Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Sean Surmon
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/05/2022

As Maties Sport se adjunkdirekteur van Hoëprestasiesport, is Sean Surmon passievol daaroor om studente-atlete hulle sportdoelwitte te help bereik.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Sean, wat al 11 jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) is, het ons vrae oor sy werk beantwoord.

Wat behels jou rol by die US?

Ek lei en bestuur die Hoëprestasie- (HP-)program by Maties Sport. Die program bestaan uit agt hoëprestasiesportklubs (sowat 350 studente-atlete) en die HP-eenheid (11 personeellede), 'n toegewyde dienseenheid om dié sportsoorte te ondersteun. Ons HP-dienste word gelewer deur krag- en kondisioneringsafrigters, wat 'n mandaat het om prestasieverbeteringsprogramme te implementeer in samewerking met die hoofafrigters sowel as bykomende diensverskaffers soos prestasiesielkunde en Maties Gimnasium. En dan word ons aanbod natuurlik ook deur wêreldklassporttegnologie ondersteun.

Die HP-eenheid is daartoe verbind om studente-atlete se sporttalent deur bewysgegronde programme en professionele dienste te ontwikkel. Dit funksioneer binne 'n sporttalentontwikkelingsraamwerk. Die drie kerngebiede waarom ons daaglikse werk draai, is geïntegreerde geneeskunde en wetenskap, werwing en behoud, en die PACER-program waarmee ons studente-atlete holisties ontwikkel en ondersteun.

My verantwoordelikhede sluit in strategiese leierskap, bedryfs- en finansiële bestuur, gehalteversekering van prestasieplanne, en deelname aan die senior bestuurspan onder leiding van Ilhaam Groenewald, hoofdirekteur van Maties Sport.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Ek gaan draf vroeg soggens en laai dan die kinders in die Paarl by die skool af. Daarna ry ek deur Stellenbosch toe, en soms het ek sommer op pad daarheen al virtuele vergaderings.

Wanneer ek by die werk aankom, loer ons almal by mekaar in en kry ons koffie-inspuiting vir die dag. Daarna bestaan my dae uit vergaderings met my personeel, sportbestuurders en/of hoofafrigters oor prestasieplanne, wedstrydvoorbereiding, begrotings, of langtermynbeplanning vir die volgende seisoen. Daar's ook kantoorgebonde pligte soos begrotingsbeplanning, en die bestuur van maandelikse betalings vir dienste wat uitgekontrakteer is aan interne en eksterne diensverskaffers soos Maties Gimnasium, die Kampusgesondheidsdiens, chiropraktisyns, sielkundiges, radiografiste, ensovoorts. 

Ek besoek gereeld die klubs om die praktiese lewering van ons program en oefensessies te beoordeel. Ander elemente van my werk sluit in evaluering, monitering en verslagdoening oor alle kerngebiede van die HP-program, en toesig oor die sportbeurse en prestasiebeoordelings van onderskeidelik ons studente-atlete en hoofafrigters. Waar dit ook al moontlik is, verkies ek om stap-stap te vergader, want so kom 'n mens sommer ook bietjie uit die kantoor.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Ek het my graad in Sportwetenskap in 1995 verwerf, gevolg deur my honneurs in Biokinetika in 1997 en my magister in 2000. Ek was van 2000 tot 2009 'n deeltydse Sportwetenskapdosent. Na my magistergraad het ek privaat begin praktiseer en my eie onderneming as 'n biokinetikus en krag- en kondisioneringsafrigter begin. Ek het ook vir verskeie maatskappye en sportinstellings op hierdie gebiede gewerk. Ek was bevoorreg om sedert 1997 onder meer met Paralimpiese en Olimpiese atlete, Span Suid-Afrika vir die Afrikaspele én met Bafana Bafana te kon werk. Ek het my nog nooit aan net een sport gebind nie. En ek dink dís wat my toegerus het met die vaardighede om nou met agt verskillende sportsoorte te kan werk.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

My rol is divers, met vele aspekte wat deurlopende kreatiwiteit verg om te ontwikkel, een tree voor te bly en prestasie te verbeter. Maar wat ek die meeste geniet, is die reis en die proses. Ek geniet dit om met mense te werk en langtermynverhoudings te bou, om te sien hoe personeel groei en ontwikkel, en om deel te wees van 'n span wat 'n verskil maak in die lewens van ons studente-atlete en afrigters.

​Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Nadat ek as kind elke moontlike sportsoort op die proef gestel het, het ek uitgeblink in gimnastiek, paalspring en rugby, maar ek was ook deel van my hoërskool se dramaklub en konserte.