Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Van student na personeellid danksy Eenheid vir Gestremdhede
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 16/11/2022
​Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes:
Suid-Afrika gedenk jaarliks van 3 November tot 3 Desember Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes. Hierdie bewusmakingsmaand skep vir mense met gestremdhede die geleentheid om ander bewus te maak van die hindernisse wat hulle daagliks ondervind en hoe die samelewing kan help om die lewe vir hulle te vergemaklik. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede vier ook vanjaar 15 jaar van ondersteuning en inklusiwiteit. Om dit te herdenk, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking met studente en personeel gesels wat deur die eenheid ondersteun is. Lees meer hieronder: 

Bongani Mapumulo het ver gevorder sedert hy op vierjarige ouderdom weens 'n besering in 'n rolstoel beland het. Hy beskik vandag oor 'n graad in Sosiologie en twee nagraadse diplomas van die Universiteit Stellenbosch (US).

Sy gradedag was egter nie die einde van sy pad met die US nie. Hy werk deesdae in die Universiteit se Registrateursafdeling, waar hy ondersteuning bied aan die komitees wat deel uitmaak van die US-bestuurspan, waaronder die Rektoraat, Senaat en Raad.

Stewige ondersteuning van Eenheid vir Gestremdhede

Dis nie moeilik om te begryp waarom die US al byna 'n dekade lank 'n kerndeel is van sy lewe nie: Vir Bongani was die Universiteit uit die staanspoor 'n ondersteunende omgewing. “Selfs nog vóór my aankoms as 'n eerstejaarstudent in 2014 het die Eenheid vir Gestremdhede met my gekommunikeer oor watter tipe gestremdheid ek het, watter bystand ek sou nodig hê, en of ek enige hulptoestelle vereis," onthou hy. Die Eenheid het hom ook die koshuis help kies wat die beste in sy toegangsvereistes sou kon voorsien.

Die Eenheid vir Gestremdhede het hom deur sy studiejare op verskeie ander maniere aanhou bystaan. 'Soms het hulle as 'n derde party betrokke geraak wanneer dit vir my moeilik was om met van die departemente met wie ek gewerk het te kommunikeer," sê hy.

Bongani het boonop betrokke geraak by, en uiteindelik voorsitter geword van, die studenteorganisasie Dis-Maties. “Ons was deel van 'n hele klomp kampusgesprekke," sê hy. “Ons het ook ons eie geleenthede aangebied, alles om mense van gestremdheid bewus te maak. Ek het dit vreeslik geniet."

Beplan verdere gestremdheidsverwante studie

Hoewel hy nie meer 'n student is nie, behou hy kontak met die Eenheid vir Gestremdhede en neem hy steeds deel aan hulle programme. Bongani is ook deel van die Eenheid se huidige gesprekke oor die hersiening van die Universiteit se Beleid oor Gestremdheidstoegang.

Hy het in 2020 'n Nagraadse Diploma in Gestremdheid- en Rehabilitasiestudie voltooi, en beplan nou om vir 'n magistergraad in te skryf. “Ek wil graag die gaping tussen fondswerwing en gestremdheidsprojekte oorbrug," verduidelik hy. “Die gestremde gemeenskap het baie uitdagings. Ek wil leer hoe om op 'n baie praktiese manier geld in te samel om daardie uitdagings, wat dikwels heel kompleks is, die hoof te bied."

Hy voeg by: “'n Mens kan nie ál die probleme op een slag hanteer nie, so ek wil dit stukkie vir stukkie doen waar ek dink ek 'n verskil kan maak. Die US is baie goed met fondswerwing, so in 'n stadium wil ek graag by daardie netwerke inskakel en leer hoe die Universiteit dit doen."

Gestremdheid nie “die einde" nie

Bongani is hoogs gemotiveerd – iets wat hy toeskryf aan sy blootstelling aan die verskillende beroepslui wat hom met sy rehabilitasie gehelp het nadat hy die gebruik van sy bene verloor het. “Hulle het my denke help vorm en my geleer om nie aan gestremdheid as die einde te dink nie, maar om te glo dat daar steeds 'n lewe daar buite is as ek aanhou hard werk," sê hy.

“Ek beskou die lewe as 'n geskenk, veral omdat ek gestremd geword het as gevolg van 'n traumatiese gebeurtenis wat my dood kon beteken het. Daar moet 'n rede wees waarom dít nie gebeur het nie," besin Bongani. “Wanneer ek ook al dink aan die dinge wat ek nog wil doen, is dit hierdie gedagte wat my motiveer om te wil uitvind wat die toekoms inhou."​