Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voldoende toesig oor maatskaplike werkers kernbelangrik vir werksbevrediging, goeie dienslewering
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/08/2022

​Maatskaplike werkers het voldoende toesig in die vorm van voortgesette opleiding en professionele leiding nodig om doeltreffende en voldoende dienste in uitdagende omstandighede te lewer. Ongelukkig is toesig steeds ʼn onderwerp wat te min aandag in bewysgebaseerde beleidsrigtings geniet, al benadruk beleidmakers, praktisyns en bestuurders die belangrikheid daarvan in maatskaplike werk.

“Al heers daar konsensus onder sleutelrolspelers dat toesig van deurslaggewende belang vir doeltreffende dienslewering en die behoud van maatskaplike werkers is, bly die implementering daarvan ʼn uitdaging, veral wat kinderwelsyn betref," sê dr Priscalia Khosa van die Departement Maatskaplike Werk aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy het onlangs haar doktorsgraad in Maatskaplike Werk aan die US verwerf oor die implementering van die Toesigraamwerk vir die Maatskaplike Werkberoep in Suid-Afrika (hierna die “Toesigraamwerk") in ʼn kinderbeskermingsorganisasie in die Wes-Kaap.

Die Toesigraamwerk is in 2012 gevestig en stippel die funksies en metodes van toesighouding uit, asook die rol van toesighouers én diegene oor wie toesig gehou word. Khosa wys daarop dat geen navorsing sedert 2012 oor die implementering van dié raamwerk in verskeie welsynsorganisasies gedoen is nie.

As deel van haar studie het Khosa onderhoude met maatskaplike werkers en toesighouers in die kinderbeskermingsorganisasie gevoer om uit te vind wat hul sienings oor die implementering van die Toesigraamwerk is.  

Sy sê haar bevindings toon dat kwessies soos die tekort aan voldoende opleiding, hulpbronne en strukturele ondersteuning, asook groot werkladings ʼn nadelige uitwerking het op toesighouers se vermoë om doeltreffende toesig te bied.

“Baie klem word op die administratiewe funksie van toesighouding gelê en toesighouers bestee baie tyd daaraan om verslae af te teken, terwyl hulle die opvoedkundige en ondersteunende funksies van toesig afskeep.

“Die ratio van toesighouers teenoor diegene onder toesig is ook oneweredig weens ʼn tekort aan toesighouers. Gevolglik volg hulle ʼn oopdeurbeleid, pleks van die gestruktureerde toesigproses wat in die Toesigraamwerk uitgestippel word.

“Die implementering van die Toesigraamwerk word deur strukturele kwessies in die wiele gery, wat bestuurswese, produktiwiteit en die aftik van boksies bevorder, terwyl die welstand van maatskaplike werkers en toesighouers en hoe hulle hul werkslading hanteer, geïgnoreer word. Maatskaplike werkers moet die ruimte gegun word om oor hul praktyk na te dink en stresvolle situasies in hul interaksie met kliënte te bespreek. Daar is ʼn behoefte aan nadenkende en kliniese toesig."

Khosa sê as hierdie kwessies nie aangepak word nie, sal toesig aanhou fokus op die getal gevalle en nie die gehalte van die werk nie. Sodoende sal in die kaarte gespeel word van die neoliberale diskoers wat voorgestaan word deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, die kurator van die Toesigraamwerk.

“Neoliberale beleide dwing welsynsorganisasies om teikengedrewe te wees en sakebestuurstrategieë toe te pas as hulle volhoubaar wil wees en finansiering van die regering wil ontvang (in hierdie geval die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling). Die nadeel hiervan is dat hulle die opvoedkundige en ondersteunende funksies van toesig verwaarloos."

Die waarde van voldoende toesig moenie onderskat word nie, voeg Khosa by. “Dit bemagtig maatskaplike werkers en moedig hulle aan om hul pligte doeltreffend uit te voer.  

“Dit is nie net praktisyns en diensgebruikers wat by toesig baat vind nie, maar ook welsynsorganisasies wat maatskaplike werkers in diens neem, asook die beroep in sy geheel. Maatskaplike werk as ʼn beroep kan byvoorbeeld deur middel van toesig sy praktykstandaarde in stand hou en professionele etiek onder praktisyns bevorder.

“In die geval van organisasies verseker toesig aanspreeklikheid wat aan agentskapstandaarde van diens en beleide voldoen. In ʼn neutedop is toesig oor maatskaplike werkers een van die sleutelfaktore wat tot werksbevrediging en dienslewering van ʼn hoë gehalte in die praktyk van maatskaplike werk bydra."

Aanbevelings

Gegrond op haar bevindings doen Khosa ʼn paar sleutelaanbevelings wat die implementering van die Toesigraamwerk kan help verbeter.

Sy sê die fokus moet meer op kliniese toesig en minder op ander organisatoriese take wees om toesighouers se administratiewe las te verminder. Dié las is die grootste struikelblok vir gestruktureerde toesig, veral in kinderbeskermingsorganisasies.

“Beginsels, toesighoudende instrumente en tegnieke vir volwasse onderrig moet in die Toesigraamwerk geïnkorporeer word, sodat die fokus op kliniese toesighouding kan wees, eerder as om net boksies af te tik.

“Duidelike riglyne is nodig oor die verband tussen die fases in die toesighoudingsproses, soos die persoonlike ontwikkelingsassessering, die persoonlike ontwikkelingsplan, die toesigkontrak, die werklike toesighoudingsessies en die prestasiebeoordelings.  

“Aanlyn toesighouding moet deeglik ondersoek word om te bepaal of dit dinge makliker vir maatskaplike werkers en toesighouers sal maak om by mekaar uit te kom. Toesighouers en maatskaplike werkers moet beste toesigpraktyke met mekaar deel, omdat dit ʼn bydrae tot spesifieke opleidingsgeleenthede vir maatskaplike werkers en toesighouers in die voorste linies kan lewer."

ʼn Portuurtoesighoudingsmodel kan ook in die Toesigraamwerk ontwikkel word, voeg Khosa by.