Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vakkundiges bepleit terugkeer van objekte uit Afrika in Westerse museums
Outeur: University Museum
Gepubliseer: 20/05/2022

Vakkundiges bepleit terugkeer van objekte uit Afrika in Westerse museums

​Restitusie – die teruggawe van verlore of gesteelde items aan ʼn regmatige eienaar – was sentraal tot ʼn bespreking getiteld Afrika‑museums: Die kwessie van die museum en die nasionaal wat op 12 Mei deur die Universiteit Stellenbosch Museum aangebied is.

Tydens die gesprek, wat via Microsoft Teams aangebied is, is Westerse museums wat artefakte en kunswerke uit Afrika vertoon of berg, met misdaadtonele vergelyk. Vakkundiges het bepleit dat argiewe by hierdie museums oopgestel word en die artefakte of kunswerke terugbesorg word aan hul land van herkoms.

Malik Al Nasir, ʼn PhD-kandidaat aan die Fakulteit Geskiedenis by die Universiteit van Cambridge, het ʼn sleutelpunt aan die paneel wat die bespreking aangebied het, gestel. “Ons weet nie wat in hierdie museums hier in die Weste is nie," het Al Nasir uit die Verenigde Koninkryk opgemerk. “En dit is in wese ʼn misdaadtoneel omdat dit gebou is op slawerny en kolonialisme. En baie van ons in die diaspora word van ons geskiedenis in hul argiewe ontneem.

“Hulle [museumkurators in die Weste] besluit wat nagevors, geïndekseer, gekatalogiseer en vertoon word. En baie van die dinge geassosieer met ons geskiedenis deur slawerny en kolonialisme, word geheel en al geïgnoreer. Baie daarvan word nie eers gekatalogiseer nie. Om dit te verander, moet ons toegelaat word om ons eie mense na daardie argiewe te stuur – omdat die gesprek oor vergoeding en restitusie slegs kan plaasvind gebaseer op wat ons weet hulle het."

Een van die drie paneellede wat deelgeneem het aan die gesprek, Ciraj Rassool, senior professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het gereageer: “Jy is heeltemal reg. Ons moet met hierdie museums in verbinding tree deur konfrontasie, deur kollegialiteit, deur eksperts te word van hul versamelings en hulle te help deur hul debatte. Een van die belangrikste dinge [is dat] ons alliansies moet vorm met aktiviste aan daardie kant. Aktiviste in Brittanje, Frankryk, België, Nederland en Duitsland. Ons moet weet wie ons strydgenote is, want dit gaan daaroor om ʼn internasionale beweging te bou wat sal geboorte gee aan ʼn nuwe museumkunde."

Rassool is ʼn hoofnavorser vir die internasionale projek, Action for African Cultural Restitution (AARC), wat gemoeid is met museums en restitusie. Hy het bygevoeg: “Daar is nie ʼn enkele model vir hoe ons restitusie kan aanpak nie. Daar is sommige museums in Brittanje wat verder gevorder is in hul denke. Party museums in Skotland, […] kleiner museums, het hul bereidwilligheid tot restitusie getoon. Daar is selfs reparasies wat betaal is. Dit is dus moontlik.

“Maar oor die algemeen is die Verenigde Koninkryk uiters weerspannig. Dink net, ek – 'n museumkundige – kon nie na Brittanje gaan om die groot Oceania-uitstalling, ʼn belangrike oomblik in die veld van museumtransformasie, te besigtig nie. Ongelukkig het ek nie ʼn visum gehad nie. En ʼn Britse visum is gewoonlik duur en baie ingewikkeld om te kry. Ons is gedurig besig om ons mobiliteit te onderhandel om te kan deelneem aan hierdie kwessies.

Ook op die paneel was Keniaanse argeoloog en erfenis-ekspert Professor George Abungu, voormalige direkteur van die Nasionale Museums van Kenia.

“Op ʼn sekere stadium moet ons miskien ophou om die kwessie van restitusie so baie te intellektualiseer en dit dalk net prakties maak," het Abungu gesê. “Ek dink nie ons moet die Weste help deur te bevraagteken waarheen ons hierdie erfenis gaan neem nie. As ons dit in die see gooi, dan is dit ons eie probleem. As ons dit terugneem na die woud en dit begrawe, dan is dit ons eie probleem. En die rede waarom ek dit sê, is omdat hierdie dinge nie geneem is as donasies nie. Dit is geneem onder baie wrede en gewelddadige omstandighede, insluitend tydens slawehandel en kolonialisme. Dit was uitbuiting."

Abungu het beklemtoon dat nie net museumargiewe nie, maar alle argiewe in die Weste oopgestel moet word. “Ek dink ons moet hierdie materiaal terugneem, nie slegs vir emosionele redes nie," het hy gesê. “Sommige van hierdie materiale sal die mag hê om ons kunstenaars te inspireer om te skep. Mense soos Picasso was geïnspireer deur kuns uit Afrika. Waarom kan ons nie hierdie goed na die kontinent bring om die mense van Afrika in Afrika te inspireer nie?

“Om hulle te inspireer om kreatief te wees, om te werk met hierdie materiaal, [om in] gesprek te tree met hierdie materiaal, om nuwe skeppings te skep deur hierdie materiale. En om geld te maak vir ons mense wat …steeds in volslae armoede leef as gevolg van slawerny en kolonialisme. Ek dink dus ons moet verder dink as om net goed en gelukkig te voel om hierdie items terug te neem. Ons moet regtig sien wat ons uit hierdie materiaal kan put as deel van die inspirasie van ʼn nuwe generasie."

Die derde panneellid, Professor Peter Probst, professor in Kuns- en Argitektuurgeskiedenis aan Tufts Universiteit in Massachusetts in die Verenigde State, het verwys na die Franse President, Emmanuel Macron, se bekende 2017-toespraak in Ouagadougou, die hoofstad van Burkina Faso. In die toespraak het Macron die feit bekla dat baie van Afrika se kulturele erfenis in die hande is van Europese versamelaars en museums, en bepleit dat dit terugbesorg word aan Afrika. “Die tema van repatriasie en restitusie duur al dekades lank voort. Maar hier het dit ʼn nuwe onmiddellikheid verkry," het Probst gesê.

In refleksie oor hoe museums in Afrika ontstaan het, het Abungu gesê dat hulle grotendeels gestig is deur kolonialiste vir koloniale doeleindes. Later, na onafhanklikheid, moes mure afgebreek word om plek te maak vir ʼn manier van dink eie aan Afrika. 

Abungu het gesê dat veranderinge by die Nasionale Museums van Kenia – tans met 1 050 personeellede wat 80 PhD's insluit – in die 1990's begin het.

“En so baie museums in Afrika was basies transitopunte waar materiale wat uit Afrika versamel is gestoor is, terwyl die beste materiale na die noorde geneem is, en veral na die Weste. Natuurlik het die nuwe regerings na onafhanklikheid besluit dat hulle die museums nasionaal wou maak, sodat hulle ʼn nasie kon skep deur die museum. Die plan was vir museums om die kwessies aan te spreek wat die mense van die nasie raak – byvoorbeeld, kwessies soos konflikoplossing."

Rassool het bygevoeg dat die kwessie van ʼn nasionale museum belangrik is. “Dit is iets wat ʼn teëwig moet vorm teen dit waaraan ons slegs as die 'staatsmuseum' kan dink," het hy gesê. “Nuwe nasionale museums moet uit ou, verdeelde, afgesonderde, koloniale versamelings geskep word …"

 ​​