Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Thuthuka Stellenbosch vier 15 jaar in diens van studente
Outeur: Sybil Smit & Ronél Beukes
Gepubliseer: 04/08/2022

Die Stellenbosch Thuthuka-program, ˈn inisiatief om voorheen benadeelde leerders aan te moedig om 'n loopbaan as geoktrooieerde rekenmeesters te volg, het onlangs sy 15de bestaansjaar by die Universiteit Stellenbosch gevier met ˈn deftige aandete en dans.

Thuthuka is 'n Zoeloe-werkwoord wat "om te ontwikkel" beteken – en dit is die presiese doel van hierdie projek van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAICA).  Met behulp van omvattende ondersteuningsprogramme deur die Thuthuka-beursfonds en die Thuthuka-fonds vir opheffing deur opvoeding het dié Instituut reeds duisende studente gehelp om hul drome te bewaarheid.

Die tema van die gala-geleentheid was Aand by die Oscars. Die gasspreker, mnr Uwais Asmal, 'n alumnus van die US Skool vir Rekeningkunde, het oor sy loopbaan gesels en waardevolle wenke oor studie- en eksamentegnieke gegee. Hy is nou 'n geoktrooieerde rekenmeester en die hoof van adviesdienste by Outsourced CFO. Hy is ook 'n sosiale media-beïnvloeder op platforms soos LinkedIn, YouTube en Clubhouse

Die Stellenbosch Thuthuka-program is in 2007 met 20 studente van stapel gestuur en het só ontwikkel dat dit nou jaarliks byna 100 BRekeningkundestudente van eerstejaar- tot nagraadse vlak insluit. Dit beskik oor drie belangrike komponente om studente te ondersteun, naamlik akademiese ondersteuning; lewensvaardighede (wat in koshuise, en deur middel van werksessies en praktiese werksondervinding by ouditeringsfirmas onderrig word); en diens (as deel van US se gemeenskapsdiensprojekte).

Volgens mev Sybil Smit, dosent by die Skool vir Rekeningkunde, kyk die Skool met groot tevredenheid terug oor die afgelope 15 jaar. "Ons weet dat die Stellenbosch Thuthuka-program 'n verskil in baie studente se lewens gemaak het, asook in die lewens van hul gesinne en gemeenskappe."

“Om te sien hoe die meerderheid van ons studente afgeronde geoktroooieerde rekenmeesters word, maak ons trots en dankbaar om deel van hierdie program te wees," het sy bygevoeg.

  • Ons wil graag vir SAICA, die Universiteit Stellenbosch, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en veral die personeel van die Skool vir Rekeningkunde bedank. Hulle werk almal saam in belang van ons studente om te verseker dat die Stellenbosch Thuthuka-program suksesvol is.

  • Foto: Tweedejaarstudente in Rekeningkunde by die Aand by die Oscars-geleentheid. Om meer foto's te sien, kliek hier​.