Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US bied konferensie oor korporatiewe bestuur aan
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 05/07/2022

Met die King IV-verslag oor korporatiewe bestuur het Suid-Afrika internasionaal erkenning ontvang as 'n leier op die gebied van korporatiewe bestuur. In aansluiting hierby en om hom wêreldwyd as 'n leier op die gebied van korporatiewe bestuursnavorsing te vestig, het die Universiteit Stellenbosch aangekondig dat die Universiteit later vanjaar 'n korporatiewe bestuurskonferensie gaan aanbied. Dit is die eerste keer dat dié konferensie gehou sal word.

Die 2022 Korporatiewe Bestuurskonferensie sal gesamentlik deur die Sentrum vir Korporatiewe Bestuur in Afrika by die Stellenbosch Bestuurskool en die Skool vir Rekeningkunde aangebied word. Die konferensie vind van 12 tot 13 Desember 2022 by die Bellvillepark-kampus in Kaapstad plaas. Suid-Afrikaanse en internasionale deelnemers is welkom en mense wat die konferensie nie van aangesig tot aangesig kan bywoon nie, kan aanlyn deelneem. Die sluitingsdatum vir registrasie is 10 Oktober 2022.

Dr George Nel, adjunk-direkteur van navorsing by die Skool vir Rekeningkunde, verduidelik: “Die konferensie bied 'n uitstekende geleentheid vir navorsers, akademici, belanghebbendes en nagraadse studente om hul navorsing aan te bied, hul ervaring te deel en nuwe en uitdagende kwessies in korporatiewe bestuur te bespreek."

In aansluiting hierby het prof Nicolene Wesson, hoof van die Sentrum vir Korporatiewe Bestuur in Afrika, gesê: “Ons verwelkom referate oor die volgende temas: korporatiewe burgerskap en etiese leierskap; direksies en korporatiewe bestuurskomitees; geïntegreerde verslagdoening, betrokkenheid van belanghebbers, volhoubaarheid en geïntegreerde denke, asook nuwe ontwikkelings in die korporatiewe bestuurslandskap."

Voorleggings van vollengte referate word tot 15 Augustus 2022 aanvaar en voorleggings van referate waaraan nog gewerk word (met 'n maksimum van 1 000 woorde) tot 31 Augustus 2022.

“Hoewel alle vollengte referate kwalifiseer om gedurende die verrigtinge gepubliseer te word, sal 'n seleksie uit die vollengte referate in 'n spesiale uitgawe van die South African Journal of Business Management (SAJBM) ingesluit word. Dit sal op die Web of Science-, DOAU- en SCOPUS-indekse gelys word," het prof Mias de Klerk, SAJBM-hoofredakteur, gesê.

Die hoofsprekers van die konferensie is prof Mervyn King, die beskermheer van die Good Governance Academy en voormalige voorsitter van die King-komitee oor Korporatiewe Bestuur in Suid-Afrika, en dr Nicky Newton-King, voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburgse aandelebeurs. Die eerste konferensiedag sal laatmiddag met die konferensierede en 'n skemerkelkfunksie afskop. Die volgende dag sal 'n vol konferensiedag met genoeg netwerkgeleenthede wees.

Die konferensiefooi is R2 500. Dit sluit spesifieke uitstappies op Sondag, 11 Desember (die dag voordat die konferensie begin) in.