Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Ben Loos wil behandeling van Alzheimer se siekte, kanker help verbeter
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 13/09/2022

​Prof Ben Loos van die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy professorale intreerede, getiteld 'Oor die rol van outofagie en seldoodbeheer in neurodegenerasie en gliome', gelewer. Hy het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy werk oor seldood hoop bied vir die verbeterde behandeling van neurodegeneratiewe siektes soos Alzheimer se siekte en sekere weerstandige kankers.

Vertel ons meer oor u navorsing en waarom u in hierdie spesifieke vakgebied belangstel.

Ek bestudeer in my navorsing die vatbaarheid van selle om seldood te ondergaan, asook die molekulêre meganismes wat hierdie tipe selreaksie bepaal. Ek stel veral belang in 'n fundamentele selstresreaksie wat outofagie (uit die Grieks 'sel-etend') genoem word. Dit beskryf die proses waarvolgens selle langlewende proteïne en beskadigde organelle afbreek. Wanneer hierdie proses nie behoorlik werk nie, lei dit tot vroeë seldood (soos in neurodegeneratiewe siektes, insluitende Alzheimer se siekte of Parkinson se siekte gesien). Dit kan egter ook die sel help om nie dood te gaan nie (soos in die meeste kankers). Ek stel al baie lank in seldood belang en word gefassineer deur die fundamentele rol van outofagie in hierdie konteks. Om die proses wat betrokke is, te sien en te meet, is fassinerend en maak die navorsing werklik.

Beskryf die toepaslikheid van u werk.

Daar is groot aanwendings om outofagie klinies te ontgin – nie net in neurodegenerasie en kankers nie, maar ook in die verouderingsproses. Aan die een kant het versterkte outofagie – soos deur vas of oefening meegebring – 'n geweldige uitwerking op 'n mens se gesondheid en lewensduur. Aan die ander kant verhoog disfunksionele outofagie die risiko om siektes soos hartsiektes en diabetes wat met veroudering geassosieer word, te ontwikkel. Daarom het ons werk moontlik 'n breër toepassing. Dit is van toepassing op klinikusse en die publiek en vir nuwe terapeutiese ingrypings.

Vertel ons meer van u navorsing se impak.

Die direkte impak van ons werk is om bewyse te verskaf dat die beheer en verhoging van outofagiese aktiwiteite inderdaad selle met die verwydering van toksiese, versamelde materiaal en proteïne kan help en daardeur 'n invloed op die aanvangs van neuronseldood kan hê. Dit bring nuwe hoop om teikens wat met die molekulêre defek verbind word en terapeuties deur behandeling gereguleer kan word, uit te lig. Ons het net so ook in kanker getoon dat ons tot 'n sekere mate seldoodweerstand kan oorkom deur outofagie in die teenwoordigheid van 'n chemoterapeutiese middel terapeuties aan te pas. Dit bring ook nuwe hoop vir die behandeling van weerstandige, moeilik-behandelbare kankers soos gliome (gewasse op die brein en rugmurg). Die feit dat ons óf FDA (Food and Drug Administration), óf fisiologiese ingrypings gebruik, het 'n invloed op die terapeutiese waarde van ons navorsing, aangesien dit die potensiaal verhoog dat hierdie werk in die behandeling van kanker gebruik kan word. Ons doen dit doelbewus om die tyd wat dit neem vir ons werk om in produkte van terapeutiese waar omgesit te word, te verkort. 

Vertel ons watter aspekte van u werk u die meeste geniet.

Ek geniet dit die meeste om saam met my nagraadse studente deur die konfokale/super-resolusie-mikroskoop te loer, data vas te lê en in die opwindende oomblik te deel van wat die selle blootlê. Ek geniet dit ook om die stukke van ons resultate soos 'n legkaart inmekaar te pas sodat dit 'n duideliker prentjie en moontlike storielyn vorm. Dit is baie opwindend om saam met my studente 'n dinkskrum daaroor te hou en oor waarheen die data en resultate ons lei. Ek geniet dit om te sien hoe die studente onafhanklik word en 'n passie ontwikkel om dít wat hulle geleer het, in werking te stel en daarop uit te brei. Ek geniet voorgraadse onderrig net so baie – om die handboekkennis met ons bestaansuitdagings en die probleme waarvan die oplossings jong wetenskaplikes met nuwe idees en benaderings nodig het, te verbind. Dit is 'n wonderlike proses om dop te hou. Ons kan in elke voorgraadse student se idees en passie vir moontlike nagraadse studie 'n sleutelbenadering of antwoord vind waaraan ons nog nie gedink het nie. Dit is opwindend om deel te wees van hierdie proses.

Die pandemie het ons werk- en leefwyse verander. Hoe het u gemotiveerd gebly gedurende hierdie tyd?

Die navorsingswerk moes voortgaan. Daarom was ek oorgehaal om ons nagraadse studente te help om so gou en so veilig as moontlik na die laboratorium terug te keer. Dit was belangrik dat die werk sou voortgaan en om na teoretiese benaderings en artikels te beweeg om die studente te help om gefokus te bly en om hulle aan te moedig. Ek het die voorgraadse studente jammer gekry en besef hoe moeilik hierdie aanlyn klasloopervaring vir hulle moes wees. Ek het daarom alles moontlik gedoen om my aanbiedings so persoonlik en onderhoudend as moontlik te hou, al was dit opnames. Ek is baie bly ons is weer terug en aktief. Die wetenskap is prakties en intydse skakeling met die span is uiters belangrik.

Vertel ons iets opwindends oor uself wat ander mense nie sal verwag nie.

Voor die pandemie was ek goed op dreef met my voorbereiding vir die Comrades-marathon. Nou moet ek van voor af begin. Ek hou van hierdie soort uitdagings om te sien wat my eie beperkings is en om dit (hopelik) te oorkom. Ek is lief vir musiek, opera, die kunste, swart-en-wit portrette en konserte.

Vertel ons wat u in u vrye tyd doen wanneer u nie met lesings en navorsing besig is nie.

Ek spandeer my vrye tyd saam met my vrou en twee seuns. My seuns (sewe en 11) is nou op daardie ouderdom dat hulle gereeld na hul klasmaats se verjaardagpartytjies toe genooi word. Die afgelope tyd het ek ook tyd spandeer en vreugde daaruit geput om ons gesinshond, 'n jong Hongaarse Vizsla, op te lei. Hy het nou die gevorderde opleidingsvlak van 'in beheer' bereik. Dit wil lyk asof hy inderdaad dit is.