Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ontsteld oor beweerde verkragting op Stellenbosch-kampus
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 19/05/2022

​Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) het met groot ontsteltenis kennis geneem van 'n beweerde verkragting op die Stellenbosch-kampus.

Die Rektor en bestuur van die Universiteit veroordeel alle vorme van misdaad en enige skending van menseregte, waaronder geslagsgebaseerde geweld, ten sterkste. Die Universiteit het onmiddellik daad by die woord gevoeg wat ondersteuning aan die slagoffer betref, sowel as ten opsigte van die ondersoek en tugproses. Daar is hoegenaamd geen plek in ons samelewing of op ons kampusse vir enige dade van geweld nie. Ons harte gaan uit na die slagoffer van die beweerde verkragting.

Die Universiteit loof die spoedige optrede deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die beweerde oortreder, 'n student van die US, is gisteroggend deur die SAPD in hegtenis geneem. In ooreenstemming met die US se gevestigde prosedures en protokolle, sal die Universiteit die beweerde oortreder uit sy koshuis skors, hangende verdere interne en kriminele ondersoeke deur wetstoepassingsowerhede. Hierdie aangeleentheid is nou 'n kriminele saak en die wet moet sy verloop neem.

Die slagoffer is tans veilig en ontvang versorging. Sy het gister 'n klag van verkragting teen die oortreder by die SAPD aanhangig gemaak. Die SAPD het haar na die Stellenbosse provinsiale hospitaal vergesel waar sy ondersoek is en ook die nodige medikasie, sorg en primêre berading ontvang het.

Die slagoffer het nog nie die voorval by die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid aangemeld nie, maar sy is van inligting voorsien oor die verskeie maniere waarop so 'n voorval intern by die US aangemeld kan word. Sy sal hierin bygestaan word. Die Universiteit respekteer die wense en besluite van die slagoffer.

“Ek bevestig die Universiteit se streng benadering tot geen-verdraagsaamheid wat geslagsgebaseerde geweld betref," sê prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake.

“Nes my kollegas in die Rektoraat, is ek persoonlik ten diepste verbind tot hierdie saak. In pas met ons Beleid vir Onbillike Diskriminasie en Teistering, sal ons steeds harder werk om 'n omgewing te skep wat vry is van geslagsgebaseerde geweld en om gelyke regte vir almal te bevorder. Menswaardighed moet en sal altyd ononderhandelbaar wees by die Universiteit Stellenbosch. Menswaardigheid moet gerespekteer en bevestig word, maar ook herstel word wanneer daarop inbreuk gemaak is, ongeag die oortreding en sonder enige vrees vir of beskerming van die beweerde oortreder," sê prof Klopper.