Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sakeleiers inspireer OPTIMUS-studente van 2022
Outeur: Sharon Malan
Gepubliseer: 05/10/2022

OPTIMUS-studente het baat gevind by die raad en ondervinding van vooraanstaande sakeleiers gedurende 'n onlangse geleentheid wat deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangebied is. By dieselfde geleentheid is sertifikate oorhandig aan tweedejaar- OPTIMUS-studente wat die program suksesvol voltooi het.

Die hoofdoel van die OPTIMUS-program is om top voorgraadse akademiese uitblinkers in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op hul akademiese reis te ondersteun sodat hulle die prestasie wat hul tans onderskei, gedurende hul studiejare by US en daarna kan voortsit.

Die programaktiwiteite is op 3 Oktober 2022 by Middelvlei afgesluit met 'n geleentheid genaamd “Engagement with a leader," waar vooraanstaande sakeleiers hul lewensverhale aan die groep OPTIMUS-deelnemers vertel het.

Die lewensverhale van prof Jonathan Jansen, uitgelese hoogleraar in Opvoedkundige Beleidstudie aan US en president van die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge; Heleen Mills, bemarkingsdirekteur van 'n nie-winsgewende organisasie in Kenia en 'n strategiese bemarkingskundige op die gebied van digitale bemarking, vryskut konsultant en afrigter; prof Renata Schoeman, 'n psigiater in privaatpraktyk en medeprofessor in Leierskap aan  die Stellenbosch Bestuurskool (SBS); en Josh Romisher, die uitvoerende hoof van die US Launchlab en 'n intrepreneur.

Advies het die volgende ingesluit: die ware kenmerk van 'n opgevoede persoon is die vermoë om wyd en in diepte buite jou eie studieveld te lees; die lewe is soos 'n klimraam en nie 'n leer nie – daar is baie maniere waarop jy bo kan uitkom; 'n mens is in staat om moeilike take baas te raak; dis belangrik om 'n vervullende loopbaan te hê, asook om jou lewe met dinge te vul wat vreugde verskaf, mooi en nuttig is; reis soveel as moontlik; 'n mens hoef nie 'n voorgeskrewe loopbaanroete te volg nie en 'n mens se lewe en loopbaan is nie linieêr nie.

  • Foto's deur Ignatius Dreyer.
  • Hooffoto: OPTIMUS-studente en sprekers by 'n funksie te Middelvlei, waar sertifikate oorhandig is aan studente wat die program suksesvol voltooi het.
  • Foto hier onder (v.l.n.r.): Die sprekers by die Middelvlei-funksie was mnr Josh Romisher; dr Sharon Malan (organiseerder); prof Renata Schoeman; me Heleen Mills; prof Ronel du Preez-Snyman (visedekaan: Leer en Onderrig); en prof Jonathan Jansen.

    US Middelvlei Optimus_2022_kleiner.jpg