Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch-Japan-sentrum bekendgestel
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Daniel Bugan)
Gepubliseer: 17/08/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het die US-Japan-sentrum (USJS), wat ten doel het om ʼn toonaangewende spilpunt vir akademiese navorsing en kulturele uitruiling tussen Suid-Afrika en Japan te wees, amptelik bekend gestel.  

Die USJS is die hoogtepunt van ʼn langdurige samewerking van langer as 20 jaar tussen die US en Japan wat navorsingvennootskapsaktiwiteite betref. Gesprekke oor die vestiging van die USJS het in 2020 begin en in Mei 2022 is ʼn raamwerk vir die totstandbrenging van die Sentrum deur die Rektoraat van die US en die Japanse Ministerie van Buitelandse Sake in Tokio goedgekeur.

Die doel van die USJS is om tot die bevordering van betrekkinge tussen Suid-Afrika en Japan by te dra deur:

  • Japanse studie aan die US te bevorder;
  • Navorsing- en onderrigsamewerking op alle vakgebiede tussen Suid-Afrika en Japan deur bilaterale en multilaterale hoëronderwysnetwerke op ʼn institusionele en nasionale vlak aan te moedig;
  • Opvoedkundige, kulturele en mens-tot-mens gebeure vir die breër gemeenskap aan te bied; en
  • Samewerking met soortgelyke sentrums in Afrika en wêreldwyd.

Die USJS sal ook met die Japanse openbare en privaatsektore in Suid-Afrika skakel om bilaterale en multilaterale akademiese aktiwiteite tussen Suid-Afrika en Japan te ondersteun.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Vise-kanselier van die US, het by die bekendstelling van die sentrum op 11 Augustus gesê die Universiteit sien uit na die skakeling met Japanse belanghebbers in Suid-Afrika, asook om bande met eksterne en kontinentale belanghebbers te versterk. “Die Sentrum sal waarde toevoeg tot ʼn groter begrip, dieper samewerking en langtermyn-vennootskappe van gehalte tussen ons mense.

“Robuuste navorsingsamewerking tussen die US en Japanse universiteite bestaan reeds in wiskundige wetenskappe, chemie, biologie, polimeerwetenskap, ingenieurswese en die breër sosiale wetenskappe. Ons wil dus toesien dat bilaterale betrekkinge in hierdie en ander dissiplines groei en gedy," het hy gesê.

“Hierdie vennootskap met Japan sal ook Suid-Afrika se tegniese en beroepsonderrigdoelwitte help verwesenlik. Ons sukkel benewens ʼn tekort aan werksgeleenthede ook met ʼn vaardigheidstekort en ons moet aktief en verbete leer om nuwe vaardighede te onderrig vir die wêreld wat op ons almal wag," het De Villiers bygevoeg.

Norio Maruyama, Japanse ambassadeur in Suid-Afrika, het gesê hy sien daarna uit dat die Sentrum samewerking oor ʼn wye front fasiliteer, veral op die gebied van wetenskap en tegnologie.

“Suid-Afrika en Japan het ʼn gemeenskaplike belang om op die gebied van wetenskap en tegnologie saam te werk en om sakegeleenthede na te jaag. Ek is oortuig dat die Sentrum ʼn uitstekende platform sal bied om hierdie geleenthede te benut."

Volgens hom is die ligging van die USJS in die Wes-Kaap baie betekenisvol. “Die Wes-Kaap is een van Suid-Afrika se kultureel mees diverse provinsies en die teenwoordigheid van uitstekende wynkelders en wynmakers hier is ook baie belangrik. Talle Japanse wynmakers kan baat by die vaardigheidsontwikkelingskundigheid wat die US bied."

Prof Scarlett Cornelissen van die Departement Politieke Wetenskap is as direkteur van die USJS aangewys. Sy en haar mededirekteur, Sarah van der Westhuizen, sal strategiese rigting en oorsig bied.

Cornelissen, wat ʼn sterk band met Japan het danksy jare lange studies van dié land se kultuur, taal en verhouding met Afrika, het verduidelik hoe die USJS tot stand gekom het. “Ons het nisse van aktiwiteit wat almal met Japan verband hou, by die US opgemerk: mense wat gesamentlike navorsingsprojekte met vennote in Japan doen, studente wat met uitruilprogramme na Japanse universiteite gaan en Japanse studente wat hier by die US vir kursusse inskryf. Ons het besef dit maak sin om al hierdie elemente onder een sambreel byeen te bring en dis hoe die USJS ontstaan het.

“Maar dit gaan oor meer as dit, naamlik om Japan en sy kultuur aan ʼn Suid-Afrikaanse gehoor bekend te stel," het sy bygevoeg.  

Prof Hester Klopper​, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, sê hulle sien baie uit na die werk wat die Sentrum sal lewer, want dit ondersteun baie van dít wat die Universiteit vir sy toekoms in die vooruitsig stel.

“Hoewel ons in Afrika gesetel is, het die Universiteit Stellenbosch 'n wêreldwye reikwydte. Internasionalisering het veral oor die afgelope vier jaar vir ons 'n strategiese prioriteit geword. Dit beteken dat ons die beste studente van regoor die wêreld wil lok, navorsing wil doen wat wêreldwyd 'n impak het en vennootskappe en netwerke wêreldwyd wil bou," sê Klopper. 


Meer oor die USJS

Die USJS is in die Sentrum vir Globale Skakeling by US Internasionaal (in die Krotoa-gebou) geleë. Dit is binne US Internasionaal gevestig om die Sentrum se institusionele reikwydte te verseker, asook breë steun vir akademiese en kulturele aktiwiteite deur die infrastruktuur wat by US Internasionaal beskikbaar is. Dit verseker ook die bou van sterk vennootskappe met Japanse hoëronderwysinstellings op alle studiegebiede.

Die Sentrum is op die volgende vier gebiede aktief:

Navorsing
Dit sluit in om die Wetenskap- en Tegnologiesamewerkingsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Japan en gesamentlike navorsingsoproepe  te bevorder; asook om bi-nasionale en internasionale forums en netwerke te benut om samewerkende navorsing te help fasiliteer.

Onderrig
Dit sluit in die fasilitering van akademiese programme in Japanse studie; kortkursusse oor die Japanse ekonomie, geskiedenis en samelewing; asook Japanse taalstudies. Programme word aangebied deur geleenthede wat deur die Sentrum geskep word en deur toepaslike akademiese departemente.

Personeel- en studentemobiliteit
Dit sluit in die bevordering van bilaterale uitruiling, asook studente- en personeelmobiliteitsprogramme en vennootskappe met Japanse hoëronderwysinstellings. Die Sentrum versprei ook inligting oor Japanse staatsbeurse en onderrig- en opleidingsgeleenthede in Japan.

Skakeling
Dit sluit in die verspreiding van kennis oor Japan en die betrekkinge tussen dié land en Suid-Afrika, asook om openbare lesings, seminare en simposiums aan te bied en akademiese en kulturele netwerkgeleenthede te hou.

Besoek: www.sun.ac.za/japancentre 
E-pos: japancentre@sun.ac.za