Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Juanli Theron
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 25/05/2022

As hoof van die Tolkdiens by die Universiteit Stellenbosch (US) Taalsentrum, vervul Juanli Theron en haar span 'n kernrol om meertaligheid by ons universiteit te bevorder en te fasiliteer.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Lees verder vir ons onderhoud met Juanli.

Wat behels jou rol by die US?

Ek staan aan die hoof van die Tolkdiens by die US Taalsentrum. Ek is in 2011 van die Noordwes-Universiteit na die US gesekondeer met die opdrag om 'n opvoedkundige tolkingsprojek in die Fakulteit Ingenieurswese te implementeer. 

Ek is in 2013 op 'n kontrakgrondslag by die US aangestel om die uitbreiding van die projek te koördineer en het met die amptelike totstandkoming van die US se Tolkdiens in 2014 die koördineerder van die diens geword. Die Tolkdiens is verantwoordelik vir opvoedkundige en konferensietolking in Engels, Afrikaans, Xhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Ons voorsien ook oudiovertalings van lesingopnames en ander mondelinge taaldienste – tans meestal aanlyn as gevolg van Covid, maar ons keer stelselmatig terug na kontakaktiwiteite.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

My werk behels gewoonlik die daaglikse bestuur van my span, die soeke na oplossings wanneer tolkingsverwante tegniese of logistieke uitdagings opduik, vergaderings, e-posse, en nóg e-posse. Ek tolk ook self 'n paar lesings saam met my span, en is altyd op gereedheidsgrondslag om te help. Ek het 'n ongelooflike span bekwame portefeuljekoördineerders, oor wie ek toesig hou na gelang van wat nodig is.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei? 

Ek was nog maar 'n eerstejaar in Tale en Letterkunde aan Noordwes-Universiteit toe ek by tolking op kampus betrokke geraak het. Benewens my studie en deelname aan kampuskultuur, het ek daagliks 'n hele paar lesings ook getolk. 

Ek het elke oomblik geniet, en toe ek gradueer, het ek 'n formele aanstelling ontvang om op groter skaal aan te hou tolk. Toe Noordwes-Universiteit my Stellenbosch toe stuur om die projek hier te kom begin, het iets net reg gevoel. Omdat ek die Tolkdiens uit niks help opbou het, het my rol die afgelope dekade aansienlik ontwikkel, en ek was bevoorreg om te kon beleef hoe my span groei tot waar ons nou is.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Om te weet dat wat ons doen 'n verskil maak – aan meertaligheid, aan kampuskultuur, en aan die opvoeding van die studente vir wie ons tolk – is werklik bevredigend. Elke keer as ons 'n dankie of 'n kompliment kry, ongeag hoe klein, is dit lewensbevestigend vir my en my span.

Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Wanneer ek nie werk of my twee kinders versorg nie, skryf ek en leef my kreatiwiteit op sosiale media uit. My eerste boek, Meer As Net 'n Ma, wat ek saam met my vriende van Die Naguilklub geskryf het, het in November 2021 by NB Boeke verskyn. My gunstelingtydverdryf is om op 'n inspirerende/vermaaklike manier oor die beproewings van ons onvolmaakte lewe te skryf.

​Fotograaf: Stefan Els