Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Dion Forster ʼn kampvegter vir geregtigheid, vrede en vooruitgang van mensdom en res van skepping
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 22/08/2022

​Prof Dion Forster van die Departement Sistematiese Teologie en Ekklesiologie en die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs sy intreerede gelewer met die titel 'Om meer ordentlik in ʼn nie-ordentlike wêreld te leef? Die deugde en ondeugde van ʼn publieke teoloog.' Hy het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor hoe sy navorsing ten doel het om ons te help om verantwoordelike, opbouende en veerkragtige geloof met ʼn diep toewyding tot geregtigheid, vrede en die vooruitgang van mense en die res van die skepping te verbind.

Vertel ons meer van jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.

My navorsing pas in ʼn veld bekend as 'Publieke Teologie'. In hierdie veld word maniere bestudeer waarop geloof ʼn impak op die openbare lewe het (bv. hoe geloof goed soos morele waardes en politieke verbintenisse vorm), asook hoe wat in die gemeenskap gebeur, ʼn impak op geloof het (in Suid-Afrika moet ons byvoorbeeld geweld, korrupsie, rassisme en omgewingsmisbruik die hoof bied – hoe moet gelowige mense op sulke realiteite reageer om vir vrede, geregtigheid en die algemene welsyn te werk?) Die meeste van my eie werk is op die gebied van teologiese etiek. Ek stel veral belang in politieke etiek en ekonomiese etiek.

My belangstelling in hierdie veld spruit uit my betrokkenheid by talle geloofsgemeenskappe wat in die 1980's teen apartheid gewerk het en ná 1994 ʼn bydrae tot ʼn beter gemeenskap nagestreef het. Suid-Afrika is steeds ʼn diep godsdienstige gemeenskap (bykans 93,3% van ons burgers het in die laaste huishoudelike sensus aangedui hulle is godsdienstig). Maar as ons na ons land kyk, sien ons dat ons steeds deur aansienlike morele en maatskaplike probleme in die gesig gestaar word. Ekonomies gesproke tel ons onder die mees ongelyke gemeenskappe ter wêreld. ʼn Groot meerderheid van ons burgers leef steeds in armoede. Polities gesproke bly ons diep verdeeld – wit Suid-Afrikaners is steeds buite verhouding ryk, veilig en bevoorreg, terwyl swart Suid-Afrikaners steeds onder ekonomiese, ruimtelike en maatskaplike ongeregtigheid ly. Ons beleef ongekende koerse van geslagsgebaseerde geweld. Ons besorgdheid oor nie-menslike skepping en omgewingsgeregtigheid skiet jammerlik tekort.

ʼn Groot deel van my werk het ten doel om te verstaan hoe ons verantwoordelike, opbouende en veerkragtige geloof met ʼn diep toewyding tot geregtigheid, vrede en die vooruitgang van die mens en die res van die skepping kan verbind. Ek het die afgelope sowat tien jaar gewerk aan ʼn projek oor die 'politiek van vergifnis' onder swart en wit Suid-Afrikaners. Die projek het ons help verstaan wat Suid-Afrikaners glo en verwag met betrekking tot vergifnis wat met geregtigheid gepaard gaan.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf, veral vir ons Suid-Afrikaanse konteks?

In die lig van die hoë koerse van godsdienstigheid in Suid-Afrika, gepaard met die teenwoordigheid van godsdienstige gemeenskappe in bykans elke samelewing, is navorsing in Publieke Teologie baie relevant. Daar is meer kerke in Suid-Afrika as wat daar munisipaliteite, skole, klinieke, voedingskemas of takke van politieke partye is. Die World Values-peiling toon dat Suid-Afrikaners geloofsgemeenskappe en geloofsleiers veel meer vertrou as politieke en sakeleiers.  

Heelwat van wat ek doen, het ten doel om godsdienstige leiers en gemeenskappe te help om daardie vertroue 'waardig' te wees. Die rol wat godsdienstige leiers in die beëindiging van apartheid gespeel het, asook om vir die armes te sorg, ons bevolking op te voed en hoop en ondersteuning in van ons donkerste tye te bied, is inspirerend. Maar ons weet ook van gewetenlose godsdienstige leiers, politici en sakelui wat mense se geloof vir onregverdige en onetiese doeleindes misbruik.  

Godsdienstige leiers, geloofsgemeenskappe, politieke strukture, die media en natuurlik akademici regoor die kontinent en die wêreld gebruik dikwels my eie werk en ons werk in die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie (waarvan ek die direkteur is) om hulle te help om die snypunt tussen geloof en die openbare lewe te verstaan. Ons Gendereenheid (met prof Juliana Claassens as hoof), die Eenheid vir Versoening en Geregtigheid (met prof Christo Thesnaar as hoof) en die Eenheid vir Morele Leierskap (onder leiding van dr Chris Jones), almal in die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie, doen baanbrekerswerk om gemeenskappe in te lig, misbruik uit te wys en individue en groepe te help om meer eties en onbaatsugtig vir die algemene welsyn te leef.  

My werk, asook dié van my kollegas en studente, is al op talle internasionale platforms en in die internasionale media aangehaal en is op voetsoolvlak gebruik om hoop en transformasie aan te moedig, te ondersteun en te inspireer.

Kan jy ons meer oor die impak van jou navorsing vertel?

Ons meet ons impak op twee maniere. Omdat ons ʼn universiteit is wat op navorsing gerig is, meet ons die globale impak van ons werk in Publieke Teologie eerstens wat betref die bydrae wat dit lewer om globale en plaaslike kennisvelde en tasbare aksie te vorm en te beïnvloed. Soos vroeër genoem, duik ons werk (insluitende akademiese boeke en artikels, verslae, werksessies en instrumente) dikwels in internasionale akademiese liggings op en word dit gebruik deur internasionale instellings soos die Wêreldraad van Kerke, die Verenigde Nasies, die Wêreld- Ekonomiese Forum, die G20, ensovoorts. Tweedens meet ons die maatskaplike impak van ons werk aan hoe dit na gemeenskappe uitreik en hulle dien ter ondersteuning van hul pogings om geregtigheid, vrede en die vooruitgang van die mensdom en die skepping na te streef. Ons is baie dankbaar om te kan dien as ʼn Afrika-hub vir Publieke Teologienavorsing, asook vir die ontwikkeling van kursusse, materiale en instrumente.

Ek word dikwels gevra om kommentaar te lewer oor plaaslike en wêreldgebeure wat met godsdiens verband hou. Dit sluit byvoorbeeld in Rusland se bande met die Russiese Ortodokse Kerk of Donald Trump se verhouding met Amerikaanse Evangeliste, Israel se besetting van Palestina en die 'Roe vs Wade'-uitspraak; asook in Suid-Afrika natuurlik die verhouding tussen politiek en godsdiens, byvoorbeeld Jacob Zuma se beroep op godsdienstige retoriek, oud-hoofregter Mogoeng Mogoeng en sy uitsprake oor die Covid-19-entstof en die 'merk van die dier', of pastore wat hul lede besteel en misbruik.

Ek dien ook as ʼn lid van die Wêreld- Ekonomiese Forum se Kennersnetwerk oor Godsdiens in Afrika en die G20 se Tussenkerklike Anti-rassismetaakspan. My navorsing is al deur die BBC, die Verenigde Nasies, die G20, die Wêreld- Ekonomiese Forum en die Afrika-Unie gebruik.  

My boek, The (im)possibility of forgiveness?, het in 2018 die kortlys vir die Andrew Murray/Desmond Tutu-prys gehaal en my artikels in The Conversation is al deur sowat 200 000 mense gelees.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek is uiters dankbaar dat die werk wat ek doen, tot geregtigheid, vrede en die vooruitgang van mense en die skepping bydra. Ons kan dikwels op baie tasbare wyses sien hoe ons werk mense help. Heelwat van ons werk verdiep begrip, skep hoop en rus mense toe om vir geregtigheid te werk.

Ek waardeer ook werklik dat ek oor dissiplines heen kan werk – my vroegste werk was op die gebied van teologie en wetenskap. My eerste PhD het op kognitiewe neurowetenskap, identiteit en Afrika- intersubjektiewe ontologie gefokus. My meer onlangse werk (asook my tweede PhD) hou regstreeks verband met geloof en sosiale identiteit – hoe ons identiteit, geskiedenis en verwagtinge ons politieke en morele oortuigings beïnvloed.

Ek is baie dankbaar dat publieke teoloë dikwels as 'tolke' tussen die akademie en 'voetsoolvlak'-gemeenskappe dien. Ons vind maniere om hoogs tegniese navorsingsbevindings in tasbare instrumente, materiale en kursusse te 'vertaal'. Ons 'vertaal' ook dikwels die bekommernisse, verwagtinge en verbintenisse van 'gewone gelowiges' in die soort tegniese taal wat akademiese teologie nodig het. Ons help om waarde tot akademiese navorsing toe te voeg, asook tot tasbare maatskaplike optrede vir die algemene welsyn.

Die pandemie het die manier waarop ons werk en lewe verander. Wat het jou in hierdie tye gemotiveer gehou?

Ons moes baie meer veerkragtig en kreatief te werk gaan. Ons het byvoorbeeld vir 2020 vier belangrike streekskonferensies oor patriargie, geslagsgebaseerde geweld en godsdiens in die Wes-, Suid-, Oos- en Noord-Kaap beplan. Ons moes maniere vind om hierdie werk toeganklik te maak vir die gemeenskappe wat ons bedien het (waarvan die meeste nie toegang tot rekenaars en die internet gehad het nie). Ons kon deur een van ons Nederlandse vennote (Kerk in Actie) toerusting, voorafbetaalde data, boeke en ander materiale koop om ons vennote te help om in 2020 en 2021 aanlyn toegang te bekom.

Ons het ook ʼn reeks internasionale samewerkende projekte via MS Teams en Zoom van stapel gestuur. Dit het gefokus op kwessies soos geslagsgeregtigheid, Covid-19, godsdiens en politieke populisme. Ons 'vlagskip'-projek oor geloof, ras en ongelykheid onder die Suid-Afrikaanse jeug (wat onderneem is deur my kollega, prof Nadine Bowers du Toit), is deur die Nagel Institute for World Christianity gefinansier.

Ons het voorts geleer om die waarde van ons navorsing te verhoog – ek het dit ook met my eie werk gedoen. Ek het byvoorbeeld ʼn YouTube-kanaal waarop ek kort video's oor aktuele kwessies beskikbaar stel. Maar as ʼn publieke teoloog is ek ook op Facebook, Twitter en Instagram aktief. Ons het voorts in vennootskap met die Lutheraanse Wêreldfederasie, die Berlynse Instituut vir Publieke Teologie by die Humboldt-Universiteit van Berlyn en die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie ʼn globale kursus van 26 episodes oor Publieke Teologie geproduseer. Dit het kwessies gepak soos ekonomiese geregtigheid, intergeloof-ervarings, politieke populisme, geslagsgeregtigheid, die kunste, ensovoorts.

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Ek bestuur nie ʼn kar nie! Ek kán bestuur, maar ek doen dit nie (of in elk geval byna nooit nie)! Ek ry óf op my 20 jaar oue Vespa van Somerset-Wes na Stellenbosch, óf ek trap die 50 km werk toe en terug op my fiets. Dit spruit gedeeltelik uit ʼn diep toewyding tot die verkleining van my koolstofvoetspoor. Maar dit beteken ook dat ek minder geld aan petrol bestee en dat ek ander verdienstelike sake kan ondersteun. Ek het ʼn Brompton-opvoufiets met drie ratte wat 22 jaar oud is en wat ek saamneem wanneer ek reis. Ek trap elke jaar die Kaapstad-fietstoer daarmee, gepak en gedas.

Redelik baie mense volg my op sosiale media – wie weet hoekom? Ek het meer as 5 000 Facebook-volgelinge, meer as 3 000 op Instagram, sowat 2 900 op Twitter en 1 350 op YouTube.  

Hoe bring jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing deur?

Ek is ʼn entoesiastiese (dog stadige) drawwer en fietsryer. Hoe ouer ek raak, hoe meer hou ek van die langer afstande. Ek hou daarvan om marathons en halfmarathons te hardloop. En ek is mal oor bergfietsrenne oor ultra-afstande (soos die Trans-Baviaans van 230 km van Willowmore na Jeffreysbaai).

Ek is ook ʼn gesinsmens en geniet die geselskap van my vrou, Megan, en ons kinders, Courtney en Liam.

  • Prof Dion Forster se intreerede het ook saamgeval met die 10de herdenking van die Marikana-slagting. Hy het ʼn artikel vir The Conversation geskryf waarin hy beklemtoon het dat om ʼn soortgelyke tragedie in die toekoms te verhoed ons ʼn ordentlike samelewing moet bou wat nie mense verneder nie.