bly, alhoewel dit tot 7% van skoolgaande kinders in die Verenigde State affekteer.  

Volgens Dr Eileen Africa van die Afdeling Bewegingswetenskap en Oefeningsterapie by die US, toon kinders met ontwikkelingskoördinasieversteuring (development coordination disorder, DCD) dikwels swak postuurbeheer, laer spiertonus, stadiger bewegings, vertraagde aksie- en reaksietyd  en swakker koördinasie. Maar alhoewel die agterstand in die grootmotoriese vaardighede tipies met DCD geassosieer word en duidelik sigbaar is, word hierdie probleme dikwels misverstaan as luiheid of gedragsprobleme.

“Hulle word dikwels geëtiketteer as lomp, met swak koördinasie en word dikwels deur hulle portuurgroep gespot of geboelie. Hulle sukkel met aktiwiteite van die daaglikse lewe soos selfsorg, om aan te trek, te eet, fiets te ry en baie ander vaardighede wat andersins natuurlik kom vir 'n neurotipiese kind van dieselfde ouderdom," verduidelik sy.  

Hierdie toestand kan tot in volwassenheid voortduur en daarom is vroeë herkenning, diagnose en ingryping van kardinale belang.

Portraits from the Pandemic is in twee formate beskikbaar en sal beskikbaar wees in die boek- en geskenkwinkels, of kan direk by die skrywer bestel word.

“Ek hoop lesers sal iets van hulleself in hierdie sketse herken," skryf sy: “Ons is almal effens gebroke maar doen ons beste."