Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Melany le Roux
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 24/05/2022

Melany le Roux is die Universiteit Stellenbosch (US) se bestuurder van Sekuriteitstelsels en Intelligensie by Kampussekuriteit. Sy en haar span werk onverpoosd om die kampusgemeenskap met enige sekuriteitsverwante sake te ondersteun.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Lees gerus ons onderhoud met Melany hieronder.

Wat behels jou rol by die US?

My rol is om te sorg dat sekuriteitstelsels optimaal werk en sekuriteitsbedrywighede by die US ondersteun. 

Ek bestuur 'n span van tien spesialiste wat aan die voorpunt  van sekuriteitsbedrywighede en kliëntediens werk. Ek is 'n spanleier, so ek werk hard om my span te motiveer. Ek moedig hulle aan om voorstelle te maak en te sorg dat ons op hoogte bly van die jongste tegnologie en sekuriteitstendense. Ek vervul ook 'n intelligensierol. 

Daarvoor sorg ek dat statistieke bygewerk is en ontleed ek ons data om tendense vir bedryfsbeplanningsdoeleindes te identifiseer. Boonop sluit my portefeulje kommunikasie en veiligheidsbewusmaking in. Ek kommunikeer gereeld met alle US-sekuriteitsrolspelers (beide intern en ekstern) en die studentegemeenskap, wie se veiligheid ons topprioriteit is, en ontwikkel en handhaaf positiewe werksverhoudinge met alle belanghebbendes.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

By Kampussekuriteit kan jy jou dag beplan, maar dit verloop selde soos jy dit beplan het! In hierdie omgewing moet jy altyd voorsiening maak vir die onvoorsiene en gereed wees om op enige uitdaging te reageer en gepas op te tree. Ek ken nie so iets soos 'n agt uur lange werksdag nie; dit is 24 uur 'n dag, sewe dae 'n week. Indien enige sekuriteitsnoodgeval ontstaan, word ek vir leiding en bystand gekontak.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei? 

Ek was eers 'n beampte in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Twaalf jaar gelede het die geleentheid hom voorgedoen om vir die pos van misdaadintelligensiebeampte by Kampussekuriteit  aansoek te doen. My jare lange ervaring in die SAPD-intelligensieomgewing was een van die vereiste vaardighede op grond waarvan die US my aangestel het. Ek is in 2019 tot my huidige pos bevorder. Ek het 'n BA-graad in Kriminologie verwerf, en ek werk tans aan my honneurs.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Die onvoorsiene daaglikse uitdagings – nes jy dink nóú't jy als gesien, het jy juis nie. Dit skep 'n mate van opwinding vir elke werksdag. Om ander te help was nog altyd my missie in die lewe. Kombineer dít met my passie vir veiligheid, en dit lyk of ek dalk net in die regte pos is! Die US se diverse gemeenskap stel my in staat om die mense-mens te wees wat ek werklik is. Ek geniet dit om met personeel en studente op kampus te skakel en te gesels.

Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Ek het al heelwat uitdagings in my lewe ervaar en te bowe gekom, waarvan borskanker die moeilikste was. Dit was 'n reis van hernude selfontdekking en groter veerkragtigheid, en het my anders na die lewe laat kyk. Ek leef nou in geloof en in die oomblik.