Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Haar nalatenskap leef voort, en haar werk gaan aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 07/09/2022

Die nalatenskap van prof Mary-Anne Plaatjies-van Huffel sal nog vir baie geslagte 'n impak op die samelewing hê.  Dít was duidelik by die derde Mary-Anne Plaatjies-van  Huffel-gedenklesing wat die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stelle​nbosch (US) onlangs aangebied het. 

Die stigting van die MA Plaatjies-van Huffel-beursfonds is boonop by die geleentheid aangekondig.

​Huldeblyk aan baanbreker

Plaatjies-van Huffel, wat op 19 Mei 2020 oorlede is, was 'n baanbreker in die kerklandskap in Suid-Afrika, Afrika en verder.

Sy was die eerste vrou wat in die voormalige Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) (deesdae die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, of VGKSA) as predikant georden is. Trouens, sy het vir teologiestudie aan 'n universiteit ingeskryf in 'n stadium toe die NGSK nog nie vroueleraars toegelaat het nie. Sy het haar nie deur die diskriminerende stereotipes oor vroue in die kerk laat afskrik nie, en is later ook tot die eerste vrouemoderator van die VGKSA se algemene sinode verkies.PHOTO-2022-08-23-11-54-23.jpg

Daarbenewens was hierdie vernuwer die eerste swart vrou wat tot volprofessor in die US se Fakulteit Teologie bevorder is, en die eerste vrouevoorsitter van die Wêreldraad van Kerke.

Beurs om haar werk voort te sit

Emeritus eerw Dawid van Huffel het gaste bedank vir die eerbewys aan sy oorlede vrou en amptelik aangekondig dat 'n beursfonds in haar naam gestig is. “Die fonds sal studente, veral nagraadse vrouestudente uit histories benadeelde omstandighede, ondersteun om gevorderde navorsing in die Teologie te onderneem," het hy gesê.

Me Madré Arendse, huidige nagraadse Teologiestudent het haar dank uitgespreek vir die finansiële bystand. Sy het Plaatjies-van Huffel se transformerende werk op kerklike en onderwysgebied geprys. “Ek kan my nie voorstel wat sy alles moes verduur nie. Sy het berge versit," het Arendse  gesê. “Ons sal haar nalatenskap laat voortleef, en sy sal altyd vir my én ander 'n bron van hoop wees op ons studie- en lewensreis." 

Vanjaar se gedenklesing met die tema “Die eerste [swart] vrou – 'n epistemologiese ontwrigting?" is gelewer deur prof Fundiswa Kobo, 'n genootprofessor aan Unisa. Om Plaatjies-van Huffel se lewe en werk verder te vier, was die amptelike bekendstelling van 'n huldigingsbundel, The life and work of Mary-Anne Plaatjies-van Huffel, ook deel van die aand se verrigtinge. Die publikasie is in 2021 uitgegee.

Handhaaf haar waardes

Picture

​Prof Reggie Nel, dekaan van die Fakulteit Teologie, het in sy spreekbeurt gesê: “As 'n fakulteit, is ons daartoe verbind om prof Plaatjies-van Huffel se nalatenskap te laat voortleef. Ek verseker u dat baie jong vroue, jong vakkundiges in die Teologie in die algemeen en leiers in die kerk haar werk sal voortsit en 'n impak op die samelewing sal hê."

Picture
Prof Nadine Bowers-du Toit van die US het dít in gebed beaam deur te vra dat Plaatjies-van Huffel se natalenskap vir geslagte lank voortleef: “Terwyl ons haar lewe en haar​​​ nalatenskap vandag en in die komende jare vier, laat ons getrou bly aan die waardes waarvoor sy gestaan het, naamlik geregtigheid, vryheid, billikheid en vryheid vir almal."





Foto van Plaatjies-van Huffel was geneem deur Dominique Jeftha, MatieMedia (2019)