Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verskeie uitsonderlike individue ontvang US-eredoktorsgrade
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 04/11/2022

Die jongste kohort wat met eredoktorsgrade van die Universiteit Stellenbosch (US) vereer sal word, het almal 'n positiewe impak op hulle onderskeie gebiede gemaak – van baanbrekerswerk in die mobieletegnologiebedryf in Afrika tot die ontwikkeling van plaaslike gemeenskapskoerante gedurende die weerstandsbeweging teen apartheid.

​Die Universiteit kondig graag aan dat vyf uitgelese individue in die gradesiklus van 2022 hierdie hoogste eerbewys van die US sal ontvang. 

Die vyf ontvangers is prof Ernest Aryeetey, die stigtersekretaris-generaal van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie; me Zubeida Jaffer, 'n bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis, skrywer en aktivis; mnr Strive Masiyiwa, stigter en uitvoerende voorsitter van die telekommunikasiegroep Econet Global Ltd; prof Kenneth Shropshire, stigter en uitvoerende hoof van die Globale Sportinstituut by Arizona-staatsuniversiteit, en mnr Thomas Dreyer (Tommie) van Zyl, uitvoerende hoof van die landbou-onderneming en varsproduktemaatskappy ZZ2. 

Hulle onwrikbare verbintenis daartoe om mense se lewens ten goede te verander vind sterk aansluiting by die Universiteit se visie om nie net uitnemendheid, insluiting en innovasie te bevorder nie, maar ook sosiale betrokkenheid en wedersydse kennisuitruiling tot voordeel van die samelewing te fasiliteer. 

“Die vyf ontvangers van eredoktorsgrade vanjaar is uitsonderlike individue wat aansienlik tot hulle onmiddellike gemeenskappe sowel as die wêreld in die algemeen bygedra het," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US. “Hulle prestasies spreek vanself, en die Universiteit is trots daarop om met hulle verbind te word." 

Vier van die ontvangers – Jaffer, Masiyiwa, Van Zyl en Aryeetey – sal hulle eredoktorsgrade gedurende die Universiteit se jaareindgradeweek van 5 tot 9 Desember 2022 ontvang. Shropshire se eredoktorsgraad sal in 2023 aan hom toegeken word.  

Daarbenewens sal eredoktorsgrade toegeken word aan ontvangers wat voorheen aangekondig is. Hulle is prof Agnes Binagwaho, die visekanselier van die Universiteit vir Globale Gesondheidsbillikheid en die voormalige gesondheidsminister van Rwanda, en prof Vikram Patel, die Pershing Square Professor in Globale Gesondheid aan Harvard se mediese fakulteit. Binagwaho se eredoktorsgraad sal in absentia toegeken word. 

Meer oor die ontvangers en hulle eredoktorsgrade 

Prof Ernest Aryeetey:

Aryeetey sal die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, ontvang. Dié voormalige visekanselier van die Universiteit van Ghana is die stigtersekretaris-generaal van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), 'n netwerk universiteite wat hulle op navorsingsvermoëbou op die vasteland toespits. Nadat ARUA tot stand gebring is, het Aryeetey die leiding geneem en 13 navorsingsgebiede geïdentifiseer om interdissiplinêre navorsingsamewerking te fasiliteer, en ook 11 ARUA-sentrums van uitnemendheid gestig. 

Me Zubeida Jaffer:

Jaffer is 'n bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis, skrywer en aktivis en sal die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, ontvang. Sy het haar loopbaan in 1980 by die dagblad Cape Times begin en het later gedurende die weerstandsbeweging teen apartheid plaaslike gemeenskapskoerante soos Grassroots help ontwikkel. Sy was ook die stigtersredakteur van Independent Newspapers se parlementêre buro, wat 14 koerante landwyd bedien het. Jaffer is die eerste vrou in Afrika wat die Amerikaanse Nasionale Vereniging van Swart Joernaliste se gesogte prys vir 'n buitelandse verslaggewer gewen het. 

Mnr Strive Masiyiwa:

Masiyiwa sal met die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, vereer word. Hierdie stigter en uitvoerende voorsitter van die gediversifiseerde internasionale telekommunikasiegroep Econet Global Ltd, waarvan die hoofkantoor in Suid-Afrika geleë is, word as een van die baanbrekers van die mobieletelekommunikasiebedryf in Afrika beskou. Hy was deel van die Afrika-unie se hervormingstaakgroep wat die weg gebaan het vir die vestiging van die Afrika-vryehandelsgebied en die skepping van die SMART Africa-inisiatief vir digitale transformasie. Hy is in 2020 as een van Bloomberg se 50 invloedrykste mense en Mail & Guardian se 100 Afrikane van die jaar aangewys. Boonop is Masiyiwa in 2014, 2017 en 2021 by die tydskrif Fortune se lys van die 50 beste leiers ter wêreld ingesluit. 

Prof Kenneth Shropshire:

Shropshire, die stigter en uitvoerende hoof van die Globale Sportinstituut en die Adidas Uitgelese Professor in Globale Sport by Arizona-staatsuniversiteit, sal die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, ontvang. Hy dien tans as besturende direkteur van die Wharton Koalisie vir Billikheid en Geleenthede by die Universiteit van Pennsilvanië. Sy loopbaan as professor, sakekonsultant, skrywer en prokureur strek oor meer as 40 jaar. Shropshire het baanbrekerswerk gedoen op verskeie sportverwante gebiede, waaronder leierskap van 'n internasionale sportbyeenkoms, stadion- en arenakonstruksie en -finansiering, die verskuiwing van sportfranchises, sportlui se oorgang van die sportveld tot die sakewêreld, en diversiteit in sport. 

Mnr Thomas Dreyer (Tommie) van Zyl:

Van Zyl word met die graad Doktor in die Landbou (DAgric), honoris causa, vereer. Hy staan al langer as 20 jaar aan die stuur van die landbou-onderneming en varsproduktemaatskappy ZZ2. Die groep bestaan uit verskeie onafhanklike maatskappye wat onder die ZZ2-vaandel bestuur word en is 'n megaprodusent van tamaties, avokado's, bloubessies, kersies, dadels en neute. Die maatskappy lewer 'n belangrike bydrae tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Suid-Afrika en skep veelvuldige werksgeleenthede. Van Zyl word as 'n internasionale landbou-denkleier beskou en deel gereeld die verhoog met eweknieë om oor innovasie en die toekoms van die sektor te beraadslaag. Hy glo entrepreneurskap is noodsaaklik om volhoubare ekonomiese waarde te skep. 

Ontvangers wat voorheen aangekondig is: 

Prof Agnes Binagwaho, 'n Rwandese pediater wat merkwaardige bydraes gelewer het om die gesondheid en welstand van mense in Rwanda en die res van Afrika te verbeter, sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Hierdie voormalige gesondheidsminister van Rwanda is aan die voorpunt van die stryd teen MIV/vigs en die menslike papilloomvirus (HPV), wat bykans alle gevalle van servikskanker veroorsaak. Sy het belangrike raadgewende poste by die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Verenigde Nasies beklee. Haar passie vir gesondheidsbillikheid het bygedra tot die vestiging van die Universiteit vir Globale Gesondheidsbillikheid, die eerste van sy soort in Afrika. Sy is ook 'n senior dosent by Harvard. 

Prof Vikram Patel, 'n psigiater en geestesgesondheidskenner, sal die graad Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, ontvang. Hy is 'n toonaangewende figuur in die globale geestesgesondheidsbeweging, en 'n belangrike bydraer tot die bevordering van geestesgesondheid, die voorkoming van geestesongesteldheid en die verbetering van kinderontwikkeling in lae- en middelinkomstelande. Hy is die Pershing Square Professor in Globale Gesondheid in die Departement Globale Gesondheid en Sosiale Geneeskunde van die Blavatnik-instituut aan Harvard se mediese fakulteit. Patel is in 2015 as een van die tydskrif Time se 100 invloedrykste persone aangewys.