Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Annie Bekker sidder nie vir kreunende skepe en ysberge nie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 02/06/2022

​Prof Annie Bekker van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch het onlangs haar professorale intreerede, getiteld “Wat ons kan leer uit die ritteltits van 'n skip op 'n ysige wraksoektog", gelewer. Bekker het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor haar hoe haar werk op die SA Agulhas II nuwe insigte verskaf oor skeepvaart in die poolstreke.

Vertel ons meer van jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.

My navorsing handel oor die vibrasie van strukture (motors, vragmotors, skepe, ens) en ek geniet veral toetsingenieurswese waar jy by die kern van die bedryfsomgewing kan uitkom om jou sensors vas te plak. Kennis van wat fisiek aan die gebeur is, help om die data-kronkellyne te verstaan wat jy later op grafieke sien. Tans wil ek iets nuuts oplewer deur sensordata direk in ingenieursmodelle te laai om daardeur inligting wat met besluitneming sal help oor bedryfsbate deur digitale tweelingtegnologieë. Ons voer op die SA Agulhas II metings oor die wringkrag (hoeveelheid rotasie) wat in die as is, in 'n model in om die wringkrag wat die propeller gedurende impak met ys gebruik, te bereken. Deur hierdie lading van die impak met die ontwerpbeperking te vergelyk, kan die bemanning sien of die skip gevaarlik na aan sy ontwerpbeperking funksioneer.

My pa, ook 'n meganiese ingenieur, het ons altyd skool toe geneem in die oggend. Hierdie rit was meer soos 'n motorwerkverrigtingtoets wat by my en my broers 'n passie vir motors en voertuigdinamika gekweek het. Vandag is ek en my broers almal meganiese ingenieurs! Ek en my ma het saans musiek geoefen – sy op die klavier en ek op viool. Ons het so baie pret gehad. My ma was 'n dokter – sy was altyd besig om te studeer en te ontwikkel – en het op 50 haar eie mediese praktyk begin. Ek dink dis hoekom ek die vakgebied van klank en vibrasie gekies het met die moed om 'n ernstige loopbaan te volg.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Ons volskaalse bedryfsdata op die SA Agulhas II is die omvattendste oop datastel op 'n skip wat by vaarte in ys betrokke is in die wêreld. Hierdie langtermynoperasies bied nuwe insigte in skeepvaart in die poolstreke. Dit het ons werk aan die voorpunt van propellerladingskatting in ys en die kwantifisering van materiaalverswakking wat deur golwe veroorsaak word geplaas. Verder stel ons doel om die SA Agulhas II as 'n “vlagskip vir vaartuig 4.0" te ontwikkel, ons studente en idees aan werklike uitdagings in die wêreld bloot wat met data- en modelgedrewe tegnieke gepaardgaan om inligting en ondersteuning in besluitneming te bied. Vermoëns in hierdie tegnieke oortref die silo van maritieme toepassing – daarom is ons studente uitstekend opgelei om tot 'n wye verskeidenheid bedryfstoepassing by te dra.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek is deur en deur 'n toetsingenieur. Ek is op my gelukkigste wanneer ek in die veld met metings besig is – veral in die dinamiese en pragtige see-omgewing.

Die pandemie het die manier waarop ons werk en leef verander. Wat hou jou gemotiveerd in hierdie tye?

Die pandemie het my baie meer bewus gemaak van die waarde van mense en menslike kontak. Dit het my ook laat besef dat mense wat werklik vasbeslote is, steeds daarna sal strewe om hul doel te bereik, ondanks uitdagende omstandighede. Gedurende Covid het my navorsingsgroep begin om vir mekaar verjaardagvideo's te maak. Dit het my weer opnuut bewus gemaak van die talentevolle en deernisvolle studente in my navorsingsgroep. Dit gee jou daardie intense motivering om hulle teen negatiewe goed te beskerm en om hulle te help floreer en om hulle aan te moedig in hul studies.

Jy het jou onderskei op die Ingenieursgebied. Wat sal jou boodskap aan die volgende geslag voornemende vroueingenieurs wees?

Dit is jou lewe. Belê in jou opvoeding. Glo in jouself, probeer, probeer weer, moenie opgee nie. Wees honger om te leer, slyp jou vaardighede. Absorbeer alles wat positief is rondom jou. Vind mentors. Aanvaar verantwoordelikheid. Bons terug ná mislukking. Vier sukses. Wees dapper. Droom.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sal verwag nie.

Ek is 'n ma van drie kinders. Ek is baie lief vir viooIspeel en geniet dit om op veldpaaie te draf. As ek nou 'n ander droom buiten ingenieurswese moes nastreef, sou ek probeer om 'n rap song te skryf en uit te voer. So wees versigtig, Jack Parow!

Hoe bestee jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing?

Ek en my gesin geniet die buitelewe. Ek gaan hardloop so ver en so dikwels as ek kan in die berge.