Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Triomf vir dr Khosa ná 'PhD-hindernisbaan'
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 07/04/2022

Toe sy haar PhD in Maatskaplike Werk van die Universiteit Stellenbosch (US) gister (6 April) ontvang, het Priscalia Khosa nie net haar akademiese prestasie gevier nie, maar ook haar oorwinning oor etlike persoonlike uitdagings en hindernisse om dié punt te bereik.

Dié ma van 'n 7-, 8- en 11-jarige het haar doktorale studie voltooi terwyl sy ook 'n voltydse akademikus, koshuishoof, en mentor vir haar studente was. En aangesien haar man in Johannesburg na sy sakebelange moes omsien, was alle huishoudelike en – gedurende die streng inperking – tuisskolingsverpligtinge óók haar verantwoordelikheid. “Ek moes eenvoudig ál my rolle na my beste vermoë probeer vervul," sê sy.

Dit was allesbehalwe maklik. As akademikus en mentor, moes sy beskikbaar wees om haar studente te adviseer, en terselfdertyd haar weg baan deur die buitengewone omstandighede wat Covid-19 meegebring het. As koshuishoof van Sonop, die tuiste van sowat 260 vrouestudente, het sy nie net administratiewe verantwoordelikhede gehad nie, maar moes sy ook die inwoners van leiding en emosionele steun voorsien.  

Priscalia en haar kinders het uit Johannesburg, waar die gesin voorheen gewoon het, na Stellenbosch verhuis vir haar PhD, terwyl haar entrepreneurman, Wisani, agtergebly het. Hy het hom vroeër vanjaar by die gesin op Stellenbosch aangesluit. “Ek het in 2019 met my PhD begin. So, terwyl ek nog besig was om my in my nuwe omgewing tuis te maak, het die pandemie ons getref," vertel Priscalia. “Dít het sy eie uitdagings ingehou. Hoewel baie studente die kampus verlaat het, het party in die koshuis gebly. Ek moes daagliks seker maak dat hulle geestelik, fisies en akademies regkom. En ek moes 'n gemeenskapsgevoel skep sodat hulle nooit sou voel hulle is alleen nie."

Die pandemie het ook beteken dat sy haar kinders tuis moes versorg toe die skole gesluit het. “Ek het gedurende die inperking die hele dag drie kinders in die huis gehad. Stil tye vir akademiese werk en toegespitste aandag aan my PhD was bra min," sê sy. “Toe die inperking verslap is, is die kinders al om die ander dag terug skool toe. Om hulle tuis te onderrig en terselfdertyd te probeer tyd maak om aan my proefskrif te werk was besonder uitdagend. Ek het maar so tussendeur probeer inhaal. Ek moes my werksroetine geheel en al verander, en het soms deurnag gewerk, want dit was die enigste stil tyd wat daar was," sê sy. Nietemin het sy veerkragtigheid en ysere wilskrag aan die dag gelê en haar nie van stryk laat bring nie. “Ek het ondanks alles floreer!" glimlag Priscalia.

Vir haar PhD het sy bestudeer hoe 'n aangewese kinderbeskermingsorganisasie die supervisieraamwerk vir die maatskaplikewerkberoep in Suid-Afrika implementeer. Priscalia het al wyd op die terrein van maatskaplike werk gepubliseer, en dien ook as studieleier vir magisterstudente wat geslagsgebaseerde geweld sowel as maatskaplike werk in skool- en mediese omgewings ondersoek. Boonop is sy onlangs as een van twee seminaaruitruilgenote van die Ubuntu-dialoogprojek gekies. Hierdie uitruilprogram tussen die US en Michigan-staatsuniversiteit in die Verenigde State is in 2019 tot stand gebring om brûe te bou tussen Suid-Afrikaanse en Amerikaanse jongmense.

Priscalia, 'n boorling van die Limpopo-platteland, sê sowel haar man as haar ma, Emily, was ware steunpilare op hierdie uitdagende reis. “My man was van die eerste dag af ondersteunend. Hy het verstaan presies hoe moeilik dit is vir 'n vrou om te doen wat ek doen. En my ma het aanhou sê ek slaap nie genoeg nie!"

So, waar het sy die energie vandaan gekry om al haar uitdagings te bowe te kom? “Ek geniet regtig wat ek doen. Elk van my rolle gee my soveel bevrediging. Ja, dit verg fisiese en geestelike inspanning, maar dis alles die moeite werd. Ek reken daarom wat my aan die gang gehou het, was my passie vir wat ek doen."

Fotograaf: Stefan Els​